‘n Fransman om in die Kaap mee te toer!
Dit voel of daar elke week ten minste één nuwe motor en model op die mark vrygestel word. Een van die jongste modelle is die Renault Captur wat nou al half ou-nuus is. Die mark vir kleinerige motors met ‘n voorkoms wat lyk of hulle nog die goeie ou grondpaaie van die vorige eeu kan en wil baasraak, is een van die gewilde dele van die motormark wat net groei en groei en groei.
Boonop kom dit ook voor of motorvervaardigers nou selfs binne hulle eie vertoonlokale ‘n binnegeveg van verskillende variante en prysklasse van motors wat hulle logo dra, voer. Renault is een van hierdie vervaardigers wat hierdie binnegeveg aan die gang het.
Die Renault Captur is basies ‘n Clio wat in hoogte gegroei het om hom méér as net nog ‘n dorps- en teerpadmotor te wees sodat ‘n vakansie op ‘n afgeleë plaas naby Warmbad in Namibië binne die vermoë van die Captur kan wees. Dit is die goeie nuus gedeelte as ons (ouer lesers) terug dink aan die dae wat ons ook maar met heelwat ouer motors paaie met hoë middelmannetjies te doen gekry het en jy gedurig die krap- en skraapgeluide onder die bak in spanning afgewag het.
Die Captur se grondvryhoogde is 5 cm hoër as die van die gewone Clio en bring dit op 17 cm te staan. Maar as jy baie gaan grondpad ry is die twee ander Renaults, die baie suksesvolle Sandero Stepway en die Duster, eintlik dië wat jy gaan kies; hulle grondvryhoogtes is 19 cm en 21 cm onderskeidelik. En dan is daar nog van die Nissan nefies ook wat die keuse nog moeiliker gaan maak!
So wat is die Renault Captur dan eintlik? En wie gaan hom koop?
Ons kan wegtrek met die Franse stilering en flair. Voorkoms is belangrik en eerste indrukke tel; en die indruk van die Captur se lyne en moderne voorkoms, en veral vir verdere indruk die 17” allooiwiele, is goed en blywend. Vrouens se menings gaan beslis die deurslag gee as hierdie gesinsmotor gekoop gaan word. Alles wat daar moet wees, is daar. Dit sluit ‘n navigasiestelsel in asook al die musiekmoontlikhede wat deesdae feitlik standaard-toerusting in gesinsmotors is. Die meeste jongmense dra deesdae hulle musiek wat hulle vooraf opgeneem het saam op ‘n geheuestafie en sal die musiek uitsorteer voordat die veiligheidsgordel aangesit word.
Die binne-afwerking is tipies Europees, dit wil sê effens aan die donker kant omdat swart in die Noordelike Halfrond ‘n effek van (vermeende) kwaliteit of deftigheid gee; die amper somber voorkoms soos by Europese begrafnisse. Maar by die chic binnekant is die Franse ook baie prakties; die bekleedsel kan afgehaal word en gewas word as daar vrag gedra word in plaas van mense. Of as daar koffie (of iets sterker) gemors het.
Goeie punt hierdie.
Die toetsmodel was die vlagskip van die reeks, die Dynamique met ‘n outomatiese dubbelkoppeling ratkas wat die krag na die voorwiele toe oordra. Onder die enjinkap is daar ‘n vier silinder 1197 cc petrol turbo-enjin wat 88 kW teen 4 900 opm onwikkel en ‘n deugsame 190 Nm teen 2 000 opm beskikbaar stel. Dit stel hom in staat om van 0-100 km/h binne 10,9 sekondes te versnel en die naald te laat draai by192 km/h. Vinnig genoeg om in ‘n noodtoestand die hospitaal betyds te haal.
Deesdae is geld maar aan die skaars kant en is die brandstofverbruik van 5,4 l/100 km, soos deur die vervaardiger vir die gekombineerde siklus van stad en oopppad-ry, ‘n groot bonus.
Tipies vanaf die dae wat die Clio sy debuut hier gemaak het, is veiligheidseienskappe die Reanult se groot pluspunt met lugsakke en sykussings langs die kante, standaardtoerusting. So ook al die elektroniese hulpmiddels soos ABS, EBD, EBA, ESC. Veral laasgenoemde is baie belangrik vir diegene wat nie presies weet wat dit beteken nie: Die stelsel neem beheer oor as daar te vinnig in ‘n draai gery word, of as daar los gruis op die padoppervlakte is, en stuur die motor in die regte rigting deur rem-aksies wat milisekondes duur; vinniger as wat die bestuurder self kan uitvoer.
Die Captur Dynamique met ‘n outomatiese ratkas kos N$279 900 en sluit ‘n diensplan van 3 jaar/45 000 km in asook ‘n waarborg van 5 jaar/150 000 km. Dienste moet elke 15 000 km uitgevoer word.
As die prys aan die stywe kant is, is daar die handratmodel wat met ‘n 898 3-silinder turbo toegerus is en vir N$219 900 verkoop. Nadeel: minder krag en laer van die merk af; voordeel: nog meer suinig met brandstof!