In ‘n Klas van sy Eie
Met die onlangse bekendstelling deur Mercedes-Benz Suid-Afrika (MBSA) van sy nuwe C-klas modelle, wat plaaslik gebou word, het Mercedes se ingenieurs weereens bewys dat hulle nie skroom om bestaande grense te toets en die doelpale te verskuif nie.
Wat betref tegnologie, meganika, luuksheid, veiligheidsaspekte, styl en afwerking het hierdie vervaardiger met die nuwe C-klas reeks standaarde oor die breedste spektrum van motorwese gestel wat moeilik oortref sal kan word.
Mercedes se ingenieurs en ontwerpers se strategie met die nuwe C-Klas was werklik gemik op omvattende verbeteringe op sowel die praktiese as die estetiese en nie net op die kosmetiese komponente van die vorige C-Klas nie. Dit is in teenstelling met, wat heel dikwels die geval is, by sekere vervaardigers met die bekendstelling van ‘n “nuwe” uitgawe van ‘n bestaande model.
Met die vernuftige en innoverende aanwending van ‘n kombinasie van aluminium en staal is die nuwe modelle se algehele gewig met tot 100kg verminder wat die nuwe C-Klas die leier in die liggewigafdeling van sy segment maak. Die aluminium komponent in die algehele ontwerp van die nuwe modelle is dan ook van 10% na 50% verhoog sonder om afbreuk te doen aan uitstekende padhouvermoë en veiligheidsaspekte. Daaraan is uit die aard van die saak ook veelvuldige voordele gekoppel, onder andere ‘n 20% verbetering in brandstofverbruik.
Mercedes se futuristiese benadering dat mense oor die algemeen neig om groter afmetings aan te neem (hetsy in lengte of gewig) het daartoe gelei dat die nuwe C-Klas modelle dienooreenkomstig aangepas is. Die wielbasis is byvoorbeeld met 80 mm vermeerder met die gevolg dat die C-Klas nou 95 mm langer en 40 mm breër is as die vorige model. Die gevolg is dan ook meer binneruimte vir insittendes en ‘n bagasiebakruimte wat tot 480 liter vergroot is.
Wat die voorkoms en aansig van die nuwe C-Klas betref was ‘n moderne estetiese benadering die inspirasie vir die ontwerpers en het hulle uitmuntend daarin geslaag om die nuwe modelle se ontwerplyne harmonieus en dinamies te laat saamsmelt in ‘n sportiewe eenheid. Verder het die ontwerpers ook ‘n ietwat nostalgiese keuse aan die voornemende koper oorgelaat waar daar ‘n keuse gemaak kan word aan die plasing van die bekende driepuntster, naamlik of in die middel van die sierrooster of anders dan in die klassieke posisie van bo-op die enjinkap.
Die vier modelle wat vanaf einde Mei en begin Junie in die handel beskikbaar gaan wees is toegerus met enjins met kraglewering wat wissel tussen 115 tot 155 kW. Dit sluit in drie petrolmodelle waaronder die C180, die C200 en die C250, almal toegerus met BlueEFFICIENCY tengologie en die een dieselmodel, die C 220 BlueTEC. MBSA hoop om teen September vanjaar ook die C250 BlueTEC en in Junie volgende jaar die C300 BlueEFFICIENCY aan die Suid-Afrikaanse mark bekend te stel.
Die BlueDIRECT tegnologie van Mercedes se V6 en V8 modelle is nou ook na die viersilinder petrolenjins van die nuwe C-Klas oorgedra en behels die elektroniesbeheerde proses van direkte en presiese veelvuldige brandstofinspuiting. Daarmee word ‘n nuwe sesspoed ratkas vir die C180, C200 en die C220 BlueTEC gekombineer. Die 7G-TRONIC PLUS outomatiese ratkas is standaard kenmerk van die C 250 BlueEFFICIENCY.
Die nuwe C-Klas is ook die eerste motor in sy segment wat nou ook as opsie met ‘n luggeheerde onderstel op beide die agter- en vooraste aangebied word, of soos dit bekend staan, die AIRMATIC sisteem. Daarby kan die bestuurder kies tussen ‘n “Comfort”, “ECO”, “Sport” en ‘n “Sport+” bestuursmodem afhangende van sy persoonlike keuse. Sluiting van die handrem is elektronies en outomaties in die geval van stop of wegtrek. Bogenoemde is maar slegs enkele van die vele bystandsisteme wat die C-Klas bied en wat wat slegs onlangs deel van die S-Klas en E-Klas se standaard kenmerke geword het.
Kameras aan die C-Klas modelle bied 360° dekking van die voertuig se virtuele omgewing wat hoogs gevorderde tegnologie in staat stel om die voertuig as’t ware op koers te hou en om outomatiese veiligheidsmaatreels te tref om enige vorm van botsings te verhoed. Die C-Klas se COLLISION PREVENTION ASSIST PLUS sisteem sal byvoorbeeld ‘n outomatiese remsisteem tot op ‘n spoed van tot 70 km/h in werking stel in geval van ‘n moontlike botsing met stadig bewegende of voertuie wat gaan stop. Die sisteem reageer ook outomaties in geval van stilstaande voertuie tot op ‘n spoed van 50 km/h. Sou ‘n bestuurder onwetend uit sy rylaan uitbeweeg sal remme aan daardie kant geaktiveer word om ‘n botsing van voor of met vinnige voertuie van agter te verhoed.
Ruimte ontbreek om reg te laat geskied aan die uiters gevorderde tegnologie en verbeteringe wat Mercedes Benz in sy C-Klas modelle aangebring het om veilige en gerieflike rygenot met hoë werkverrigting te kombineer. Wat verseker is, is dat Mercedes in hierdie opsig standaarde gestel het wat groot uitdagings aan mededingers gaan stel.
Soos met al Mercedes-Benz se passasiersmodelle kom die nuwe C-Klas as standaard met ‘n 6jaar/100 000 km onderhoudskontrak met geen bydrae deur die koper nie en met die opsie om dit te verleng.
Pryse is as volg [Junie 2014]
C 180 BlueEFFICIENCY N$415 900
C 200 BlueEFFICIENCY N$436 600
C 250 BlueEFFICIENCY N$502 600
C 220 BlueTEC N$459 000 * vrygestel van CO2 belasting – 113 g/km