Padtoets: Mazda2 Sedan

Mazda2 Sedan: ‘n smaakvolle vierdeur koepee

Nou onlangs het ek weer die voorreg gehad om ‘n Mazda onder hande te neem, die splinternuwe 2-reeks wat op die baie suksesvolle luikrug Mazda2 gebaseer is en in 2008 as die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar bekroon was.

As ek aan Mazda dink, dink ek onwillekeurig aan die bakkie wat my suster vir jare en jare gery het, nooit laat diens het nie, en op die ou einde nog ingeruil het vir ‘n skaflike prys op ‘n nuwer motor. Kanniedood verby wat nog die Mazda logo van daardie tyd op sy neus gehad het.

En vir die wat vergeet het hoe die ou-geslag logo gelyk het, plaas ons ‘n afdruk ter herinnering. Dit saam met ‘n foto van die agterstewe; die eerste keer dat ek ‘n foto bysit wat nie die neus of die sy-profiel toon nie! Die groot aantreklikheid van die Mazda2 lê immers hier.

Daar is ‘n groot verskil tussen Cornelia se bakkie en die jongste Mazda2 sedan. Hoewel ‘n koepee normaalweg net twee deure het, is die nuwe sedan uit Japan seker een van die mees stylvolle modelle met ‘n koepee-voorkoms op die mark. Waar daar vroeër ‘n stomp stert was, is daar nou ‘n agterkant wat die sportiewe lyne van ‘n vinnige sport-koepee treffend weergee. Geluk, Mazda!

Die Mazda2 kom in ‘n hele paar variasies: die 1.3 Active; 1.5 Active; 1.5 Dynamic en die 1.5 Individual. Wat beïndruk is die feit dat selfs op die intreemodelle daar lugsakke, elektroniese remverspreiding, sluitwerende remme, elektriese vensters en lugreëling in die pakket ingesluit is en daar ook ‘n CD-speler met MP3 aanpasbaarheid is.

Die 1.5 Dynamic onderskei hom van die ander deur sy 15” allooivellings, misligte, leerbedekking vir die stuurwiel en ratknop, digitale bestuurslinligtingstelsel en stuurwielbeheer vir die radio. Die top 1.5 Individual kom uit met 16” wiele, sport-vering, klimaatbeheer en ekstra lugsakke en gordyne en sleutellose toegang. Veral laasgenoemde is baie handig.

Die spreekwoordelike “harte” van die reeks sluit in die 1.3-liter enjin wat 63 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 122 Nm teen 3 500 rpm beskikbaar stel en die 1.5-liter dubbelnokas weergawe met sekwensie-gelid klepbeheer wat 76 kW teen 6 000 rpm onwikkel en 135 Nm teen 4 000 rpm beskikbaar maak.

Maar hoe maak die nuwe Mazda op die pad? Die vering is ‘n goeie balans van fermheid sonder om té hard te wees en draaie kan teen hoë snelheid met gerustheid geneem word. Dit is te danke aan die MacPherson vering voor en balk-tipe agter-as met skokbrekers wat goed gekies is.

Ook die stuur, met elektriese servo-ondersteuning, wat veel minder krag van die enjin aftap as die hidroliese stelsels. Die stuur het ook genoeg “lewendigheid” waarna die entoesiastiese bestuurder soek. Remkrag is goed met 14” geventileerde skywe voor en dromme agter.

Die 1,3 liter model kan 165 km/h oorskry en die 1,5 model 175 km/h – as dit nodig sou wees om die amptelike spoedgrense in ‘n noodgeval te ignoreer. Mazda maak daarop aanspraak dat die nuwe modelle suinig werk met brandstof en dat die kleiner enjin gemiddeld sowat 5.8 ℓ/100km sal verbruik en die groter broer 6.4 ℓ/100km.

Weereens terug na die agterstewe; met die sedan weergawe het die kattebak nou plek om 450 ℓ bagasie te stoor, 200ℓ meer as in die luikrug-weergawe. In hierdie opsig is die sedan dan veel meer ‘n gesinsmotor as die luikrug wat meer gewild by enkellopendes sal wees.

Wat verder handig op die sedan is, is dat die agterste sitplekke verdeel is en dat lang voorwerpe, soos in die geval van luikrugmodelle, vanuit die bak ingetel kan word en dat hulle dan tot agter die bestuurder se sitplek geplaas kan word – terwyl daar nog altyd plek is vir ‘n ekstra passasier agter. Weereens, goed deurdink. Net ‘n jammerte dat daar soveel mense is wat nog nie al die deugde en goeie  beplanning van Mazda leer waardeer het nie.

Wat kos hierdie nuwe koepee-sedan? Pryse vir die Mazda2 Sedan wissel tussen N$168 740 en N$211 380 vir die topmodel met al die fluitjies en alles wat kan oop- en toemaak. My eie keuse is die basismodel wat alles bied wat ek op hierdie stadium van my lewe in ‘n motor soek. Veral omdat by die prys daar ook ‘n 4-jaar of 60 000 km diensplan ingesluit is.

Leave a Comment