Bekendstelling: Honda BR-V

Nutsvoertuig vir jonk – en oud!

Honda het vanaf die intrapslag in Suid-Afrika in die 1980’s ‘n reputasie opgebou as een van die mees betroubare en soliede vervaardigers van motors op die mark. Die feit dat Mercedes-Benz die nuwe Japannese motors onder hulle vleuels geneem het kon moontlik daartoe bygedra het. Feit is dat Honda en Mercedes se paaie geskei het maar die Japannees het sy goeie reputasie behou en bou steeds daarop voort. Die nuwe BR-V nutsvoertuig bou voort op hierdie tradisie.

Die BR-V vervang die Mobilio nutsmodel wat vir ‘n relatief kort tydperk hier op die mark beskikbaar was. Omdat ek nie sy voorganger eintlik leer ken het nie, het ek gou ‘n Google- soektog op die Mobilio gedoen. Groot was my verbasing toe ek foto’s van die eerste reeks Mobilio’s gesien het; dit was ‘n groot skok om die vreemde, maar praktiese, lyne van die nutsmodel te sien. Die snaakse voorkoms het my laat dink aan die Fiat Multipla wat ook maar net ‘n tydjie hier bemark was en waarskynlik weens sy vreemde voorkoms nie besonders verkoop het nie.

Dit is ongelukkig so dat die meeste motorkopers eerstens na voorkoms kyk, daarna na die verborge talente. Dit was ook so met die Multipla wat in turbodieselvorm uitstekende verrigting gehad het en waar drie persone met gemak voor kon gesit het!

Die BR-V nuweling gaan op sy voorkoms alleen nuwe kopers vind. En na afloop van ‘n toetsrit waarin die hele gesin van sewe mense oor teer- en grondpaaie met hom gery het, gaan hy nog meer kopers lok!

Waarom?

Die 1,5 liter petrolenjin is een van die mees-beproefde enjins op die mark. Nie die vinnigste in die omgewing nie maar een waarop jy kan staatmaak om lank te hou en “net goeie vibrasies” aan die eienaar oor te dra! Die eenheid ontwikkel 88 kW teen 6 600 opm en stel 145 Nm beskikbaar teen 4 600 opm. Soos met die meeste Honda-enjins is die toere dus aan die hoë kant en sal die ratkas (6-gang handrat of CVT-outomaties) gebruik moet word om die beste werkverrigting te bereik. Dit is miskien ook dan wanneer die aangegewe brandstofverbruik van slegs 6,3 liter/100 km miskien in die slag gaan bly.

Aan die positiewe kant is dit nie almal wat van verkeerslig tot verkeerslig met die ander manne sal wil kompeteer nie; as daar sewe mense in ‘n voertuig is, gaan dit in die eerste plek oor die gemak en veiligheid van die passasiers. En die veiligheidskenmerke van Honda was nog al die jare legendaries; al die nodige elektroniese stelsels sorg  hiervoor.

Honda, soos talle van sy mededingers in die onderkant van die nutsvoertuigreeks, het as teiken die jong, “dinamiese” gesin wat hou van kampeer, grondpad ry om by die bergfiets-paaie uit te kom en ‘n kano op die dakrak te sit. Die grondvryhoogte is ook beter as die van sy voorganger. Dit is goed so; ons hou die volk gesond! Maar ook hulle het vergeet van die oueres van dae wat saam met (ou!) vriende ook grondpaaie wil gaan ry en die plekke van lank gelede wil gaan opsoek.

Die BR-V kom in drie weergawes waarvan die Trend die “intreemodel” is met sy staalwiele en “gewone” lugversorging en slegs met ‘n handratkas. Die Comfort en Elegance kan van die goedkoper model onderskei word deur die allooiwiele en dinge soos klimaatbeheer waar die regte temperatuur vooraf gekies kan word en die res outomaties geskied. Die topmodel het dan ook sleutellose toegang tot die motor.

Jonger kopers gaan die raakskerm op die paneelbord mis maar verder is alles daar wat nodig is vir musiek en vermaak, en natuurlik ook BlueTooth verbinding om lekker op die selfoon te praat sonder om ander padverbruikers se humeure te laat opvlam.

In terme van onderhoudskoste gaan ouer kopers waarskynlik die Trend wil koop omdat hy goedkoper is sonder om belangrike noodsaaklikhede prys te gee. Die vangplek is egter dat hy nie deur ‘n diensplan gedek word soos die ander modelle met hulle 2-jaar/30 000 km onderhoudsplan nie. Maar sal dinge regtig skeefloop op so ‘n nuwe Honda?

‘n Pluspunt in die tyd van allerlei snaaksighede op nuwe voertuie is die feit dat die spaarwiel volgrootte is en die eienaar nie van spuitkannetjies en tierlantyntjies afhanklik is as die spyker die slag die rubber tref nie. En vir die somerdae is daar nie minder nie as elf koeldrankhouers! Ongelukkig het Honda nie versnellings- en ander verrigtingsyfers verskaf nie.

Die pryse van die BR-V modelle wissel tussen N$238 900 vir die Trend en N$288 300 vir die topmodel met outomatiese ratwisseling.

My persoonlike keuse? Die Comfort outomaties teen N$268 300.