Bekendstelling: Honda se nuwe Ballade en WR-V!

Honda Suider-Afrika het sopas twee nuwe modelle bekend gestel, waarvan een ‘n splinternuwe model op die mark is. Ons het die geleentheid gehad om die Wes-Kaapse paaie met hierdie twee aan te durf.



Laat ons eerstens na die Ballade kyk; ‘n model, wat reeds vir 38 jare op ons paaie is. Hierdie einste model sal ook vir die eerste keer die RS embleem dra. Dit verwys egter meer na die gladde ry vernuf van die Ballade, naamlik “Road Sailing” eerder as die sportiewe natuur.

Anders as die uitgaande model, is die nuwe Ballade 110mm langer, 55mm wyer en 10mm laer. Tegnies verbeter hierdie die sentrale gewig van die sedan, wat natuurlik beteken dat die nuwe Ballade beter hanteer om draaie en algeheel op die pad.

Elk van die drie modelle in die Ballade reeks sal aangepas word met die nuwe 1.5 liter DOHC VTEC enjin, wat meer krag (89kW en 145Nm) sowel as beter brandstof-verbruik sal lewer. Hierdie is te danke aan die enjin se vermoë om meer krag te lewer teen laer revolusies. Terwyl ons nog die ware brandstof-verbruik sal toets tydens ons week lange toets, beklemtoon die vervaardiger ‘n syfer van 5.5 liter per 100km.

Hierdie syfer is ook te danke aan die CVT ratkas. Haat dit of nie, die CVT ratkas is wel bekend as ‘n uitstekende faktor vir goeie brandstof-verbruik.

Die intree-vlak Comfort model (teen R336 500) asook die Elegance (teen R366 900) kom standaard met gewone halogen ligte, terwyl die RS model (R396 900) met LED voor- en agter-ligte kom. Beide die Comfort en Elegance kom ook met ‘n 15-duim stel allooi wiele, waar die RS met 16-duim allooi wiele versier word.

Binne die voertuig help die nuwe, dunner A-pilaar om beter te kan sien buite die voertuig. Die twee intree-vlak modelle is toegerus met materiaal bekleedsel, waar die RS toegerus is met leer.

Verder word die Ballade (behalwe vir die Comfort model) toegerus met ‘n 8-duim informasie-sisteem, geintigreerd met Apple CarPlay en Android Auto, “Bloutand” en ‘n multi-funksionele stuurwiel.

Saam met dit kom elektriese spieëls en vensters, spoed-beheer, lugversorging en outomatiese hoofligte as standaard.

Die RS model sal wel met funksies soos ‘n outomatiese sluit-funksie, ‘n trurat-kamera, elektriese sondak en ‘n 7-duim agter-stuur skerm uit kom.

In terme van veiligheid sal elk van die Ballade modelle met ABS (met EBD), voertuig stabiliteits-beheer, trurat-parkering-sensors, voor- en kant-lugsakke, asook ISOFIX ankers kom.

Elk van die Ballade modelle sal met ‘n 5-jaar / 200 000km waarborg, ‘n 4-jaar/ 60 000km diensplan en ‘n 3-jaar AA pad bystand plan kom.

En nou… oor na die WR-V

Sê die naam vinnig en dit klink of die klank van ‘n opwen speelgoed karretjie nagemaak word.

Hierdie is egter geen speelgoed karretjie nie en sal die mark binnedring as die kleiner weergawe van die gewilde CR-V, HR-V en BR-V. Met die mark wat tans so sterk neig na klein en bekostigbare sports-nuts voertuie, mag die nuwe WR-V dalk net een van die beste antwoorde wees.

Vervaardig in Indië sal die WR-V die plek inneem as Honda se intreevlak SUV.

Anders as die Ballade, sal die WR-V gedryf word met ‘n 1.2 liter, 4-silinder i-VTEC enjin. Dus sal kraglewering ietwat anders wees met 66kW beskikbaar teen 6000 opm en 110Nm teen 4800 opm. Vir die stad en langpad was hierdie egter voldoende, terwyl die verbygaan van ander voertuie dalk noukerige beplanning behels het.

Nietemin verskaf die enjin en handrat (5-spoed) kombinasie ‘n algehele brandstof verbruik van 6.4 liter per 100km. Ons sal egter nog hierdie syfer aan die toets moet stel, maar is oortuig dat hierdie ‘n baie kompiterende figuur is.

Die WR-V sal uitkom met LED-hoofligte, terwyl die Elegance model (R319 900) met LED misligte sal uitkom, anders as die intree vlak “Comfort” model (R289 900). Beide sal uitkom met 16-duim allooi wiele, wat bydra tot die hoër ryvlak van die voertuig.

Binne is die WR-V ‘n voorlooper in die mark met 5 sitplekke, en 363 liter se stoorspasie en 881 liter met die tweede ry opgeslaan. Hierdie figure is baie indrukwekkend. Terselfdetyd sal die “magic seat” konsep ook help om die sitplekke in verskeie manière te posisioneer.

So suksesvol is hierdie konsep, dat twee bergfietse (met die voorwiele ontkoppel) langs mekaar in die kar geplaas sal kan word.

Verder word beide die Comfort en Elegance toegerus met ‘n multi-funksionele stuurwiel, terwyl die Comfort met ‘n 5-duim, LCD klank-sisteem (insluitend “Bloutand”, USB konneksie en 4 luidsprekers) toegerus word. Die Elegance model sal egter met ‘n 7-duim informasie-sisteem kom, wat Apple CarPlay en Android Auto sal kan huisves.

In terme van veiligheid sal beide modelle met trurat-parkering sensors uitkom, terwyl die Elegance ook ‘n trurat-kamera by kry. Verder word die Elegance ook toegerus met spoed-beheer en sleutellose toegang.

Beide modelle sal met ABS met EBD en ISOFIX punte kom.

Nes die Ballade sal die WR-V met ‘n 5-jaar / 200 000km waarborg en ‘n 4-jaar/ 60 000km diensplan uitkom.

Het Honda die klein-SUV mark effe te laat betree of was dit strategies beplan om te leer by ander en die mark oor te neem? Ons sal hierdie oorlaat aan potensiële kopers.

Leave a Comment