Padtoets: Toyota Quest

Lank lewe die nuwe Tazz – met ‘n kattebak!

Iewers doen Toyota van Suid-Afrika die regte ding! ‘n Bekostigbare motor met ruimte vir vyf volwassenes en ‘n kattebak om vyf vroue se bagasie in te laai. En boonop nog steeds van buite aantreklik is. Dink net, vyf studente op ‘n kamptrippie, of vyf ouer mense uit die aftree-oord op pad na die teater in die stad!

Die Tazz-resep werk nog steeds so goed soos in die goeie ou dae, die tyd wat die deuntjie van “Alles loop reg, altyd reg” in ‘n mens se kop gedraai het, en na al die jare nog steeds by tye in my kop kom! Behou ‘n goeie resep vir nog ‘n paar jaar langer vir ons gewone mense wat nie altyd die jongste modegier meer najaag nie maar eerder kyk hoe ons die munte in ons beursies kan rek. En daar is nog baie van ons!

Die Quest is die 10de geslag Corolla wat nou by ons langer gaan voortleef, ondanks die bekendstelling van die skerp, nuwe Corolla waaroor ons reeds geskryf het. En wat ons regtig beïndruk het met sy nuwe lyne wat groot ooreenkomste toon met die van die groot Lexus broer uit die boonste klas.

Soos die Tazz is die nuwe Quest ‘n unieke Suid-Afrikaanse model en word hy nêrens anders gebou nie. Maar dit gaan nie net suid-Afrikaners wees wat die Quest op hulle werwe sal wil parkeer nie; met die heelwat laer prys as die nuwe Corolla gaan daar ook in die buurlande talle kopers wees wat ‘n bekostigbare, nuwe Toyota sal wil aanskaf.

Die Quest is nie ‘n afskeep, goedkoop geboude motor wat van alle luukses gestroop is nie. Al die dinge waaraan ons gewoond geraak het is daar: al die modelle die reeks (standaard handrat en outomaties, asook die Plus model  met handrat) beskik oor ’n immobiliseerder en alarm, afstand beheerde sentrale sluiting, dubbele lugsakke voor, Isofix-kindersitplekmonterings, lugversorging en reik/hoogteverstelling vir die stuurwiel. Dit is veral die reik-verstelling wat die bestuurposisie soveel gemakliker maak en vir korter persone die bestuur soveel aangenamer (en veiliger) maak. Van die ander fabrikante, van heelwat duurder modelle, kan gerus hiervan kennis neem.

Op die oog af is daar ‘n paar nuwighede in die Quest. Die kopligte is herontwerp, so ook die stertligsamestelling en die rigtingwysers aan die kante is van die deurspieëls na die modderskerms verskuif. Die grys sierrooster is nou swart en die nommerplaathulsels ook. Binne is die verdeelde agtersitplek nie meer verdeel nie en die sitplekke voor is dieselfde as wat in dieduurder Corolla aangetref word.

Die Quest Plus word van sy goedkoper maats onderskei deur die gebruik van allooiwiele in plaas van staal vellings en het ook ‘n goeie klankstelsel wat die byderwetse dinge soos ‘n USB- en hulp-sok insluit. Die goedkoper modelle het egter reeds die bedrading vir ‘n radio en klankstelsel en moet slegs die nuwe stelsel laat opkoppel.

Die kragbron is dieselfde as die van die nuwe Corolla 1,6; ‘n enjin met dubbele VVT-I- stelsel wat die kleptydreëling vreander om verskillende enjinladings te hanteer. Die eenheid ontwikkel 90 kW teen 6 000 rpm en stel 154 Nm teen 5 200 rpm vry. In die praktyk beteken dat die ratte van die  sesgang-handratkas vryelik gebruik moet word om goeie verrigting te verkry. Dit maak die viergang outomatiese ratkas vir ouer persone baie aanloklik.

Die suspensie met sy McPherson stutte word onveranderd gebruik en die remme is ook glybeperkende ABS-remme. In ons nat winter is hierdie seker die mees belangrike veiligheidstelsel om botsings te vermy.

Stadig is die Quest beslis nie en maak Toyota SA aanspraak op ‘n versnellingstyd van 0-100 km/h in 10,4 sekondes en sal die naald op ‘n reguit pad op 192 km/h gaan draai. Dit is meer as genoeg vir die deursnee motoris.

Een van Toyota se pluspunte is die feit dat 192 agentskappe oor die land versprei is. Ingeval daar wel fout gaan kom met die Quest, iewers op die langpad, gaan daar hulp naby wees. Maat soos ons weet uit die deuntjie wat in die kop bly draai …………………

Wat kos hierdie nuwe model wat gou staatmakerstatus gaan verwerf?

Die 1.6 Quest wat ons getoets het, sal die nuwe eienaar N$174 900 uit die sak jaag. Die outomatiese weergawe N$198 900 en die windmaker Plus N$197 900.

Die Quest word gedek deur ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar/45 000 km.

Leave a Comment