‘n Yslike watertand lekker
Met Toyota se bekendstelling van sy nuwe Corolla vroeër vanjaar het ‘n elfde geslag van hierdie uiters gewilde handelsmerk in die motormark die lig gesien. Die eerste Corolla, wat in 1966 die mark betree het, was seker een van die mees suksesvolle “wêreldmotors”; daar is reeds meer as 40 miljoen van hulle oor die wêreld heen verkoop.
In Suidelike Afrika alleen is daar sedert Corolla se bekendstelling in die middel sewentiger jare 980 000 eenhede verkoop. In November verlede jaar is die miljoenste model van die Corolla van die produksielyn van Toyota se monteeraanleg in Durban op sy wiele staan gemaak.
Montering en vervaardiging van hierdie ikoon vind onder andere ook in sestien ander aanlegte plaas waaronder Viëtnam in die Ooste en Venezuela in die Weste. Met hierdie indrukwekkende syfers hoop Toyota SA om nog verdere suksesse plaaslik te behaal en gaan die Corolla beslis bydra om ‘n verwagte groei in Toyota se markaandeel te bewerkstelling ten spyte van ‘n verwagte afname in die verkoopsyfers van veral nuwe motorvoertuie.
Met die bekendstelling van die nuwe Corolla het Toyota seker gemaak dat hy, metafories gesproke, byna elke gaatjie in die middelslag motormark gevul het. Nie minder nie as elf modelle is beskikbaar wat oor ‘n breeë spektrum in byna elke smaak behoort te val. Dit sluit in twee 1.3, vier 1.6 en drie 1.8 petrolmodelle en dan die groot watertand lekker(k)ry, die twee turbo-aangejaagde 1.4 dieselmodelle waarvan een die toetsmotor was.
Die Corolla was nog altyd ‘n gesinsmotor waar die tradisionele waardes van betroubaarheid, gehalte en duursaamheid gegeld het. Met die nuwe uitgawe is dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur; al die tradisionele eienskappe is steeds daar maar met die nuwe stilering, veral aan die neus se kant, kom daar ‘n nuwe sportiewe kant tevore. Die familieooreenkoms met die nuwe prestige Toyota, die Lexus, is opvallend. So ook die algehele ontwerp wat ‘n amper-koepee vorm volg, is indrukwekkend en gaan beslis by die jonger geslag motorkopers byval vind. Die nuwe Corolla is meer vaartbelyn as sy voorganger en die sleursyfer is verlaag van Cd 0,29 tot net Cd 0,27 en, volgens Toyota, is dit die laagste in sy klas. ‘n Praktiese voordeel is natuurlik dat dit ook brandstofverbruik verminder.
Die nuwe Corolla is 80 mm langer, 15 mm wyer en 5mm laer as sy voorganger terwyl die wielbasis met 100 mm vergroot is. Hierdie aanpassings dra by tot een van die nuwe Corolla se grootste en indrukwekkendste kenmerke, nl.die genoegsame ruimte wat die motor bied. Bagasieruimte is ‘n yslike 452 liter en die nuwe sitplekke binne bied meer ruimte vir alle insittendes.. Daar is ook alles wat kan oop- en toemaak teenwoordig:’n Raakskerm-klankstelsel-eenheid met AM/FM-radio, CD/DVD/MP3-speler, Bluetooth-selfoonstelsel, ’n USB-sok vir draagbare musiekspelers wat ook ’n iPod se speellys kan vertoon. Verder is daar ook ’n truratmonitor en natuurlik elektriese bediening van die vensters en lugversorging.
Die toetsmotor is nie net alleen op die teerpad vanaf die Kaap na die Klein Karoo deeglik beproef nie, maar dit was veral op die robuuste grondpaaie van laasgenoemde dat die Corolla beindruk het. Minimin buitegeraas, natuurlik geen spoor van ‘n stoffie binne nie en dan die uitstekende padhouvermoe was veral opvallend. Laasgenoemde moet veral toegeskryf word aan die nuwe elektriesbeheerde kragstuur maar ook aaan die nuwe en groter skokbrekers van die voorsuspensie met die korter spiraalvere. Vanweë die laer bak wat bo vermeld is, is dit egter raadsaam om veral op plaaspaaie bossies en klippe, wat in elk geval op sekere paaie die hoofkenmerke is, in gedagte te hou. Maar daarvoor is daar mos die Toyota bakkie (of ‘n Fortuner) in die waenhuis!
Die 1.4 liter D-4D turbo-aangejaagde viersilinder enjin is natuurlik ‘n nuutjie in die Corolla reeks en vervang die vorige 2.0 liter as die enigste dieselmodel. Die enjin bied 66 kW en 205 Nm en Toyota maak aanspraak op ‘n brandstofverbruik van 4.5 liter/100km en ‘n gasuitlaat van 119 g/km wat onder die belasbare grens is. Die 1.4 dieselmodel bereik 100 km/h in 12.5 sekondes met ‘n maksimum spoed van 180 km/h en alhoewel die syfers op papier miskien nie besonder indrukwekkend lyk nie moet die gewig van 1.7 ton van die Corolla in gedagte gehou word. Gedurende die toetsrit waar tydens die Corolla deeglik beproef is, kom jy gou agter dat daar oogenoeg krag is om ‘n gemaklike spoed te handhaaf met genoeg in reserwe om ander stadiger voertuie verby te steek.
Veiligheid van insittendes was nog altyd hoog op Toyota se prioriteitslys en die Corolla het die Euro-NCAP-botstoetse met vlieënde vaandels geslaag met ‘n vyfster-gradering. Hiermee saam is die motor ook ontwerp om die minste moontlike skade aan voetgangers te veroorsaak indien hulle voor die motor sou beland.
Aan die binnekant is daar, soos te wagte, ses lugsakke om al die instittendes te beskerm in geval van ‘n botsing. Die driepunt gordels is ook met rukstopaksie en vooraf-terugtrekaksie. Verder is ‘n patent uit die jare sestig weer toegepas; ‘n meganisme wat die persoon se bolyf na agter stuur om sweepslagbeserings te verminder as die motor van agter gestamp word.
Voorkomende maatreëls is natuurlik die gebruik van ABS remme, elektroniese remverspreiding, en remhulp wat beter beheer oor die voertuig verskaf as paniek-situasies ontwikkel.
Die bewese sukses van die Toyota oor verskeie dekades word onderstreep deur statistieke soos hierbo genoem. Die nuwe 2014 Corolla wyk nie af van ‘n beproefde resep nie en sou mens vandag die deurtrapte Corolla eienaar vra wat sy redes is, sal dit tien teen een beantwoord word met iets soos ‘n kombinasie van betroubaarheid, gemak en genoeg ruimte vir die gewone familie. Met die verbeteringe wat aan die vorige model aangebring is, is dit dus geen wonder dat Toyota verwag dat hulle weereens ‘n topverkoper aan die mark gelewer het nie. En daar is geen rede waarom dit nie ‘n realistiese en bereikbare uitkyk is nie.
Die prys van die 1.4 D-4D is N$247 400 en dié van die Prestige N$259 900. Pryse sluit in ‘n 3-jaar waarborg en ‘n 100 000 km waarborg, 5-jaar/90 000 diensplan en 24 uur padbystand.