Padtoets: 2009 Subaru Forester 2.5 XT

‘n GT vir Bosbouers

“Het jy lus om ‘n Subaru te toets?” vra ons senior joernalis by die weeklikse vergadering. Wees nou eerlik, wat sou u antwoord gewees het? Ek het ook so gedink; en minute later was ek agter die stuurwiel van die nuutse Subaru Forester, ‘n 2.5 XT model.

Dit was miskien nie die wilde Impreza WRX nie, maar ek het altyd van sy suster vier-by-vier gehou. Boonop was my toetsvoertuig die regte kleur vir ‘n Subaru: metaal-blou.

Die Forester het nog altyd goed gelyk. Vorige modelle het aan ‘n stasiewa met meer grondvryheid herinner, en die nuutste weergawes lyk nog beter met goeie verhoudings in die voertuig se ontwerp. Groot vensters en ruite pas by die modern-getekende bakwerk met groot wiele (en “wheel arches”), ‘n blink sierrooster, dakrak en ‘n aantreklike agterkant.

Sy voorste buffer lyk effens kort, maar dit gee dié sportnutsvoertuig meer vermoë as die teerpad eindig en daar skielik ‘n heuwel of berg in jou pad is. Geïnspireer deur sy naam het ek die Forester na ‘n bos gevat en hom tussen die bome laat speel. G’n probleem vir die Subaru en sy simmetriese permanente 4×4 stelsel of die 2.5 liter Boxer vier-silinder enjin nie.

Die Subaru Forester is beskikbaar in vyf afwerkings: X, XS, XS Premium, XT, en XT Premium. Alle modelle maak gebruik van die so pas genoemde Boxer kragbron, maar die laaste twee (XT en XT Premium) sit nog ‘n turbo-aanjaer daarby. Die 2.5 horisontale vier-silinder skop 126kW (171pk) of 229Nm uit, en die turbo verbeter hierde syfers tot 169kw (230pk) en 320Nm.

Tussen die verskillende pakette vind mens vier vyf-spoed handrat modelle en vier weergawes met ‘n viergang outokas. Ons XT toetsvoertuig was dus die 230-perdjie, 7.1 sekondes tot honderd, 210km/h hand-rat model. En ek is verheug om te rapporteer dat dit soos veel meer gevoel het!

Die XT (turbo) Forester is een van daai motors wat kragtiger voel as wat hy is, en dit is die skuld van die Boxer enjin se manier van krag lewer. Dit is asemrowend! As die turbo begin druk opbou voel die krag (en wringkrag) meer as die syfers op Forester se glanserige brosjure. Sy nul-tot-honderd tyd verbaas ook die meeste passassiers, en ook raserige, rooi luikrug-motors by verkeersligte.

Op die langpad is sy gedrag ewe indrukwekkend en mens hoef nooit ratte wissel nie om vinnig spoed op te tel nie. Sit voet neer, en die 320Nm voel meer soos 500Nm as die Forester by enige spoed (en enige toere bo 1 500 rpm haastig raak en begin in die rigting van die horison draf. Nou verstaan ek die konsep agter Subaru se Boxer-kragbronne, veral as hulle deur ‘n drukanjaer gevoer word. En miskien die sterre: reik na die sterre!

Die tipe enjin gee die motor ook ‘n laer swaartepunt en die onmiskenbare tjoef-tjoef geluide wat horisontaal-gerigte silinders kenmerk. Die vorige eienskap is ook baie welkom, omdat die Forester groter en swaarder is as wat ek verwag het. As jy soos ‘n tiener bestuur, kantel sy bak graag in die teenoorgestelde rigting van jou gewensde roete.

Die uitstekende padgedrag is te danke aan sy effens sagte (en gemaklike) veringstelsel, maar met sy 17-duim wiele, 225/55 rubber, EBD en ABS remme, wieltol- en stabiliteitsbeheer sal die Forester sy beste doen om jou afskuwelike manier van bestuur te beheer. Nog ‘n voordeel van sy gewig en veringstelsel is dat die Forester (veral op ‘n snelweg) sy insittendes altyd veilig en gemaklik laat voel.

Hier sal sy brandstofverbruik ook verbeter om ‘n gemiddeld van 10.5 L/100km te haal; in die dorp is die Forester effens meer dorstig! Maar sy drukanjaer en wringkrag gee ‘n Foreste- eienaar ook die geleentheid om teen laer toere (en laer brandstofverbruik) deur die vyf ratte te beweeg.

Die ratkas is nie altyd vriendelik nie (veral tru-rat), maar die pedale en stuur is maklik om te bedien. Ek kon nie altyd met die koppelaar en sy elektroniese hulpmiddels maats maak nie; maar dit het my net ‘n slegte verskoning gegee om ‘n bietjie vinniger by die ligte weg te trek.

Ja, nee. Die Forester XT se verrigting is beslis iets vir entoesiaste, maar die res van hierdie Subaru sal maklik die ander lede van hulle gesin oortuig. Die binneruim bied genoeg spasie vir vyf volwassenes (met bagasie) en in die XT uitgawe sal hulle die volgende handige dinge vind: Kragstuur, lugversorging, ses lugsakke, sagte bekleedsel met silwer aksente, aluminium pedale, elektriese vensters en spieëls, 60/40 voubare agterbank, ‘n veelsydige bagasieruim met deksel, spoedbeheer en klankstelsel kontroles op die stuurwiel, 6 luidsprekers met “subwoofer”, ‘n 12V en ekstra sok, en talle paneelkassies.

Ons toetsvoertuig het ook ‘n hoogs-indrukwekkende ekstra gewys: ‘n Kenwood radio/CD/DVD/mp3 speler met groot aanraak-beeldskerm vir musiek, navigasie, DVD’s, i-pod, en tru-kamera.

Die veelsydige klankstelsel, nes die Forester se binneruim, verrigting en gemaklike padvermoë het ‘n baie goeie indruk geskep. Die 2.5 XT kos N$407 000, het ‘n 3 jaar 100 000km waarborg en ‘n 3 jaar of 63 000 km diensplan.


Image Gallery

Leave a Comment