1945 Peugeot 202 Camionette
Johan & Ian Loubser
Onder ‘n stofkombers in ‘n oorvol plattelandse stoor het hierdie eienaardige ryding die Loubser kinders altyd beindruk waar dit weggesteek en toegepak vir jare gerus het. In ‘n era van groot Amerikaanse motors, myl per uur spoedmeters en regterstuur, kon hulle nie mooi begryp waarom hierdie bakkie, in sy Tweede Wêreldoorlog-gewaad en linkerstuur, dan instaat sou wees om 140 myl per uur te haal nie. Wat het hulle dan nou geweet van kilometer per uur in die 1960’s.
Hulle kon nooit regtig die bakkie se voorkant sien nie en het ook nie regtig geweet wat dit nou eintlik is nie, totdat sy oorspronklike eienaar, die (in motorkringe) alom bekende oom Danie Loubser (1924 – 2013) – Pa vir hulle – besluit het om dit na dertig jaar weer uit die stoor op Vredenburg te haal en te restoureer. Uiteindelik was die vier kinders se nuuskierigheid bevredig toe hulle kon sien wat dit nou eintlik is. “Pa! Dis dan ‘n ou Peugeot bakkie en dan nog ‘n linkerstuur ook; my aarde!” – was daar geskerts. Net daar en dan moes Pa vir hulle die storie van hierdie onooglike ryding vertel.
Die Peugeot 202 bakkies was sedert 1938 in Sochaux, Frankryk vervaardig en produksie was gestaak tydens die Tweede Wêreldoorlog, waarna dit weer in 1945 hervat is. Gedurende 1946 word ‘n aantal van die bakkies na Suid-Afrika ingevoer om die mark vir ‘n kleiner bakkie, anders as die groot Amerikaanse bakkies, te toets. Die Loubser-familie het gedurende daardie tyd ‘n motorhandelaarsaak op Vredenburg bedryf met die agentskap vir verskeie motorfabrikate waaronder ook diè van Peugeot. Die gedagte was destyds om hierdie ligter bakkie aan die mense van die Weskus bekend te stel, hoofsaaklik om vas te stel of dit aanklank sou vind onder die vissergemeenskap en dalk die boere.
Nadat diè spesifieke een aan ‘n onderwyser by die plaaslike skool verkoop is – hy wou blykbaar daarmee op toer gegaan het – is dit na ‘n jaar weer ingehandel op ‘n groter ryding en is die besluit geneem om dit in te span vir eie gebruik. Daardie jare het die Loubser-familie ook installasie van elektriese aanlegte gedoen en hoofsaaklik die plase omgeskakel van kragopwekkers na Eskom krag. Vir ‘n hele paar jaar was die bakkie hiervoor aangewend en het menige boer dikwels verbaas toegekyk hoe diè klein werks-esel die dik sand en landerye van die Sandveld kon deurploeg het. Nooit was dit nodig om ‘n trekker in te span om die klein Peugeot uit die sand te kom red nie. Geen wonder dat hierdie ryding met soveel sukses gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika se woestyn kon diens doen nie. ‘n Mens wonder onwillikeurig of die befaamde Ernest Hemmingway as oorlogskorrespondent in Frankryk dalk so ‘n vervoermiddel tot sy beskikking gehad het.
Na vele “langafstand” ritte na Kaapstad (teen 70 km/h) kon die klein 1113 cc enjin nie meer die pas volhou nie en is die bakkie tydelik gestoor. Dit was nie voor die aanbreek van die tagtiger jare dat die bakkie weer sonlig gesien het nie. Intussen het die storie van die skuurfonds ook die destydse Peugeot Automobiles Africa bereik en het dit selfs ‘n besoek van die personeel van Peugeot Frankryk na die Weskus teweeggebring. Toe die spul die bakkie gewaar, nog in die oorspronklike militêre groen van die Franse weermag, het dit hulle seker vol patriotisme of heimwee gestem. Want hulle was dit eens dat die bakkie met alle mag moes terug na la mére patrie (die moederland), spesifiek die Peugeot Museum in Sochaux, aangesien hulle van oordeel was dat dit een van die bes bewaarde Peugeot 202 bakkies was. Sentiment en nostalgie oor hierdie “Peugeot familielid” het egter verseker dat die bakkie in die hande van die Loubser-familie gebly het.
Die destydse restourasie van die bakkie het bloot net bestaan uit die herbou van die enjin, die oorspuit in dieselfde militêre groen, maar hierdie keer met ‘n glanslaag in plaas van die oorspronklike “matte” die vervanging van die vloerplanke op die bak, asook herbekleding. Die res van die meganika was nog in orde, selfs die wiellaers en remme!
In die middel van die tagtigerjare verhuis die bakkie saam met die familie na Hermanus, nadat die motorsaak op Vredenburg gesluit is. Die bakkie het ‘n alledaagse gesig geword in die strate van Hermanus waar dit diens sou doen as daaglikse vervoermiddel – soms tot groot verbasing en vermaak van veral vakansiegangers en buitelandse besoekers. Soveel so dat verskeie buitelandse joernaliste artikels oor die bakkie kom doen het.
Na die dood van die oorspronklike eienaar het sy seuns Ian en Johan Loubser in Junie 2014 besluit om die bakkie na Stellenbosch te neem ten einde dit weer op te knap. Wat begin het met die vervanging van die voorruit, eindig toe agt maande later in ‘n behoorlike restourasie. Verskeie aspekte moes dringend aandag geniet, soos die herbou van die verkoeler, volledig met ‘n nuwe kopertank ten einde dit oorspronklik te hou. Die remme, wat nog met kabels werk, is ook herbou tot nuut en jy kan maar die rempedaal trap; hy stop asof dit hidrouliese remme sou wees!
Die houtwerk aan die kante van die bak is steeds die oorspronklike hout van die jare veertig en komplementeer beslis die res van die bakkie is sy totale vorm van oorspronklikheid. Selfs die Michelin spaarband is nog die oorspronklike en die rubber vloermatte het die jare se aanslag van werkstewels en tyd deurstaan.
Die bakkie is verlede naweek amptelik “bekendgestel” tydens ‘n funksie van Club Peugeot Afrique du Sud by Peugeot Tygervallei waar hy tans tussen sy jonger nefies en niggies op die vertoonkamer vloer pronk.
Dit is vir die Loubser-familie ‘n besondere eer om hierdie bakkie, wat van nuut af in hulle besit is, weer terug op die pad te kan plaas en dit vir die nageslag te kan bewaar as deel van die ryk Suid-Afrikaanse geskiedenis van Peugeots.
Peugeot 202 “Wehrmacht” bakkies en die Tweede Wêreldoorlog
Dr Hans Heese
Die Loubser-broers se foto en vertelling van hul legendariese pa se 202 bakkie, en hoe hierdie uitsonderlike model hier te lande gekom het, het boeiende leesstof gemaak (DB Motors 18.6.2015).
Vóór die uitbreek van die oorlog 1939 was daar reeds Peugeots in Suid-Afrika en sy buurlande op die mark en moes daar reeds hier en daar ‘n 202 sedan sy verskyning iewers gemaak het. Maar wat het by die hooffabriek van Peugeot by Sochaux in Elsas naby die Duitse grens gebeur toe die Duitsers Frankryk oorrompel het?
Tot op daardie stadium het Peugeot sy 202 bakkies aan die Franse Armee gelewer maar ook begin om vliegtuigenjins te bou vir krygsdoeleindes. Ná die Duitse oorname van Frankryk is daar voortgegaan met die bou van 202 bakkies en ook sedans vir die Duitse Wehrmacht; hierdie keer nie meer in olyfgroen nie maar die donkergrys Duitse standaardkleur vir al hulle voertuie (behalwe nou vir die sandkleurafwerking vir die Afrikakorpsvoertuie wat in Noord-Afrika onder Erwin Rommel diens gedoen het). Produksie van hierdie aangepaste siviele voertuie het tot 1942 voortgeduur.
Peugeot was daarvoor bekend dat hulle te Sochaux die grootste en beste metaalgietery in Wes-Europa besit het, veral “grysmetaal” waaronder ook aluminium tel. Dit was juis laasgenoemde metaal wat die hoofbestanddeel van die silinderkoppe van die Volkswagen-enjin, ontwerp deur Ferdinand Porsche, uitgemaak het. Ná onderhandlinge tussen afgevaardigdes van Volkswagen, die Duitse besettingsmag en Peugeot is daar in in 1943 ooreengekom om silinderkoppe vir Volkswagen se veldvoertuig, die Kübelwagen, te bou.
Iewers het die Duitsers besluit dat die Franse hierdie kuns beter as hulle self bemeester het!
Dit was nie die Peugeot silinderkoppe wat die probleem was nie, net die modderpaaie van Rusland wat hom viervoet laat vassteek het!
Die fabriek in Sochaux kon egter nie sy bestaan regverdig deur net silinderkoppe te vervaardig nie en het ‘n nuwe rol in die Duitse oorlogspoging gespeel; die bou van panele en onderdele vir die Focke Wulf Ta 154 vliegtuie asook talryke kleiner meganiese komponente wat deur die Duitse oorlogspoging nodig was. Verder is ‘n 2- en 3-ton vragmotor ook ontwikkel vir gebruik deur die spilmagte.
Met hierdie toetrede van Peugeot tot die Duitse oorlogspoging het die fabriek ook ‘n teiken vir aanvalle deur die Britse RAF geword en op 16 en 17 Julie 1943 het 150 bomwerpers die Montbéliard/Sochaux kompleks met bomme bestook. Behalwe vir die groot skade aan die fabriek self is daar 125 werkers dood en 250 verwond en beseer.
Die produksie te Sochaux is ook telkens onderbreek deur die ontwrigting wat partisane in die omgewing veroorsaak het asook talle stakings van die Franse werkers in die fabriek.
Teen die einde van 1944 het produksie feitlik tot stilstand gekom omdat masjinerie en toerusting deur die Duitsers gedemonteer is en na Duitsland geneem is om daar onder veiliger omstandighede produksie van belangrike militêre toerusting voort te sit.
Wat was die gevolg van die samewerking tussen Peugeot en die Duitse besettingsmag? Die uitvoerende hoof van die maatskappy vanaf 1941, Jean-Pierre Peugeot, en van die hoofde van die verskillende afdelings van die maatskappy, het na afloop van die oorlog voor ‘n spesiale hof verskyn. Danksy interne sabotasie en die werkersaksies om nie té nou met die Duitsers te heul nie, het die motorvervaardiger lig daarvan afgekom.
Met Louis Renault, die ander motorvervaardiger, het dit nie so goed gegaan nie. Hy het net met té veel entoesiasme die Duitse oorlogspoging ondersteun. Hy is einde 1944 deur die nuwe, interrim Franse regering van sameswering met die vyand, asook selfverryking, aangekla en gearresteer. Hy is tydens aanhouding oorlede aan ‘n harttoestand. Die maatskappy, wat in sy persoonlike besit was, is deur die Franse regering genasionaliseer en word vandag steeds so bestuur.
Bron: Hans Mommsen en Manfried Grieger: Das Volkswagenwerk und seine Arbeiter im Dritten Reich, pp. 650-676 [Der Zugriff des Volkswagenwerkes auf Peugeot]
Foto: Vliegtuig:
http://forum.warthunder.com/index.php?/topic/168581-focke-wulf-ta-154/
Foto: VW Kübelwagen:
Bundesarchiv Koblenz