Fiesta kry ‘n kattebak en ‘n outomaties ratkas by
Ford Suid-Afrika het die modelreeks van die gewilde Fiesta uitgebrei om meer aan die behoeftes van die Suid-Afrikaanse koperspubliek te voldoen. Omdat Ford ook fasiliteite in Thailand het, word die meeste van die nuwe modelle, insluitende ‘n nuwe vier-deur sedan daar gebou.
Slegs die drie-deur luikrug met die Titanium afwerking kom van Keulen in Duitsland. Daar is ook ‘n nuwe sesspoed, dubbelkoppelaar Powershift-ratkas wat in beide die luikrug en die sedan beskikbaar is. Daar is nou dertien modelle en twee petrol enjins (1,4 liter en 1,6 liter) en ‘n diesel enjin (1,6 liter) om van te kies.
Behalwe die nuwe sedans is daar nou ook die nuwe Fiesta Sport. Dit is die top model van die vyf-deur luikrug reeks. Die Sport word onder meer onderskei deur 16” allooiwiele, sportvering, twee openinge onder in die voorbuffer met ’n silwer omlyning, sportsitplekke, ’n stuurwiel oorgetrek met leer, sewe lugsakke, ’n radio/CD met MP3-terugspeelbaarheid, “Aux”-prop, Bluetooth®, stembeheer en ’n USB-verbinding.
Hierdie Fiesta word aangedryf deur die 88 kW 1,6 liter petrol enjin wat lekker lewendig is maar mens sou graag meer krag wou hê om aan die “Sport” naam reg te laat geskied.
Die sedan reeks bestaan uit vyf modelle met ’n keuse van ’n 1,4 liter en ’n 1,6 liter petrolenjin asook die 1,6 liter dieselenjin. Twee afwerkingsvlakke is beskikbaar – Ambiente en Trend. Die sedan is wat afwerking en toerusting betref in feitlik alle opsigte dieselfde as die luikrug Ambiente- en Trend modelle, behalwe vir ‘n kattebak met ‘n grootte van 430 liter. Met die produksie in Thailand is daar wel gepoog om koste te bespaar, maar min mense sal dit opmerk.
Die kwaliteit van die afwerking is nog steeds baie hoog en daar is geensins afgewyk van die kenmerke wat die Fiesta gewild gemaak het nie. Dwarsdeur die reeks het al die goedkoper modelle twee lugsakke voor.
Wat die ontwerp van die sedan betref, het die ontwerpers van Ford dit reggekry om die sportiewe voorkoms van die vyf-deur luikrug baie goed na die sedan oor te dra. Die wielbasis is dieselfde en die sedan vertoon proporsioneel goed. Die egalige kurwe van die agterruit laat die sedan amper soos ’n koepee lyk en saam met die kattebak, gee dit aan die sedan ’n effense luikrug voorkoms. Reg van agter lyk die sedan dalk effe aan die bonkige kant maar uit die meeste ander hoeke steek dit nie juis af by die vyf-deur luikrug nie.
Maar, soos dit dikwels die geval is, sal die luikrug vir die meeste mense meer sportief en gebalanseerd voorkom. So, dit is ‘n kwessie van smaak en die behoefte vir meer pakplek wat mens tussen die twee bakvorms sal laat kies. Met die agter sitplekke opgeslaan in plek het die luikrug 281 liter spasie vir bagasie terwyl die sedan se kattebak ‘n ruim 430 liter is. Die sedan is dus meer op die klein gesin gemik.
Met dieselfde wielbasis is daar nie veel verskil in ritgehalte tussen die sedan en die luikrug nie en albei het ‘n aangename rit as in ag geneem word dat dit ‘n kleinerige motor is.
Die ander groot nuus is die toevoeging van die PowerShift-ratkas tot die reeks. Die PowerShift-ratkas is ’n handratkas sonder ’n koppelaarpedaal en die skakelaksie geskied blitsvinnig deurdat die volgende rat reeds gekies is nog voordat die oorskakeling plaasvind. Dit lei tot beter verrigting, asook brandstofbesparing.
Verder kan ’n knoppie aan die kant van die rathefboom gedruk word waardeur die ratkas langer in ’n sekere rat bly om te voorkom dat dit voortdurend tussen ratte wissel as jy byvoorbeeld ’n styl opdraande ry.
Die modelle met die PowerShift-ratkas kry ook Hill Hold en Hill Launch Assist (HLA). Met dié stelsel bly die remme teen ’n styl opdraande vir tot drie sekondes geaktiveer om te keer dat die motor agteruitloop wanneer die bestuurder wegtrek. ’n Elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) is standaard in die PowerShift-modelle.
Die kraglewering van die enjins in die Ford Fiesta is soos volg; die 1,4 liter petrol ontwikkel 70kW @ 5 650rpm en stel 128Nm vry teen 4 200rpm; die syfers vir die 1,6 liter petrol is 88kW @ 4200rpm en 152Nm @ 4300rpm terwyl die 1,6 liter diesel: 66 kW @ 4000rpm lewer en 212 Nm teen 1750 rpm beskikbaar maak.
Volgens Ford is die gemiddelde brandstofverbruik van die motors aan as 6.4l/100km en 6,0 1/100km vir die 1,4 liter en die 1,6 petrol modelle en 4,5 l/100km vir die 1,6 diesel. Die topsnelheid van die 1,4liter petrol en die 1,6 diesel modelle is, 175 km/h terwyl die 1,6 petrol model 192 km/h by die kus kan behaal.
Diensintervalle is 20 000km vir die petrol modelle en 15 000 vir die diesel. Daar is ‘n diensplan van 4 jaar of 60 000km en ‘n waarborg van 4 jaar of 120 000km.
lovе it! Keeр up the super work!