Padtoets: Peugeot 3008 Allure 2.0 HDi

Terug na ‘n trotse tradisie!

Peugeot is weer op die regte pad in ons geliefde land. Die nuwe 3008, wat in beide petrol en diesel weergawes op die mark is, is een van die veelsydige nuwe Peugeots wat nie net met teerpaaie klaarspeel nie maar ook met grondpaaie. En in ons geliefde land, natuurlik ook met slaggate.

Oor die jare heen het Peugeot daarin geslaag om altyd met ‘n soepel suspensie voor die dag te kom. Die 3008 is groter en kragtiger is as die 2008, waaroor ons vroeër net positiewe dinge kon sê.

Diegene wat gereeld grondpaaie moet (of wil) ry, word dikwels frustreer deur die lae grondvryhoogte van die meeste motors wat die afgelope twee dekades op die mark beskikbaar was. Ek self was onthuts toe ek so twintig jaar gelede met ‘n 3-reeks BMW op paaie in die Sederberge wou ry waar my 504 stasiewa kommervry beweeg het. Maar tussen toe en nou het ook Peugeots platter en laer geword en dus ook gronpad onvriendelik. Sake het drasties verander met die ontwikkeling van die 4008, gevolg deur die heelwat kleiner 2008 en nou die 3008; die sogenaamde “cross-overs” of oorgangsvoertuie wat ook grondpaaie kan hanteer. En belangrik; die indruk en voorkoms van 4X4 voertuie skep. Hierdie is immers dié sektor in die motorbedryf wat die vinnigste groei, nie net by ons nie maar wêreldwyd.

Waar dit in Europa in die eerste plek gaan oor stilering is grondpadvermoë by die meeste van ons die oorwegende faktor. Hoewel daar onder die jonger garde, met hulle bergfietse, dit seker ook om voorkoms gaan.

Ons toetsmodel 3008 was die 2-liter, viersilinder turbodiesel met outomatiese ratwisseling, wat oor ses-gange beskik; die eerste keer in ‘n lang tyd wat hierdie kombinasie van diesel en outomatiese ratkas in Peugeot se reeks ligte motors weer beskikbaar is. En om dit lig te stel, hierdie Peugeot was louter plesier. Wat toerusting betref, was eenvoudig alles wat oop en toemaak daar en is ‘n navigasiestelsel deel van die pakket. Daar is geen ekstra items wat nog ekstra bestel moet word nie tensy daar dinge is soos ‘n sleephaak vir ‘n Ventertjie nie. Of ‘n drarak vir die fietse. Volgens die ou gesegde uit die Kalahari, dis ‘n klaargemaakte kar!

Die hart van die stylvolle 3008 is die 1997 turbodiesel wat 120kW teen 3750 opm ontwikkel en ‘n kragtige 340 Nm by ‘n baie rustige 2000 opm beskikbaar stel; meer as genoeg vir ‘n fris sleepwa of van die moderne ligte kampsleepwaens. Skadelike uitlaatgasse op die dieselenjin is 146 gram per kilometer, wat uiteraard ook verband hou met die goeie brandstofverbruik wat deur Peugeot so laag is soos 5,6 liter vir die omvattende toetssiklus en so laag as 4,7 op die langpad.

Verrigting op die pad is ook indrukwekkend. Behalwe die uitmuntende vering kan hy in net meer as 10 sekondes van 0-100 km/h behaal en die naald op ‘n gelykpad by 190 km/h laat draai. En as ‘n mens effens onverskillig raak is jy verseker van al die elektroniese hulpmiddels wat daar is om die skade te beperk met ses lugsakke in die binneruim.

Maar wat kos hierdie Fransman? Die top-van-die reeks Allure turbodiesel met sy outomatiese ratkas en ingeboude navigasie sal jou N$417 900 uit die sak jaag. Daar is ook die goedkoper Access 1.6 VTi teen N$289 900 en die meer luukse Active teen 1.6 N$339 900. Goeie nuus is dat ‘n 5-jaar of 100 000 km Premium Plan by die prys ingesluit is!

Leave a Comment