Padtoets: Toyota Avanza 1.5 SX

Toyota Avanza 1.5 SX pas almal se sak en behoeftes

Op die voorblad van die glansbrosjure waarin Toyota die nuwe Avanza-reeks bekendstel is daar, behalwe die Avanza foto’s, ook afbeeldings van ‘n ry skoene van verskillende groottes wat ‘n familie voorstel. Daarmee word die boodskap oorgedra dat die Avanza beantwoord aan al die behoeftes en doeleindes van almal in enige familie.  Die boodskap van die nutswaarde van die huidige generasie Avanza’s kan beswaarlik beter oorgedra word as die manier waarop hierdie illustrasie dit doen.

Dis te betwyfel of die deursnee motorentoesias of potensiële koper hom of haar sal laat oorreed om die nuwe Avanza aan te skaf op grond van die voorkoms of die bestuursdinamiek van die motor.  Maar as prys, relatief goedkoop vervoer vir sewe mense en die Toyota se kenmerkende betroubaarheid in gedagte gehou word, kan daar kwalik verkeerd gegaan word met die keuse om die nuwe Avanza aan te skaf.

Die probleem in die sewesitplek-marksegment kom gewoonlik na vore wanneer al sewe sitplekke benut word.  Gewoonlik sal die derde ry sitplekke hoofsaaklik bestem wees vir die vervoer van kinders wat dan weer bagasieruimte inboet.  Daarom het Toyota nie net die Avanza ‘n slanker voorkoms gegee nie, maar ook meer benutbare spasie, hetsy vir familie- of sakedoeleindes.  Toyota se ontwerpers het nie alleen die ruimtelike dimensies van die nuwe Avanza met 20 mm in lengte en 25 mm in breedte vergroot nie,  maar die rugleunings van sitplekke in die tweede en derde rye is ook dunner gemaak om sodoende meer beenruimte aan passasiers te verskaf.  Bagasieruimte is ook met 18 mm vergroot terwyl die tweede ry sitplekke in die SX en TX  modelle (laasgenoemde op die boonste sport van die reeks) met 60mm kan skuif om sodoende aan insittendes in die tweede ry die geleentheid te gee om bene te rek as die derde ry onbeset is.  Die derde ry sitplekke kan in ‘n 50/50 kombinasie platgeslaan  word om sodoende groter bagasieruimte te verskaf.

Die Avanza is beskikbaar in vyf verskillende modelle:  1.3 S; 1.3 SX; 1.5 SX; 1.5 SX AT en die 1.5 TX.  Geen veranderings aan die kragbronne is aangebring nie en die petrolenjins van die vorige modelreeks is net so oorgedra na die nuwe reeks.  Tog is brandstofverbruiksyfers verbeter as gevolg van ‘n ligter bakwerk (20 kg), laer weerstand van die bande en ‘n verbeterde lugreëlingstelsel.   Toyota maak aanspraak op brandstofverbruik van 7.7 l/100km vir die 1.3 modelle en 7.2 l/100km vir die 1.5 reeks.  Die petroltenk vat ‘n beskeie 45liter op ‘n slag.

Die 16-klep 1.3liter enjin verskaf 67kW teen 6000rpm en 117Nm teen 4400rpm terwyl die ooreenstemmende syfers vir die 1.5liter reeks 76kW en 136Nm teen dieselfde rewolusies is.  Aandrywing geskied deur middel van ‘n vygang handratkas terwyl ‘n outomatiese viergangratkas in die 1.5 reeks opsioneel is.

Soos met die vorige generasie Avanza’s is ook die huidige modelle nie bekend vir werklike uitstekende padhouvermoë nie wat ook heeltemal verstaanbaar is in die lig van die teikenmark van die Avanza.  Tog het die 25mm breër bakwerk, breër bande asook ‘n verbeterde onderstel ‘n beduidende uitwerking op die stabiliteit van die Avanza.  Alle modelle is toegerus met dubbel lugsakke, en ABS-remme, elektries-beheerde vensters, kragstuur, afstandbeheerde en ‘n immobiliseerder as standaard toerusting.  Die 1.3 modelle het egter geen lugreëling nie.

Die 1.5 S en SX modelle het 14dm staalwiele terwyl die TX toegerus is met 15dm allooiwiele.  Kleugekodeerde buffers, handvatsels en syspieëls asook die sierrooster is standaard op hierdie modelreeks alhoewel die TX spog met daardie ekstra iets in die vorm van chroom sierrooster en misligte en ventilasieopeninge voor en agter vir die lugreëling.

Omgewingsvriendelikheid is ‘n aspek wat al hoe meer voertuigvervaardigers deesdae in gedagte moet hou aangesien belasting op ‘n glyskaal betaal moet word vir die volume van skadelike gasse wat vrygestel word.  Die Avanza beantwoord aan die Euro 2 uitlaatregulasies en CO2 uitlaat-gasvolumes wissel tussen 172 en 183 g/km van die intreemodelle tot die boonste in die reeks.  Daar moet natuurlik ingedagte gehou word dat hierdie statistieke, soos brandstofverbruik, kan verander na gelang van die omstandighede en manier waaronder enige voertuig bestuur word.

Pryse van die verskillende modelle in die Avanza reeks is as volg: 1.3 S – N$155 900; 1.3 SX – N$168 800; 1.5 SX – N$175 500; 1.5 SX AT – N$189 600 en vir die 1.5 TX – N$202 200.

In tipiese Toyota tradisie is ‘n 4 jaar/60 000km diensplan ingesluit by die koopprys wat BTW insluit asook ‘n waarborg wat vir drie jaar of 60 000km geldig is.  Diensintervalle van die Avanza’s is 15 000km.

Leave a Comment