Toyota is weereens as die koning van die uitmergelende Kenya Safari Tydren bekroon. Hierdie nadat die Wêreld Tydren Kampioenskap vir die eerste keer sedert 2002 die kontinent besoek het.
Terselfdetyd het Sebastien Ogier/ Julien Ingrassia hul vierde sege van die jaar geneem, terwyl Takamoto Katsuta / Dan Barritt hul eerste podium geneem het. Hyundai en Thierry Neuville / Martin Wydaeghe het weereens ‘n bitter einde gesien, na ‘n baie sterk vertoning gedurende meeste van die tydren. Hoewel die 2021 tydren veel korter was as die 2002 weergawe, was dit geensins vervelig nie.
Na 19 jaar is die Safari Tydren uiteindelik weer op die Afrika kontinent gehou en alhoewel die 2021 weergawe sowat 700km kort was van die 2002 tydren se totale afstand, was dit steeds ‘n naelbytende tydren. Onkar Rai, ‘n voormalige wenner, sowel as kenner van die tydren het die 2021 weergawe as een van sy mees toetsende tydrenne nog bestempel.

Kenya, wat reg op die ewenaar sit, het weereens uitmergelende toestande gebied aan jaers, te danke aan veranderende weers toestande, wilde diere in die pad en veranderlike grond oppervlaktes. In kontras met ander Wêreld Kampioenskap rondtes, kon jaers verwag om hul voertuie vanaf 180km/h na ‘n kruipende 20km/h te neem in ‘n enkele kilometer.
Sebastien Ogier (Toyota Gazoo Racing), was vining om net na die eerste sneltrajek te noem dat dit die slimste renjaer sou wees, wat hierdie rondte sou wen, eerder as die vinnigste. Tweedens sou die uitkoms van die tydren meer rus op geluk, meer as in enige rondte van die kampioenskap.
Ironies genoeg is dit presies, wat gebeur het.
Ogier het slegs op die tweede laaste sneltrajek die algehele eerste plek ingeneem, nadat Thierry Neuville en Hyundai sterk op pad was na hul eerste wen. Ogier, die huidige sewemalige kampioen, het baie sterk gelyk op die oefen rondte Woensdag, sowel as die eerste sneltrajek, Donderdag. Terselfdetyd het Toyota ook al die voorlopige podium plekke gevul met Elfyn Evans en Kalli Rovanperä kort op Ogier se hakke.
Met die tweede sneltrajek, vroeg Vrydagoggend, het die Hyundai’s van Neuville en Ott Tänak egter hul aanval geloods, nes die Toyota van Evans ‘n klip getref het en die suspensie gebreek het. Soortgelyk het Ogier ook sy suspensie beskadig, maar kon hy nog deelneem, allermins met stadiger sneltrajek tye. Dani Sordo, in die derde Hyundai het ook op dieselfde sneltrajek sy kar beskadig en moes die i20 parkeer vir die dag.

Hierdie het Neuville na die voorpunt geneem, met die Toyota van Rovanperä kort op sy hakke. Die laasgenoemde se pa het juis twee keer in tweede plek geeindig op die Safari Tydren en kon dus baie raad aan sy seun bied.
Rovanperä het vlugtig die voorlopers pos ingeneem op die sesde sneltrajek, waarna Neuville vining weer nog tien sekondes geneem het. Die laaste sneltrajek van die dag het egter drama gelewer toe Rovanperä, homself in sagte poeier stof ingegrawe het en dus ‘n 10-minuut straftyd moes neem.
‘n Relatiewe stil Saterdag oggend het Neuville ver in eerste plek gesien met Takamoto Katsuta (Toyota Gazoo Racing) en Tänak in die podium plekke, terwyl Ogier stadig, maar seker besig was om sy bykanse 2 minuut agterstand in te haal. Hyundai was op hierdie stadium in ‘n voordelige posisie, met Dani Sordo, wat op die stadium elke sneltrajek eerste sou begin en dus terugvoering aan die span kon gee, voordat Neuville begin.
Met Sordo, Evans, en die twee M-Sport Fords veilig deur die laaste sneltrajek, het ‘n hewige donderstorm uitgebreek. Ogier, volgende op die sneltrajek het die beste hiervan afgekom en kon nie net regkry om 34 sekondes uit Neuville se tyd te neem nie, maar kon ook regkry om ‘n briesende Tänak af te skuif na vierde plek. Die laasgenoemde moes in die middel van die sneltrajek stop om sy voorskerm te ontwasem.

Sondag was veronderstel om ‘n rustige dag te wees, met Neuville ver in die eerste plek. Maar, soos Ogier egter voorspel het, sou die Safari Tydren nog ‘n verassing bied. Sterk oppad na sy eerste sege van die jaar, na ‘n bitter frustrerende begin tot die jaar, het Neuville die eerste sneltrajek van die dag geeindig met ‘n gebreekte regter agter demper. Hy sou dus nie net tyd verloor nie, maar uiteindelik dit nie maak tot die beginpunt van die 15de sneltrajek nie.
Vir die 5de keer het die eerste plek weereens verander en het Katsuta vir die eerste keer in sy loopbaan die eerste plek ingeneem. Die jong Japanese renjaer het nog nie een keer die jaar buite die top ses klaargemaak nie en was sterk oppad na sy eerste oorwinning.
‘n Skrale 4.6 sekondes het egter op die stadium tussen hom en Ogier gestaan en met hope meer ervaring en beter bande, was dit maar net vanselfsprekend dat Ogier die plek sou oorneem.
Katsuta het egter sterk gestaan en die plek behou tot op die 16de sneltrajek, waarna Ogier die laaste uitklop hou gelewer het om op die tweede laaste skof met 8.6 sekondes die eerste plek in te neem.
Niemand kon die stormende Tänak op die laaste sneltrajek terughou nie, met die Hyundai jaer, wat dus 5 ekstra punte vanaf die tydren geneem het. Ogier het egter die wenstreep oorgesteek, sowat 22 sekondes voor Katsuta algeheel.
Die 2021 Kenya Safari Tydren was geensins vervelig nie en het die presiese aksie opgelewer, waarna die tydren wêreld soek. Die Safari tydren het beslis ‘n merk gelaat.
Die ikoon is terug!
Teks: Franco Theron (Galimoto Media)
Foto’s: Red Bull Media Content Pool