2018 Datsun Go

2018 Datsun Go

Verbeterde veiligheid en toerusting

Toe die Datsun Go vier jaar gelede op die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel is, was die groot kritiek die gebrek aan veiligheidstoerusting. Dit het geen lugsakke of sluitweer (ABS) remme gehad nie. Later is ‘n enkele lugsak vir die bestuurder bygevoeg op die Lux modelle. Die gedagte was om die koste so laag as moontlik te hou en sodoende ‘n nuwe voertuig in die bereik van moontlike eerste kopers te plaas…



Ten spyte van hierdie beperkings, was die Go redelik suksesvol en het in die omgewing van 500 per maand verkoop. Dit wys dat baie mense graag ‘n nuwe motor wil besit al voldoen dit nie aan internasionale veiligheidsstandaarde nie. Die Go het genoeg ruimte vir vyf mense en dit was bedoel om meestal in stedelike areas gebruik te word.

Nou het Datsun egter die nuwe geslag Go en Go+ modelle plaaslik bekendgestel. Van buite is die voorkant herontwerp met veranderings aan die sierrooster asook die voor en agter buffers. Opvallend is die nuwe 14” allooi wiele en die dagryligte (Lux) aan die buitekante van die voorste buffer. Hierdie veranderinge laat die Go meer modern lyk. Al vier ruite is elektries en die kantspieëls wat die kleur van die bakwerk is, kan ook elektries verstel word.

Daar is sensors agter vir hulp met parkering, Sentrale sluiting en ‘n immobiliseerder is standard terwyl die Lux-weergawe ook dagryligte, agterste ruitveër/wasser en deurhandvatsels met dieselfde kleur as die bakwerk het.

Binne lyk die herontwerpte voorpaneel sommer heelwat mooier as die vorige. Die plastiek is nog steeds hard, maar die mat-afwerking saam met die 7’ raakskem, laat dit luuks en duursaam lyk.

Seker die heel belangrikste toevoeging is die veiligheidstoerusting. Daar is ‘n tweede lugsak ingeplaas aan die voorste passasier se kant en sluitweer remme (ABS) is nou in al die modelle. Daar word beplan om stabiliteitbeheer in 2019 by te voeg.

Ander toerusting wat die rit beter en meer veilig maak is die groter skyfremme voor wat die rem-aksie met meer gemak en meer konsekwentheid uitvoer. Aandag is ook gegee aan die veerstelsel vir beter stabilteit en die absorbsie van ongelykhede op die pad. Die stuur is lig in die stad teen lae snelhede maar word ferm  wanneer die Go teen hoër snelhede beweeg. Die draaisirkel is klein en dus ideal vir stedelike omstandighede. Die bakwerk is stewiger gebou wat stabiliteit verbeter.

Binne in alle weergawes is daar koppelings vir jou selfoon (beide Android en Apple) asook Bluetooth en ‘n USB poort. Die Lux model kry jy ‘n toereteller en die lugreëling-knop, die luginlate en die deurhanvatsels is met silwer afgewerk.

Die Go word nog steeds aangedryf deur dieselfde 3 sillinder enjin van 1,2 liter wat 50kW ontwikkel en 104Nm wringkrag lewer. Tans is daar slegs een ratkas, nl ‘n vyfspoed handrat maar Datsun  voorsien dat ‘n CVT outomatiese ratkas in 2019 ‘n opsie op die Suid-Afrikaanse mark sal wees. Dit word alreeds in ander lande verkoop.

Anders as met die bekendstelling van die eerste Go model in 2014, het ons die kans gehad om die kar op meer uiteenlopende padtoestande te toetsbestuur. Van die snelweë van Gauteng teen 120kph tot in die hart van Soweto. In al hierdie omstandighede was die Go stabiel en maklik om te bestuur. Teen lang bulte is die 1.2 liter soms uitasem en daar moet terug geskakel word na vierde rat. Die enigste klagte  met die toetsmotor was dat met die skakeling van vyfde na vierde rat dit effe stram gevoel het. Dalk kon dit wees omdat die voertuig nog baie nuut was. Die groter wiele (14”) help ook met die beter stabiliteit op die pad teen hoër snelhede. Datsun gee die brandstofverbruik aan as 5,2 liter/100km.

Lugversorging het baie goed gewerk op ‘n warm dag op die Hoëveld en die aparte voorste sitplekke was baie gemallik  – beslis meer gemalik as die bank sitplek van die vorige Go.

Datsun gee ‘n standard 3 jaar of 100 000km waarborg  saam die die verkoopprys van die Go. ‘n Diensplan is opsioneel.

Modelle in die reeks:

  • GO Mid Spec    R144 500 
  • Go Lux Spec   R165 500 
  • GO+ 7-sitplek Mid   R154 200 
  • GO+ 7-sitplek lux   R175 900 
  • Go+ Panel Van   R155 200 

Die voornemende koper kan ook sy Go effe anders laat lyk met groter 15” allooi wiele en ‘n drukvlerk agter.

Die groot kritiek op die eerste generasie Go, nl die gebrek aan veiligheidskenmerke en die min stadaard toerusting asook die binneafwerking, is tot ‘n groot mate aangespreek in hierdie opgeknapte Go. Datsun het sonder twyfel  hulle huiswerk gedoen en kan nou meeding met die ander fabrikate in die intreevlak A-segment.

Ander fabrikate wat oorweeg kan word in hierdie segment is die Renault Kwid (R128 900 – R149 900), Suzuki Celerio (R138 500) en die Kia Picanto (R155 495)

Leave a Comment