Padtoets: Nissan X-Trail 2.0 XE

Beproef en Byderwets

Dié wat Nissan/Datsun uit vergange dae ken weet dat perde uit hierdie stal saam met die vinniges kon hardloop, lang asems het en ook saam met die trekperde voor ‘n swaar gelaaide wa hulle ding kan doen. Betroubaarheid en bruikbaarheid was een van die dinge wat jy met die rooi-en-wit logo geassosieer het. Boonop is daar verskeie lande, onder andere Australië, waar die Nissan Patrol onder die “regte” 4X4’s die topverkoper is!

Dit laat ‘n mens dink.

Met die bekendstelling van die Nissan X-Trail ‘n dekade of wat gelede het hy onmiddellik goed verkoop, in beide sy 4X2 en 4X4 weergawes en ook in diesel- en petrolweergawes. Nadat ek een van die diesels toetsbestuur het, het ek kort daarna ‘n ander, meer modieuse en heelwat duurder 4X4 getoets en die opmerking gemaak dat die meer sierlike wa nog beter sou wees as hy die X-Trail se turbodieselenjin onder die enjinkap gehad het.

Die ou bekende, vierkantige en doelmatige X-Trail het nou plek gemaak vir die nuwe vaartbelynde, meer verfynde bakwerk wat van buffer tot buffer nuut is; ‘n mens kan nou maar ene maal nie teen verandering stry nie. In ‘n goeie sin bedoel; Vaal Floors het nou ‘n Blink Stefaans geword!

Die platvorm waarop die nuwe X-Trail gebou is, is dieselfde as die van die Qashqai en dit het Nissan in staat gestel om hom langer en breër as sy voorganger te maak; die as-afstand is met 75mm verleng en verskaf nuo groter stabiliteit teen hoë snelhede. Wat gaaf is, is dat die  X-Trail die grondvryhoogte van sy voorganger, wat 209 mm is, behou het. Ondanks die groter bak weeg hy 90 kg minder danksy die gebruik van hoë-sterkte staal.

Ons toetsmodel was die 2.0 TX petrolmodel, een van die vyf basiese weergawes van hierdie reeks. Hy is ook beskikbaar met vyf of sewe sitplekke en is in hierdie opsig ‘n ware familievoertuig. Hoewel die “intreemodel” ‘n handratkas het, is hy baie goed toegerus met talle eienskappe wat by meer luukse voertuie aangetref word. Die lys is lank en ons noem net die belangrikste: Spoedbeheer, uitstekende klankstelsel met handvrye bloutandbystand vir dié wat lang selfoongesprekke op pad voer, al die soorte koppelings vir musieklyste en dies meer.

En wat betref die veiligheidseienskappe, is die lys volledig… ses lugsakke, ABS, EBD en VDC.

Van die werking van hierdie elektroniese hulpmiddels kan op die klein skermpie in die paneelbord gemonitor word; die oomblik wat daar teen hoë snelheid om draaie gery word, word die padgedrag aangedui. Fassinerend! (Nissan noem dit “Advanced Drive-Assist Display”). Boonop is die outomatiese daglig-ryligte natuurlik ook ‘n veiligheidseienskap omdat die voertuig soveel meer sigbaar is, veral as dit ‘n kleur het wat maklik teen die agtergrond van ‘n teerpad versmelt.

Praktiese en nuttige dinge is die wegtrekbeheer teen opdraendes en die ten volle verstelbare stuurwiel waarin kort en lang bestuurders die ideale bestuursposisie gaan vind. Ouer bestuurders, en die wat nog oefen om hulle bestuurlisensie te kry het, sal veral hou van die wegtrekhulp! Die spaarwiel is volgrootte en nie een van die Mariebeskuitjies wat by sommige super-luukse  mededingers gekry word nie. Hier het Nissan sinvol gedink!

Die enjin is die deeglik beproefde 1 997 cc enjin wat 106 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 200 Nm teen 4 400 rpm aan die bestuurder beskikbaar stel om maklik nie teen ‘n redelike bult spoed te laat verloor nie. Krag word na die voorwiele deur ‘n gladde, sesgangratkas oorgedra. Volgens Nissan is hy in staat om die naald by 183 km/h te laat draai en van wegtrek af in net meer as 11 sekondes die naald op 100 km/h te sit. Vir alledaagse brandstofverbruik word  8,3 l/100 km as realisties bereken met ‘n minimum van 6,6 l/100 km op die oop pad.

Gedrag op alle soorte paaie, van goeie teer tot rowwe sinkplaat, is uitstekend. Hiertoe dra die 17” bande by met genoeg rubber om as veringmiddel te help. (Wanneer gaan van die ander vervaardigers besef dat lae profiel bande NIE vir grondpaaie bedoel is nie?. Is voorkoms werklik alles?).

Die X-Trail is moontlik nie Nissan se topverkoper nie maar pas netjies in in die modelreeks wat hulle aanbied, van ligte bakkies tot ernstige 4X4s, vanaf ‘n intreemodel Datsun tot werklik vinnige renperde. Boonop het dit nou onlangs bekend geword dat Mercedes-Benz in samewerking met Nissan die bakkiemark wil betree. Hoef daar nogiets gesê te word?

Die 2.0 TX petrolmodel verkoop teen N$237 700 waarby ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000 km en ‘n waarborg van 6 jaar of 150 000 km. Diensintervalle is 15 000 km.

1 thought on “Padtoets: Nissan X-Trail 2.0 XE”

Leave a Comment