Padtoets: Mini Cooper S Countryman

Mini Cooper S Countryman onder die soeklig

Met die ontwerp en die bou van die eerste Mini op 26 Augustus 1959 was die gedagte dat dit ‘n bekostigbare motor met genoeg ruimte vir vier passasiers moes wees maar dat dit ook ‘n relatief veilige motor moes wees.  Die eertydse modelle met 850cc aandrywing was wat mens van die Mini in sy suiwerste vorm sou verwag – ‘n eenvoudige ontwerp maar tog funksioneel en met ratse hantering.

Van bogenoemde kenmerke kan steeds nog in die huidige Cooper S Countryman bemerk word met natuurlik nog talle ander moderne tegnologies gevorderde kenmerke waarna nog verwys sal word, maar wat die “bekostigbaarheid” betref sal sekerlik afhang van elke voornemende koper se behoeftes en vermoëns.

Die dekade wat gedek word gedurende die sestiger jare van die vorige eeu sou die Mini sien ontwikkel tot byna ikoniese status nadat John Cooper die Mini Cooper met sy 1000cc enjin in 1961 die lig laat sien.  Die aangepaste Cooper S 1275cc sou daarna superstatus bereik nadat dit die Monte Carlo tydren vir vier agtereenvolgende jare 1964-1967 gewen het. Die Mini Cooper S was nou op almal se lippe en bekendes soos die Beatles, Peter Sellers tot Graham Hill en Enzo Ferrari sou een besit.  Maar natuurlik in ‘n opgegradeerde en moderne vorm wat leersitplekke en elektriese vensters ingesluit het.  Dit sou ook die algemene modernisering en meganiese verfyning van die Cooper S soos ons hom vandag ken, inlui.

Die aanbreek van die 21ste eeu het ook ‘n nuwe hoofstuk, indien nie ‘n nuwe boek, ingelei toe BMW die gaping in die mark gesien het en sodoende die Nuwe Mini Cooper in 2002 bekend gestel het.  ‘n Afslaankapmodel is in 2005 bygevoeg en ‘n tweede generasie Mini is in 2007 bekendgestel.  Die Cooper S sou bekendheid verwerf met sy super aangejaagde enjin wat van hom ‘n formidabele kompeteerder in die mark vir klein motors met hoë werkverrigting sou maak.

By die eerste aanskoue van die Mini Cooper S Countryman is dit veral die grootte en hoogte wat tesame met die “broodvoorkoms” opvallend is.  Is die Countryman net ‘n groter Mini of kwalifiseer dit as ‘n Sport Nutsvoertuig? Met hierdie groter voorkoms boet die Countryman natuurlik ook werkverrigting en brandstofverbruik in teenoor sy kleiner boetie.  Tog maak Mini se witjasse daarop aanspraak dat die Countryman 10.1 liter/100 km in die stedelike siklus  verbruik wat dramaties verbeter na 6 liter/100 km op die oop pad en die 0-100 km/h merk binne 7.9 sekondes haal.  Hierdie syfers geld vir die Countryman met die outomatiese ratkas wat die toetsmodel was, terwyl die handratkas ietwat verbeter op hierdie statistiek.

Opsioneel is die Countryman All4 wat deur dieselfde 1.6-enjin aangedryf word maar wat aandrywing deur middel van ‘n sesgang handratkas vanaf die voorwiele ook na die agterwiele kan verplaas  op veral rowwe en gladde paaie.  Ratspane op die stuurwiel sorg ook dat ratte op hierdie manier verwissel kan word.   Kraguitset van die turbo-aangejaagde enjins is in beide gevalle 135 kW en 240 Nm by 5500 rpm en 5000 rpm onderskeidelik wat verduidelik waarom die Mini Cooper S Countryman met sulke uitstekende werkverrigting kan spog.  As ‘n knoppie wat “Sport” aandui gedruk word sit dit ekstra woema by die Countryman se werkverrigting.

Die Countryman spog ook met alle denkbare luukse kenmerke wat die fynproewer kan begeer, onder andere verhitte sitplekke, volledige aanboord rekenaar vir elke denkbare inligting wat oor die motor verlang mag word, reën- en parkeersensors, elektries beheerde vensters, kantspieëls en sondak, leerafwerking op sitplekke sowel as die stuurwiel en rathefboom.  Van laasgenoemde gepraat – dis een van die min dingetjies wat hinder.  Wanneer die rathefboom van die outomatiese model maksimaal aangewend word, bly die middelste armleuning in die pad terwyl die rataanwysing links van die hefboom uit sig is.

Daar kan uit nie minder nie as nege modelle met die handelsmerk “Countryman” daarop ‘n keuse gemaak word waarvan die pryse wissel vanaf net oor die N$290 000 tot ongeveer N$435 000. Die toetsmodel, die Cooper S Countryman se prys is N$361 100 wat BTW insluit maar nie CO2 belasting nie.

Of Mini die oorspronklike rede vir sy ontstaan, naamlik “bekostigbaarheid” met bogenoemde pryse gestand doen, is ‘n ope vraag wat sal afhang van die voornemende koper se smaak en begroting.  Maar dat dit uitstekende ry- en bestuursgenot met die kenmerkende onverbeterlike Mini-padgedrag verskaf, is sonder twyfel.

Mini se Cooper and Cooper S modelle word vir 2 jaar gewaarborg ongeag die kilometerafstand.  Die aanboord rekenaar sal die eienaar attent maak op wanneer wat gediens of vervang moet word wat deur ‘n Motorplan vir 75 000 km of 5 jaar tydperk gedek word.

Leave a Comment