Padtoets: Kia Cerato Koup 1.6 T-Gdi

Kia se Koup 1.6 T-Gdi laat die hart warm klop

Met die bekendstelling van Kia se Koup 1.6 T-GDi is die driemanskap met die Cerato sedan en die vyf-deur luikrugmodel voltooi en het Kia dan ook ‘n belangrike leemte in hierdie modelreeks gevul.  Die Kia motormaatskappy het, veral oor die laaste dekade, sy teenwoordigheid in Europa, die VSA en ook hier te lande in min of meer al die motorsegmente deeglik laat geld.

Maar dit was asof daar altyd van Kia verlang is om met ‘n model te voorskyn te kom wat die persepsies van “niks besonders” nie sou  omkeer.  Met die bekendstelling van die Koup het Kia hierdie persepsie nie net dramaties verander nie, maar ook ‘n sportiewe model bekend gestel wat nie net die oog vang nie maar wat ook daardie kriewelrige lekkerkry van turbo-krag tuisbring.

Die Koup 1.6 T-GDi is nie ‘n supermotor wat die werkverrigting en spoeduitset van byvoorbeeld Ford se Focus ST het nie, en is ook nie ‘n sportmotor in die ware sin van die woord nie, maar het meer as genoeg om die lyf (en binne in die lyf by wyse van spreke) om bewondering en ‘n tweede kyk te ontlok.  En wees verseker, die Koup is met sy sportiewe lyne en sy turbo-aangejaagde 1.6 liter enjin daartoe in staat om deeglik aan die verwagtinge van sulke nuuskieriges te voldoen.

Kia se hoofontwerper, Peter Schreyer, het beslis sy huiswerk gedoen toe hy besluit het om die skerp lyne van die vorige model Koup met ‘n meer geronde voorkoms te vervang.  Daarby is die nuwe Koup langer, wyer en groter as sy voorganger.  Koolstofafwerking aksentueer die breë lugdam voor wat deur die donker sierrooster verdeel word en sodoende ‘n sportiewe voorkoms aan die Koup besorg.  Pilaarlose deure (onthou die Koup is soos sy naam aandui ‘n koepee), glans swart spieels en die 18dm allooi wiele rond die aggressiew voorprofiel van die Koup netjies af.

Skuif jy agter die stuurwiel in om die Koup deur sy passies te neem is die eerste gewaarwording, veral vir die langer bestuurder, dat kopspasie ‘n probleem kan wees.  En die sitplekke voor is wel inderdaad ietwat hoog gemonteer, maar daarvoor word vergoed deurdat die sitplekke vertikaal te kan verstel.  (Vir die superlanges bied die oopskuifbare sondak dalk ‘n ekstra opsie!)  Die in-leer- afgewerkte sitplekke bied gemaklike ondersteuning aan die bestuurder en passasier.  Terwyl die bestuurder sy sitplek en stuurwiel optimaal verstel na gelang van sy behoefte, hom op die aanraakskerm vergewis het van geen obstruksie as hy op trurat inskakel nie, kom twee klein maar belangrike punte na vore wat by baie luukse modelle soms groot bronne van frustrasie kan wees.  Dit behels by die Koup:  koppelstukke van die veiligheidsgordels is verleng sodat die bestuurder nie sy bladspiere hoef te skeur om dit by te kom nie, en die aan- en afskakelknop is maklik sigbaar en bereikbaar regs van die stuurwiel op die instrumentepaneel aangebring!  Weereens nie nodig vir die bestuurder om halfpad onder die stuurwiel in te kruip om die ontstekingslot by te kom nie.  Klein klippies in die skoen wat Kia met die Koup vermy het maar wat tog hinderlik is by soveel hedendaagse modelle.

Die Kia Koup 1.6 T-Gdi se turbo-aangejaagde aluminium-enjin vorm ‘n opwindende kombinasie met sy sesgang ratkas en sorg vir ‘n versnelling van 0 tot 100 km/h in slegs 7.4 tot 7.7 sekondes met ‘n top snelheid van 222 km/h. Kraglewering beloop 152 kW teen 6 000 r/pm en  wringkrag is ‘n uiters indrukwekkende 265 Nm teen 4 500 r/pm.  Die Koup is beskikbaar in beide handrat- en outomatiese modelle.  Die dubbeluitlaatstelsel is sodanig ontwerp dat dit ‘n vryvloei van gasse bied en tussen 1000 en 4000 opm ‘n baie sportiewe grom laat hoor.  Buitengewone hoë ratio-verskille tussen top en lae ratte sorg vir beide verlaagde brandstofgebruik en laer CO2 gasuitlaat.  Kia maak aanspraak op ‘n uiters ekonomiese 7,2 liter/100km brandstofverbruik vir die Koup.

Ook die veiligheidsaspekte van die Koup het by die ontwerpers hoë voorrang geniet.  Die ABS-remstelsel word deur elektroniese remkragverspreiding (EBD) ondersteun om sodoende maksimum stopkrag te verseker.  Kia ingenieurs het die bakwerk van die Koup verstewig en versterk deur ‘n tegniek te gebruik waar staal tot 900ºC verhit word en dan afgekoel en gekompakteer word wat benewens algemene versterking en stewigheid ook padhouvermoe en stuurpresisie verhoog sonder om ekstra gewig by te voeg.

Aktiewe veiligheids tegnologie sluit in kopruste, ses lugsakke, Isofix kindersitplekankers, elektroniese stabiliteitsbeheer, rembeheer teen steiltes, sensors voor en agter, HID Xenon hoofligte met LED dagligte asook LED misligte.

Die nuwe Kia Cerato Koup is nie bedoel om ‘n sportmotor met hoe werkverrigting te wees nie, maar eerder ‘n veeldoelige motor vir die gemiddelde man wat ‘n motor met sportiewe lyne en daai ekstra oemf soek maar wat tog ook aan die familie genoeg pakruimte sal verskaf.  In die Koup se prysklas is daar weinig kompeteerders wat in hierdie verband saam met hom kan gesels.

Die Kia Koup weeg in teen N$334 995 (handrat) wat ‘n diensplan van 5 jaar/90 000 km en ‘n waarborg van 5 jaar/150 000 km insluit.

Leave a Comment