J1 slaan motorpryse vir ‘n kishou!
Daar is al voorheen melding gemaak van die feit dat daar by die Suid-Afrikaanse motorpubliek die persepsie bestaan dat die verskillende Chinese motorfabrikate wat die laaste twee tot drie jaar die plaaslike mark betree het, van minderwaardige gehalte is.
Maar skeptici is ook daarop gewys dat dit ook die geval was toe Japannese voertuie jare gelede die eerste keer hul verskyning op die Suid-Afrikaanse mark gemaak het!
Met die onlangse bekendstelling van Chery se J1 modelle, wat spesiaal vir die uitvoermark in China gebou word, het hierdie motorvervaardiger dit baie duidelik gemaak dat hulle te enige tyd saam met die groot honde kan blaf wat gehalte en veiligheid betref. Om van die prys nie eers te praat nie, maar hierdie goeie nuus vir later. Genoeg om te sê dat die Chery J1 sekerlik die beste pakket in terme van waarde vir geld bied wat daar tans op die Suid-Afrikaanse motormark te kry is.
Op die Chinese mark lees die Chery se sukses soos ‘n sprokie. Tussen 2005-2008 het produksie met 56% gegroei. Daarby moet Chery se 6% groei vir 2008/2009 boekjaar, te midde van die ernstige ekonomiese krisis, menige ander motorvervaardigers groen van jaloesie maak! Dit was die gevolg van, onder andere, uitvoere na 70 lande wêreldwyd. Produksie-eenhede word in 15 lande aangetref wat meegebring het dat in 2009 sover 1,5miljoen eenhede van die Chery verkoop is.
Met die samesmelting van McCartney en Imperial het Amalgamated Automotive Distributors die gaping in die B-segmentmark raakgesien. “Ons glo dat die fabrikaat sedert sy oorspronklike bekendstelling in Suid-Afrika in Mei 2008 verwagtinge in die intreesegment van die mark verander het,” het Brett Soso, die besturende direkteur van Chery SA, ’n afdeling van Amalgamated Automobile Distributors, gesê. Daarby het die verspreiders ook gesorg dat daar ‘n uitgebreide netwerk van diensverskaffers landwyd is en is miljoene rande belê in ‘n groot voorraad van onderdele indien benodig. Die J1 word egter omvattend vir 3 jaar gewaarborg met daarby ook ‘n 3 jaar diensplan.
Maar dan nog beter nuus: Die reeks bestaan uit twee modelle – die J1 1,3 TE en die vlagskip-J1 1,3TX. Al twee voertuie, waarvan die prys by N$109 900 begin, (tydens die bekendstelling is bekend gemaak dat die intreeprys tot N$106 900 verlaag is!) is omvattend toegerus met kragstuur, lugversorging, allooisierwiele en belangrike veiligheidstoerusting soos dubbele lugsakke en sluitwerende remme met elektroniese remkragverdeling.
Die Chery J1 is die eerste wêreldmotor uit die stal van dié Chinese voertuigvervaardiger en is daarop gemik om ’n stylvolle, bekostigbare motorryproduk vir klante in Europa, Noord-Amerika, Asië en natuurlik ook Suid-Afrika, te bied.
Die J1 pronk met ontwerpinsette van ’n hele aantal van die wêreld se voorste voertuigontwerpmaatskappye om te verseker dat die voertuig ’n nuwe standaard stel vir mense wat die betonoerwoud wil tem, maar hul beskikbare ontspanningstyd ook ten volle wil benut.
Die vyfsitplek-J1 lyk effens soos ’n nutsmotor danksy sy sportiewe teenwoordigheid en hoë houding. Dit is nou wel ’n goed toegeruste kompakte motor, maar is ontwerp om die beste binne- en bagasieruim te bied danksy sy asafstand van 2 390mm en hoogte van 1 564mm, wat styl met praktiese aanwending en veelsydigheid balanseer.
Die Chery J1 het ’n splinternuwe 1,3-liter-petrolenjin met brandstofinspuiting, en wat uniek deur Chery ontwikkel is om baie van sy belangrikste mededingers op die gebied van kraglewering en brandstofekonomie uit te stof.
Die nuwe viersilinder-Acteco-kragbron, wat aan die Euro III-uitlaatvereistes voldoen, lewer 61kW teen 6 000r/min en ontwikkel 114Nm wringkrag tussen 3 800 en 4 500r/min, terwyl die enjin met sy gemiddelde verbruiksyfer van net 6,7ℓ/100km ook minder besoeke aan die vulstasie waarborg.
Die voorwielaangedrewe J1 is van ’n 5-gang-handratkas voorsien om die meeste van die enjin se gewilligheid te maak. McPherson-stutte word vir die voorvering gebruik met kronkelvere en sleeparms agter.
Hoewel groot klem op die voorsiening van ’n lewendige en doeltreffende enjin vir die nuwe J1 geplaas is, is dit sy toerusting wat hom eintlik laat uitstaan.
Die groot engeloog-kopligte sorg dat jy snags maklik kan sien waar jy ry, terwyl veiligheid ’n verdere hupstootjie gekry het danksy die insluiting van sluitwerende remme met elektroniese remkragverdeling, dubbele lugsakke, syslagstawe en ’n hoë derde remlig – toerusting wat doodeenvoudig nie gewoonlik in hierdie klas voertuig as deel van die standaard-toerusting beskikbaar is nie. Truratparkeersensors kan bykomend vir die TX-weergawe bestel word.
Omvattende evalueringstoetse is ook in Suid-Afrika gedoen om die voertuig se duursaamheid en gehalte in plaaslike toestande te beproef. ’n Klankstelsel met ’n CD-speler en USB-sok word ook in al twee modelle as deel van hul standaard-toerusting aangetref. Kragstuur maak kinderspeletjies van maneuvreerwerk in stadsverkeer, terwyl die J1 se draaisirkel van ’n skrale 4,75m moeitelose parkering in selfs die mees beknopte parkeerplekkies verseker. Die nuwe reeks is ook toegerus met afstand beheerde sentrale sluiting, en die TX het die bykomende weelde van geriefssluiting.
Daarbenewens het die J1 1,3 TX-weergawe ook elektries beheerde vensters voor en agter, terwyl sy buite-truspieëls ook elektriese verstelling het
Die Chery J1 is gewis die antwoord vir mense wat hoë verwagtinge van hul daaglikse vervoer het. Sy balans tussen leefstyl, praktiese gebruik en bekostigbaarheid word nie in die mark geëwenaar nie en die voertuig het sy visier stewig daarop ingestel om ’n wenkombinasie te wees.