Die derde van die Duitse drietal
Die Mokka is Opel se eerste sub-kompakte SNV (sportnutsvoertuig) en sal vanaf die einde van Maart 2015 in die vertoonkamers wees. In Europa is hy nie meer nuut nie, en is al aan die einde van 2012 te koop waar hy goeie sukses gehad het met verkope van meer as 24 0000 eenhede in 2014.
Volgens Opel plaas hulle die Mokka tussen die B en die C-segment en is dus in kompetisie met heelwat ander fabrikate. Die Mokka is die derde model van Opel in Suid-Afrika van die drie “Duitsers” na die onlangse bekendstelling van die nuwe Corsa en die Adam.
Waar daar heelwat verskillende keuses in Europa te koop is, kry Suid-Afrika net die turbopetrolenjin met voorwielaandrywing maar wel twee keuses van afwerking, naamlik die Enjoy en die meer luukse Cosmo. Met albei hierdie opsies kan die keuse tussen handrat of outomaties gemaak word.
Van buite lyk die Mokka modern en kompak met die tipiese voorkoms van ‘n SNV. Voor is daar dagry ligte en misligte voor en agter.
Binne is die afwerking baie goed en gee ‘n gevoel van kwaliteit met voldoende ruimte vir vier rugby voorryspelers. Die bagasiebak is ‘n ruim 356 liter wat verder vergroot kan word na 785 liter met die opslaan van die agterste sitplekke.
Die Mokka is toegerus met talle luukshede en beide die Cosmo en die Enjoy is toegerus met klimaatbeheer, elektriese vensters, spoedbeheer asook verhitte en opvoubare kantspieëls. Verder het altwee ook Radio/CD met Bluetooth/USB/MP3/AUX toegang en 6 luidsprekers en afstandsbeheer vanaf die stuurwiel.
Die meer luukse Cosmo is nog ook toegerus met ‘n tru-kamera, outomaties verstelbare tru-spieëltjie, outomatiese ruitveërs en leer-oorgetrekte sitplekke.
Die Mokka word aangedryf deur Opel se beproefde 1 400cc turbo petrolenjin wat ook in ander Opel modelle soos die Astra diens doen. Die enjin ontwikkel 103kW tussen 4 900 en 6 000 rpm en wringkrag van 200Nm vanaf 1 850 tot 4 900rpm. Die Mokka word aangedryf met die voorwiele deur ‘n ses-spoed handratkas of ‘n ses-spoed outomatiese ratkas.
Die Mokka is glad nie afgeskeep as dit veiligheid kom nie met geen verskil tussen die Enjoy en die Cosmo nie. Albei is toegerus met 6 lugsakke en ABS en stabiliteitsbeheer (ESP).
Die rit is stewig en teen normale snelhede voel die Mokka baie veilig en in beheer. Daar is wel padgeraas wanneer die teer aan die growwe kant is, maar slegte dele soos slaggate en grondpaaie kan met gemak handteer word. Die Enjoy het 215/60R17 bande terwyl die duurder Cosmo 215/55R18 bande gebruik.
Opel gee die gekombineerderde (stad en langpad) gemiddelde brandstofverbruik aan as 6,0 l/100km vir die handrat weergawe en 6,6 l/100km vir die outomatiese modelle.
Daar is heelwat soortgelyke modelle soos die Mokka deesdae op die mark. Dit is ‘n mark wat groei en baie kopers van B- of C- segment sedans of luikrug motors wat meer spasie het en meer veelsydig is kan die Mokka oorweeg. Direkte mededingers is bv beide Nissan se Juke en Qashqai.
Pryse van die vier keuses vir die Mokka is:
Mokka Enjoy (handrat) – N$288 500
Mokka Enjoy (outomaties)– N$298 500
Mokka Cosmo (handrat) – N$325 500
Mokka Cosmo (outomaties) – N$335 500
Die Mokka is ‘n lekker, luukse veelsydige voertuig wat ewe tuis in die stad of op die langpad is. My keuse sal val op die Enjoy met outomatiese ratte omdat dit soveel meer gemaklik is om te bestuur in ‘n stedelike omgewing met die baie verkeer en die baie stoppe. Al is dit die intreemodel is dit beslis nie afgeskeep wat betref luukhede en veiligheid nie.
Die waarborg en diensplan wat saam met die Mokka verkoop word is 5 jaar of 120 000km en ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000km. Verder is daar ‘n anti-roes waarborg van 5 jaar sonder die beperking van kilometres. Diensintervalle is elke 15000km of elke 12 maande.