Padtoets: Mitsubishi ASX 2.0 GL

Al die pad grondpad…

Mitsubishi is seker een van die twee of so vervaardigers wat uitstekende en betroubare voertuie bou maar wat onderwaardeer word op ons motormark; een van die onverklaarbare verskynsels in ons samelewing.

Maar dinge was vroeër anders toe hulle kort op die plaaslike toneel gekom het met die Colt tweedeur sedan en bakkie wat soos soetkoek verkoop het. Daarna het ‘n hele reeks bakkies en ‘n middelgrootte Mitsubishi sedan ook gevolg en vir ‘n tydperk is die voertuig met die embleem met die drie diamante langs die motors met die driepuntige ster se agentskappe te koop aangebied. Vir ‘n tyd was daar ook internasionale samewerking tussen die twee maatskappye. Dat die Duitsers die Japannese as vennoot gekies het, sê baie vir die gehalte van Mitsubishi.

Ons het al deeglik kennis gemaak met die ASX toe hy in 2011 sy knie hier gebuig het as een van die nuwe tipe oorgangsmodelle; “ASX” staan immers vir Active Smart Crossover.

Op hierdie gebied was Mitsubishi dus heelwat na-apers sy tyd vooruit, al het hulle nie die konsep uitgedink nie.

Die ASX het onlangs ‘n nuwe voorkoms gekry om by te bly by die nuutste ontwerpe wat motors laat verkoop. Om die nuwe weergawe te herken van die vorige model is daar nuwe swart dakrelings,‘n slanker voorkoms en is nou ook toegerus met getinte ruite, meer chroomafwerking en noodremligte agter. Binne is daar ‘n nuwe konsole tussen die sitplekke wat ‘n deftige voorkoms het.

Ons toetsmotor, die goedkoopste in die reeks, was volledig toegerus met outomatiese hoofligte en ruitveërs, misligte voor en ligdiode (LED) agterligte, ten volle verstelbare stuur, spoedbeheer en parkeersensors agter. Ander gerieflikhede vir die jongklomp is die multimedia klankstelsel wat ‘n CD-speler, radio en USB-sokke en Bluetooth en stembeheer insluit.

Nie sleg vir ‘n intreemodel nie!

Aan die veiligheidsfront is daar ook nie gespaar nie en al die jongste elektronika om die wiele op die pad te hou, is daar – ABS, EBD en BAS. Laasgenoemde afkorting beteken dat die remme vinniger sal reageer as daar ‘n noodsituasie sou ontstaan en ABS natuurlik dat die remme nie sal sluit en veroorsaak dat die motor gly waar hy nie moet gly nie. En as dinge handuit ruk is daar meer as ‘n handvol lugsakke om skade te beperk en ook die wete dat hy ’n vyfster-gradering in die Euro NCAP- en ANCAP-botstoetse ontvang het.

Die AXS kom in die regte formaat: Kompak maar ‘n ruim binnekant en ‘n groot kattebak wat normaalweg plek het vir 442 liter bagasie. Met die afslaan van die agterste sitplek, wat ‘n 60/40 verdeling het, groei die ruimte tot 1 193 liter. Hiermee kan jy behoorlik gaan wittebrood in die boendoe hou met plek vir ‘n huistent en alles wat nog nodig is.

Die hart van die ASX is Mitsubishi se taai en beproefde 2-liter petrolenjin met multipunt- brandstofinspuiting wat 110 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 197 Nm wringkrag vrystel teen 4 200 rpm. In die praktyk beteken dit dat die vyfgang-handratkas redelik vryelik gebruik moet word om maksimum verrigting te verkry. Tog beweer die vervaardiger dat ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 7,5 l/100 km haalbaar is as daar nie onnodig hard gery word nie. Teoreties sal ‘n reikwydte van 800 km tussen vulstasies moontlik wees.

Die ASX versnel vinnig van 0-100 km/h in net meer as 10 sekondes en die naald sal by 194 km/h gaan draai.

En op die pad? Die grondvryhoogte is 195 mm en maak van hom ‘n grondpad/teerpad sportbuks by uitstek. Hantering is uitstekend met McPhersonvering en ‘n rolstaaf voor en agter ‘n onafhanklike multiskakelsuspensie, ook toegerus met ‘n rolstaaf.

Wat kos hierdie handige Japannees? N$299 900 maak jou die eienaar van die ASX GL en daarmee kry jy ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg, en belangrik, ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan. Versieningstussenposes is elke 15 000 km.

Vir die motoris wat nie meer ratte wil wissel nie, is daar die top van die reeks met sy konstante-spoed outomatiese ratkas met 6-gange en heelwat meer luukses teen N$354 900.

Leave a Comment