Spekulerings artikel: Bajaj Qute

Die interweb (oftewel kuberruim) is tans besig om absoluut te gons oor die nuwe Bajaj Qute, wat Suider-Afrikaanse paaie pas getref het. Kom ons kyk na wat hierdie ding nou eintlik is.

Wel, as ek eerlik moet wees, is daar dalk geen ‘getreffery’ nie, siende dat die Qute nie eers werklik die 80km/h merk kan haal nie. Dus, wetlik, mag dit nie toegelaat word op Suider-Afrikaanse paaie nie. Soortgelyk aan die eerste generasie van ‘n befaamde Franse produk, wat in Indië vervaardig was, sal ek persoonlik nie regtig die snelweë hiermee wil aanpak nie, siende dat dit ‘n een-ster veiligheids-rekord het.



Bygenoem sal enige gereelde snelweg pendelaar die frustrasie kan noem van individue, wat met onpadwaardige voertuie teen minder as 80km/h op snelweë in die verbysteek baan (ja, dit is inderdaad die regter baan) almal laat spartel na hul hoë-bloeddruk pille. ‘n Volledige tesis kan oor die werklike redes geskryf word, maar laat ons eerder nie tans die regering martel nie. Hulle sukkel tans reeds met hul kopseer medikasie voorraad.

In Indië, waar pad-regulasies veel anders is en brawe motorfiets- en  poegie-ridders sonder valhelms rond skarrel, maak die Bajaj Qute baie sin. Terselfdetyd is die Qute tans beskikbaar teen R65 000; ‘n ware winskoop vir diegene, wat hierdie as ‘n voertuig sien. Terselfdetyd sal ‘n afbetaling oor 72 maande net onder die R770 draai en brandstofverbruik teen ‘n goeie 35km per liter.

Voordat almal in oproer gaan oor die nuwe, goedkoopste motor op die mark, kyk eers ‘n bietjie na die werklike feite. Hierdie ding mag dalk wel ‘n dak en vier wiele hê, maar om hierdie ‘n ‘kar’ te noem is dalk effe waansinnig.

Het die Bajaj Qute ‘n plek in Suider-Afrika?

Die koms van die COVID-19 pandemie het ‘n geweldige groei in toepassing-gebasseerde aflewerings diensde gesien, met afleweraars, wat rond rits op klein poegies. Hoewel dit ‘n geweldige gerief is, bring dit ook baie frustrasies, met hierdie bestuurders, wat selde die wette op die pad gehoorsaam.

Dit is hier, waar die Qute juis perfek inkom. Met ‘n 216cc enjin (wat 8kW en 18,9Nm uitskop), ‘n algehele grootte van 2.7m in lengte en 1.3m in breedte, is die Qute perfek om meer kruideniersware of dalk weggooi-etes in te vervoer.

Nie net is dit veiliger vir die insittendes nie, maar is dit ook veiliger vir almal anders op die pad. Die Bajaj Qute kom dalk net na Suider-Afrika as ‘n bedekte seëning. 

Teks: Franqo Tjeron
Prentjies: AfricaBajaj.com

Leave a Comment