Om te streef na perfeksie
Nie te lank terug nie was Volvos gekenmerk as bokserige en oud-modiese voertuie. Iets wat nie werklik aanloklik is vir elke motoris nie. Wel, met die nuwe V90 reeks is hierdie seining beslis op sy kop gekeer. Nie net lok dit almal se oë op die pad nie, maar kom die kar in geheel baie naby aan perfeksie.
‘n Perfekte voertuig is nie iets wat maklik verkrygbaar is nie. Vir dit om te gebeur moet die voertuig rats, lig op brandstof, gemaklik, ruim, veilig en bekostigbaar wees. Terselfdertyd sal dit ook enige oppervlakte moet kan tem. Om hierdie in perspektief te plaas, kan ons verwys na Lamborghini se nuwe Urus. Groot, luuks, en met die moontlikheid om die spoed van lig ore aan te sit, is selfs hierdie voertuig nie ‘perfek’ nie en sal dit ook nadele insluit soos prys, 4×4 verrigtinge en so meer.
Ons het in 2017 die V90 Cross Country D5 model gery. Dié luukse voertuig met sy stil en ekonomiese turbo-diesel het ons redelik verbaas. Nou was dit die beurt van die turbo-petrol om getoets te word.
Effens duurder (R 954 784) en swaarder op brandstof (9L per 100km), is die 4 sylinder (2.0-liter) enjin ook redelik kragtig en skop dit 237kW en 400Nm uit. Met ‘n petrol word die anname gewoonlik gemaak dat die enjin ietwat harder sal wees. Hierdie is die geval, wanneer die regtervoet afwaarts gaan, maar die voertuig kan ook uiters rustig en die enjin skaars hoorbaar wees.
Só goed is die klankdigtheid dat 90km/h wind van buite nie eers in die kajuit gehoor kan word nie. Ons toetsmodel het ook lae profiel bande op gehad (21 duim allooi wiele). Nie perfek vir groundpaaie en padgemak nie, maar verbasend genoeg was die rit baie meer stabiel as van die duurste SUV’s op die mark. Dieselfde geld op grondpaaie.
Baie rubrieke diskrimineer tans die V90 se padhouvermoë, waar ons dit presies andersom gevind het. Die lengte van die voertuig laat mense skrik en dink dat dit maklik sal gly, maar die lae gravitasiepunt van die dak maak hierdie voertuig baie goed beheersd.
Dit het ons eerstehands ondervind toe Mnr. “ek kyk nie in my kantspieëltjies en gebruik nie my flikkerlig nie” teen ‘n baie lae spoed skerp in die vinnige baan ingedraai het. Teen 100km/h op die snelweg en met geen plek in die linkerbaan om in te swaai nie, moes ek die besluit neem om die droeë gras langs die pad effens te benut. Met die voertuig wat hierdie (basies stilstaande) obstruksie voor my gesien het, het dit vansself effens gerem en my toegelaat om die nodige draai-aksies te voltooi.
Nietemin het die Cross Country die taak goed verrig met my kollega wat skaars hierdie aksie agtergekom het soos hy deur al die V90 se knoppies en “streelpaneel” gegaan het. Hierdie is juis my volgende punt.
Die V90-reeks is met die wêreld se tegnologie toegerus. ‘n Panoramiese sondak, elektriese sitplekke met lugverkoeling- en verhitting, Bowers & Wilkins klank sisteem, navigasie, 12V punte, navigasie, dubbele klimaatbeheer in die voorste- en agter kajuit, asook reënsensors. Hierdie is maar net ‘n paar van die standaard tegnologie.
Opsionele ekstra’s sluit in: Sleutellose beheer, spoedwyser in die voorruit, parkeerhulp met kamera’s (dit sluit ‘n 360 grade bo-aansig in) en blindekol informasie. Die lys van ekstra’s is te veel om in die artikel op te noem, maar gaan gerus oor na Volvo se brosjure om die inligting te kry: ipaper.ipapercms.dk/Volvocars/ZA/v90ccmed/?page=6
Ons toetsvoertuig het die R75 000 opsionele ekstra “V90 Cross Country Adventure” pakket bevat.
Teen 4939mm (lengte) x 1543mm (hoogte) en 2052mm (breed) is die V90 dalk nie ‘n normale SUV nie, maar eerder ‘n “Power estate”. Tog, teen 210mm vanaf die grond en met vierwieltrek, hanteer die V90 veel beter as baie van die duurste SUV’s op die mark.
Die lang ‘lyf’ mag dalk die indruk gee dat hierdie ‘n moeilike voertuig is. Tóg is dit een van die maklikste voertuie om te draai in knap spasies. Vir ‘n beter brandstof ekonomie, sal ons die goedkoper D5 aanbeveel, maar vir ‘n algehele pakket is die T6 ‘n uitstekende voertuig.
Dit was ‘n jammerte om hierdie voertuig terug te gee. ‘n Verdere 1400km na die Kaap om gou ‘n ou vriend te groet, sou te kort wees. Die V90 Cross Country T6 sal jou aanhou vra vir meer, vir nog kilometers.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media