Bekendstelling: Honda Brio Sedan

Spasie sonder geldelike inflasie!

Hierdie jaar is ‘n jaar van verrassings onder die klein- en  intreemotors waar die kompetisie al hoe groter word. En hier gaan dit in die eerste plek oor bekostigbaarheid. Die koms van die Honda Brio Luikrug vroeër vanjaar het voornemende kopers – vanaf jeugdige studente, jong werkendes, en laaste maar nie die minste, ook pensionarisse, in toue na die Honda verkoopslokale gelok.

Na ‘n week of wat was daar by sommige agentskappe geen toetsmotors meer oor vir toetsritte vir die talle potensiële klante nie! Die prys was reg, die voorkoms splinternuut en modern en Honda het ‘n reputasie vir betroubaarheid wat sy mededingers effens groen maak van jaloesie!

Nou onlangs het Honda sy nuwe Brio Sedan aan die media bekendgestel en het die weghol-resep nou die ekstra spasie bygekry wat hom in sy klas een van die groot uitblinkers maak – en dit weereens teen ‘n baie bekostigbare prys. Die pluspunt van die nuwe Brio lê in sy stertgedeelte; met ‘n asafstand wat met 55 mm verleng is, is daar nou meer  beenspasie vir die insittendes agter,  en meer belangrik, ‘n kattebak waar daar volgens die vervaardiger,  nie minder nie as 405 liter ingepak kan word nie. Hoe hierdie grootte egter bereken word, mag van instansie tot instansie verskil.

Tydens die bekendstelling het Honda Suid-Afrika klem gelê op die feit dat die Brio Sedans op die jonger mark gerig is; ook mense waar die “moderne” of “jongmensbeeld” belangrik is. Wat hulle, soos talle ander vervaardigers,  nagelaat het, is die feit dat talle ouer mense hierdie soort en tipe motor as “aftreemotor” gaan koop!

Die Honda-ingenieurs het hulleself met die ontwerp van die nuwe, groter kajuit oortref omdat die ekstra gewig beperk is tot ‘n toename van slegs 30 kg. Die sedan weergawe van die Brio lugruik-ryperd lewer dus nog steeds uitstekende verrigting sonder dat ekonomie daardeur negatief beïnvloed word.

Die goeie verrigting is natuurlik toe skryf aan die gevorderde, moderne en ekonomiese i-VTEC-kragbron van 1,2 liter. Die viersilinder-eenheid ontwikkel  65 kW teen 6 000 toere en stel 109 Nm teen 4 500 beskikbaar. Hierdie krag word doeltreffend deur ‘n vyfgang-handratkas,  of in die geval van die Brio 1.2 Comfort, ook deur ‘n outomatiese vyfgangratkas na die voorwiele oorgedra. Dit is veral hierdie outomatiese funksie wat vir die senior en ander ouer kopers en stadsbewoners aanloklik gaan wees.

Die Brio-sedan se goeie  krag-tot-massaverhouding sorg vir wakker verrigtingen die handratmodelle versnel in sowat 12,5 sekondes van 0 tot 100 km/h. Verder voorspel Honda dat met normale gebruik die eienaar van ‘n Trend-handratmodel ‘n verbruik van so laag as 6,1 liter/100 km kan verwag. Die goeie verrigting kan toegeskryf word aan relatief lae ratverhoudings wat die nadeel het dat die maksimum snelheid effens in die slag bly; hierdie Brio se maksimum snelheid is 140 km/h. Laasgenoemde eienskap mag die jong en onrustiges moontlik pla maar vir ouer bestuurders is hierdie nadeel slegs van akademiese belang. Wat die ouer eienaars egter gaan mis is die feit dat daar nie ‘n CD-speler is nie maar slegs poorte vir die jongklomp se musiek wat op geheuestokkies en soortgelyke elektroniese apparate gestoor word.

Hoe lyk die Brio binne? Die instrumente en skakelaars is waar hulle hoort en daar hoef nie rondgesoek te word om die regte knoppe en skakelaars te vind nie en selfs op die Trend-intreemodel is al die basiese “luukses” ingesluit; met die meer “weelderige” Comfort-weergawe is daar nog méér van hulle. Maar die heel belangrikste is die ABS-sluitweer-remme om veral op die nat paaie in ons Kaapse winter, te keer dat die wiele nie sluit as die remme skielik hard getrap moet word nie. En natuurlik is die  dubbele lugsakke voor van kardinale belang wanneer ‘n botsing onafwendbaar is.

Op die pad hanteer die Brio goed en is ewe tuis op grond as op teerpaaie; draaie kan teen hoë spoed geneem word en lewer geen drama’s op nie. Die algemene indruk is dat hierdie bekostigbare Honda sy merk gaan maak op die motormark en dat dit dan hoofsaaklik gebaseer sal wees op die vervaardiger se reputasie as bouers van motors met die minimum kwale en goeie gehalte. Die groot bonus is egter ook die diensplan van 2 jaar of 30 000 km wat oral byval sal kry; iets wat by die meeste ander vervaardigers van “basiese motors” as ‘n addisionele ekstra aangekoop moet word.

Hoe het Honda dit reggekry om sy Brio so billik op die mark te plaas? Eenvoudig; die motor word in een van Honda se internasionale fabrieke vervaardig waar die produksiekoste aansienlik laer is as in Japan. En glo maar; die meeste vervaardigers volg deesdae hierdie roete!

Die outomatiese Brio Comfort Sedan wat ons getoets het, verkoop teen N$146 900. Daar is egter ook ‘n “intree”  Trend handrat sedan beskikbaar teen N$128 900 en die meer luukse Comfort model teen N$136 900.

Leave a Comment