Die Honger Leeu tussen die Suikerriet!
Die Franse maak erns met die plaaslike motormark. Die afgelope week het motorjoernaliste met die nuwe Peugeot 308 tussen die suiker- en houtplantasies rondom die Natalse Middelland kennis gemaak – en ‘n beter omgewing om die jongste produk uit Frankryk te toets kan daar nie wees nie; goeie teerpad, smal teerpad, grondpad en plaaspaaie tussen die suikerriet deur.
Soos tydrengeesdriftiges weet is dit juis hierdie suikerplantasies wat tydrenners so geniet, en die vrye teuels wat Peugeot die joernaliste gegee het om twee ure lank te ry waar hulle wou, was die geleentheid waarop meer as een gewag het. Saam met my goeie vriend die Jaagduiwel van die Weskus agter die wiel, was ek daarvan oortuig dat die roem van Peugeot en die Oos-Afrika Safari van vroeër jare, die leeu weer “terug in die wedren is”. Hierdie frase was ook die woorde van Francis Harnie, grootbaas van Peugeot in Suid-Afrika.
Wêreldwyd het die leeu weer sy kop opgetel en brul hy soos in die dae van ouds.
Hoe lyk hierdie nuwe leeutjie? Peugeot-entoesiaste sal bly wees om te sien dat die Peugeot embleem weer op die verkoelerrooster is waar hy hoort sodat die manne wat voor ry, kan sien wat vinnig van agter af aankom. Verder is die lyne nog gladder, LED liggies voor en agter, ‘n meer vierkantige agterstewe wat hom vinniger laat lyk en dan die dubbele uitlaatpype wat agter baie goed weggesteek is.
Die binneruim is verfrissend nuut met ‘n paneelbord waar slegs die noodsaaklikste analoog en digitale instrumente voor die bestuurder uitgelê is met ‘n groot raakskerm in die middel waar al die nodige funksies met die druk van ‘n vinger te voorskyn kom. Synde effens agtergelaat te wees met nuwe media, was die funksionering van die raakskerm bobbejaan-maklik. Die res van die kontroles soos verandering van volume van die radio of musiekstelsel word van die stuurwielkontrole af gedoen.
En natuurlik is daar voorsiening van ‘n USB-poort om ander funksies ook in te skakel, onder andere om BlackBerrys te laai. Net een ding; by die analoog toereteller is, soos ‘n mens kan verwag van die Franse wat dinge dikwels anders doen as ander, draai die wyster anti-kloksgewys! En die stuurwiel is kleiner as enige ander motor s’n, tipies van die nuwe Franse leeus.
Die 308 deel nou ‘n nuwe onderstel wat met ander modelle uitgeruil kan word en maak gebruik van PureTech enjintegnologie op die 1,2 liter aangejaagde petrolenjin; dié is op sy beurt gekoppel aan ‘n sesgang-handratkas. Sewentienduim wiele voltooi die aandryfpakket.
Tot met die wegtrekslag was almal was onkundig oor wat onder die enjinkap was en die meeste van my kollegas was daarvan oortuig dat dit ‘n 1,6 liter turbo-eenheid was – totdat dit spesifikasies later verskaf is. Die antwoord vir die dwaling is die feit dat die klein enjin in die GT Line 96 kW teen 5 500 rpm ontwikkel en die maksimum wringkrag van 230 Nm reeds vanaf 1 750 rpm beskikbaar is. Die gevolg is natuurlik uiters goeie versnelling in al die ratte en die die leeutjie versnel dan ook vanaf 0-100 km/h in minder as 10 sekondes en laat draai die naald by 207 km/h.
Die brandstofverbruik is dan ook baie naby aan die ekonomie van ‘n dieselenjin – wat natuurlik veel duurder sal kos. ‘n Amperse wêreldrekord is dan ook in Europa opgestel toe ‘n 308 die afstand van 1 810 km op 51,4 liter brandstof afgelê het. Maar dit is in Europa onder optimale omstandighede. Met sulke lekker verrigting gaan dit uiterste selfdissipline kos om so ‘n rekord by ons op te stel!
Die nuwe 308, met sy nuwe onderstel en suspensie en die wiele op die uithoeke van die motor, is absoluut stabiel op slegte paaie en laat die slaggate teen hoê snelheid sagkens verdwyn. Die stuur is akkuraat en hy klou aan die pad soos die spreekwoordelike klitsgras aan ‘n wolkombers.
Die prys van die nuwe knaap is N$329 900.
Daar is egter ‘n effens minder luukse 308 Active model met dieselfde grootte enjin maar met ‘n laer kraguitset en toegerus met ‘n vyfgangratkas en 16-duim wiele. Die enjin ontwikkel 81 kW teen 5 500 rpm en stel nog steeds ‘n deugsame 205 Nm wringkrag beskikbaar teen nog laer omwentelinge as sy vinniger broer; die krag is vanaf slegs 1 500 rpm beskikbaar. Hy is effens stadiger van die merk af en haal die 100 km/h in 11,1 sekondes en laat die naald draai by 188 km/h.
Vir hierdie effens minder krag en verrigting is daar ‘n groot afslag; hy kan gekry word vir N$275 900. As hy nou net met ‘n outomatiese ratkas toegerus was, was hy die ideale aftreemotor! So wag miskien maar nog ‘n jaar of wat ek kyk wat so ‘n leeutjie sal kos!
By die prys van die 308 is daar ‘n driejaar/100 000 km waarborg en word hy ondersteun deur ‘n vyfjaar/60 000 km PremiumPlan diens- en onderhoudsplan.
Enige negatiewe kritiek? Die toereteller wat verkeerdom draai!
0-10km/h: 0.48 seconds
0-20km/h: 1.04 seconds
0-30km/h: 1.59 seconds
0-40km/h: 2.21 seconds
0-50km/h: 3.38 seconds
0-60km/h: 4.17 seconds
0-70km/h: 5.11 seconds
0-80km/h: 6.17 seconds
0-90km/h: 7.83 seconds
0-100km/h: 9.38 seconds
0-110km/h: 11.11 seconds
0-120km/h: 12.95 seconds
0-130km/h: 15.31 seconds
0-140km/h: 18.66 seconds
0-100m: 7.07 seconds @ 86.65km/h
0-200m: 10.78 seconds @ 108.37km/h
0-300m: 13.87 seconds @ 124.18km/h
0-400m: 16.64 seconds @ 134.92km/h
Maximum acceleration G-force: 0.61G
Altitude: 51m
All data captured by Racelogic® Performance Box