Honda se nuwe Blits!
In hierdie tye van besparing en kommer oor skadelike gasse kan mens wonder of daar nog ‘n aanvraag is vir opgewarmde sportiewe luikrugmodelle wat gebou is vir spoed eerder as ekonomie. Maar as jy na die lys van aanbiedings op die mark kyk is daar nogal heelwat. Die bekendste is seker Volkswagen se Golf GTI wat al lank met ons is. Dan is daar ook die Opel Astra OPC en die Renault Megane RS en later in 2016 kom die Ford Focus ST.
Honda noem dan ook die Civic Type R ‘n Resiesmotor vir die pad. Met die suksesvolle gebruik van turbo-aangedrewe petrolenjins deesdae het Honda nou ‘n turbo ingespan om ‘n ware “warm” luikrug met hierdie nuutste weergawe van die Type R te bou.
Alhoewel dit ‘n vyf-deur luikrug is, en sitplek vir vier tot vyf mense het, kan jy dadelik sien dat hierdie kar vir opwinding en spoed gebou is. Van buite is dit amper moeilik om hom as ‘n Civic te herken en wat dadelik opval is die groot drukvlerk agter om te help om die kar teen hoë snelhede te stabiliseer. Verder is daar drie groot luginlate voor met uitlate bo en agter die voorwiele om die enjinruin en remme af te koel. Met die veerstelsel wat laer is as die gewone Civic lyk die Type R soos ‘n motor vir die resiesbaan.
Binne in die Civic voel dit knus en die swart en rooi sport-tipe sitplekke sit diep en gemaklik met goeie laterale ondersteuning wanneer daar vining deur draaie gery word. Honda noem dat die sitposisie 30mm laer is as met die gewone Civic. Bo-op die voorpaneel is ‘n breë inligtingskerm wat ekstra inligting gee spesifiek tot die Type R soos G-kragte, versnelling (0 to 100km/h) en turbodruk. Regs is ‘n spesiale knop gemerk met ‘n groot “R” waarmee jy die “racing” modus kan kies. Dit verskerp die enjin se respons, die skokbrekers reageer gouer en die stuur word swaarder.
Verder is daar ‘n aantal kenmerke wat die lewe vir die bestuurder meer gemaklik maak soos opdraande wegtrek hulp, sensors voor en agter vir parkeer, ‘n tru-kamera, outomatiese ruitveërs, snelheidsbeheer en klimaatbeheer. Dan is die Civic Type R ook toegrus met LED hoofligte wat outomaties in die donker aangaan.
Die vierde geslag Civic Type R se hart is sy 2 liter VTEC turbo enjin en dit ontwikkel ‘n uiters gesonde 228kW en stel 400Nm beskikbaar. Volgens Honda versnel die Civic in slegs 5,7 sekondes van 0 tot 100km/h en die topsnelheid word gegee as 270km/h. Hierdie syfers lyk alreeds indrukwekkend en gekoppel aan ‘n beperkte-gly ewenaar en kort 40mm ratwisselling is die Civic TypeR ‘n resep vir opwinding – veral op ‘n resiesbaan. Honda het ons die voorreg gegee om die nuwe Type R op die Killarney renbaan naby Kaapstad vir ‘n paar rondtes te neem. Selfs onervare renjaers het die rit om die baan sonder probleme baas geraak en die Civic het heeltyd veilig en onder beheer gevoel. Dit is maklik om die 2 liter turbo enjin tot 7 000rpm op te jaag en 180km/h op die reguit dele te behaal.
Op die oop pad moet jy maar die Civic Type R in toom hou as jy nie spoedkaartjies wil versamel nie. Dit is jammer dat in ons land die hope krag en baie goeie padhouvermoë nie ten volle ingespan kan word nie, maar daar is altyd geleenthede soos die verbysteek van stadiger voertuie wat ‘n absolute plesier is. Skakel terug na vyfde rat, sit jou voet neer en jy is amper dadelik al weer terug aan die linkerkant van die pad en vóór die ander voertuig. Die gevoel is heerlik! Die 235/35R19 Continental SportContact 6 bande, wat spesiaal vir die Civic Type R ontwikkel is, help ook met die puik padhouvermoë, maar saam met die stewige veerstelsel is die rit soms stamperig op ongelyke teerpaaie.
Die prys van N$586 400 sluit ‘n vyf jaar of 200 000 km waarborg asook ‘n vyf jaar of 90 000km diensplan. Dienste word elke 15 000km gedoen.
Hierdie nuwe Civic Type R is regtig ‘n verbasende klein sportmotor met absolute puik padgedrag en brute krag en ‘n plesier om op die resiesbaan met hom te jaag. Honda het beslis geslaag met wat hulle met hierdie stukkie opwinding bereik het. Mens wonder net oor sy praktiese waarde, veral teen die prys vir die person wat elke dag met hom ook werk toe wil ry?