Suzuki brei sy modelreeks uit met die sewesitplek Ertiga
Met die bekendstelling van die Ertiga aan die Suid-Afrikaanse mark in Junie vanjaar het Suzuki sy passasiersmotorreeks uitgebrei met die toevoeging van hierdie veeldoelige nutsvoertuig. Die Ertiga sluit hom dus nou aan by die sewesitplek familievoertuig brigade waar bekendes soos Toyota se Avanza en Nissan se Livina prominente posisies in hierdie mark beklee.
Hoewel die Ertiga ‘n kompakte voorkoms het, het Suzuki se ontwerpers uitmuntend daarin geslaag om dit te kombineer met genoeg ruimte en ‘n stylvolle voorkoms. Die Ertiga maak vir aandrywing gebruik van die beproefde K14B viersilinder enjin met elektroniese brandstofinspuiting wat verantwoordelik is vir ‘n lewendige werkverrigting en wat hierdie Suzuki ‘n leier in sy klas maak sover dit ekonomiese brandstofverbruik betref.
Maksimum kraguitset is 70 kW teen 6 000 rpm en topwringkrag van 130 Nm is teen 4 000 rpm beskikbaar. Die veranderlike kleptyd sorg vir ‘n lewendige reaksie wat tydens proefritte veral opvallend teen lae enjinrewolusies was. Die ekonomiese brandstofverbruik word onderstreep deur Suzuki se aanspraak op gebruiksyfers van slegs 6,6 liter/100 km.
Die Ertiga modelreeks bied ‘n keuse van vyf modelle met ‘n keuse van drie spesifikasievlakke – die GA, GL en GLX – met óf ‘n vyfspoed handratkas óf ‘n vierspoed outomatiese ratwisseling. Die intreevlak Ertiga GA model is slegs beskikbaar met ‘n die vyfgang handratkas terwyl die GL en die GLX ook die opsie van outomatiese ratwisseling bied. Soos in die geval van ander Suzuki modelle word van voorwielaandrywing gebruik gemaak.
Behalwe vir bogenoemde kenmerke sal dit sekerlik die binneruimspasie wees waarin kopers van enige sewesitplek sal belangstel. Die derde ry sitplekke is beslis nie vir noodgevalle aangebring nie, maar verskaf genoeg ruimte vir twee volwassenes. Statistieke toon dat die binneruim se lengte 2 665 mm, die wydte 1,415 mm en die hoogte 1 310 mm beloop.
Die drie rye sitplekke bied verskillende konfigurasies vir verskillende behoeftes terwyl die tweede en derde ry sitplekke plat kan slaan wat dan saam met die bagasieruimte van 135 liter tot ‘n yslike 735 liter vergroot. Die bagasieruimte met afmetings van 1 180 x 1840 x 860 mm word in die geval van die GL en die GLX deur middel van ‘n versteekte ruimte onder die bagasiebak se vloer met ‘n verdere 22 liter vergroot.
Die agterdeure van die Ertiga maak ook teen ‘n wye hoek oop vir gemaklike passasierstoegang en uitklim asook om die inlaai van groot artikels te vergemaklik. Verder is die Ertiga toegerus met genoegsame bottelhouers en baie pakplek vir kleiner artikels aan die binnekant van die binnekonsole, deure en siplekke.
Aan aktiewe en passiewe veiligheidsmaatreëls is daar deur die Ertiga se ontwerpers ruim aandag gegee. Voorste dubbelle lugsakke tesame met driepunt veiligheidsgordels vir al sewe sitplekke is standaard by al die modelle. By die GA intreemodel is nekstutte by die voorste sitplekke aangebring terwyl dit by die meer luukse GL en GLX by al sewe sitplekke voorkom.
Die gebruik van hoë intensiteit staal op strategiese plekke van die Ertiga se bakwerk beveilig insittendes tot ‘n groot mate in die geval van botsings. ABS-remme wat remsluiting verhoed word aangevul deur ‘n elektroniese remkragverspreiding in geval van ‘n potensieel gevaarlike noodaanwending van die remme.
Vir die gerief van die insittendes bied die Ertiga ‘n verstelbare stuurwiel, elektroniese kragstuur, ‘n digitale rekenaar wat die ritafstand, tyd, brandstofverbruik en potensiële reikafstand aandui. Saam met ‘n uitstekende klankstelsel word daar ook voorsiening gemaak vir MP3 musiek en ‘n USB inprop wat dit moontlik maak om musiek vanaf iPhones en iPods te speel. Al hierdie funksies kan vanaf die stuurwiel beheer en verstel word. Die GL sowel as die GLX bied agterruit ontwaseming en outomatiese beheer op al vier deure. Die top GLX model spog verder met 15-duim allooiwiele en geïntegreerde misligte in die voorontwerp terwyl die ergonomie verbeter is met die hoogteverstelling van die bestuurdersitplek.
Die intreevlak GA-model is gemik op die vloot- en die kortafstand vervoerbedryf soos bv. van en na hotelle en lughawens en kos N$159 900. Een vlak hoër is die GL-model teen N$179 900 vir die handrat en N$194 990 vir die outomatiese model. Vir die topmodel, die GLX, is die pryse onderskeidelik N$192 900 en N$207 900. Ingesluit by die verskillende pryse is ‘n vier jaar/60 000 km diensplan.