Bekendstelling: Hyundai Elantra

Nuwe Hyundai Elantra; nou ook met ‘n sportiewe variant 

Die nuwe Hyundai Elantra is nou al ‘n rukkie met ons. Maar daar is weer nuwe lewe geblaas in ‘n model wat met sy bekendstelling ‘n paar jaar gelede die koppe behoorlik laat draai het. Al was dit net vir die sprankelende voorkoms en lyne! Van die kant gesien was dit moeilik om hom van die Beierse vervaardigers te onderskei – behalwe vir die baie billiker prys. En natuurlik het hierdie model in 2012 die prys as Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar vir hierdie stilering, en hantering, verwerf.

Dit is veral die vlagskip Elantra Sport (1.6 TGDI Elite DCT) waarmee ons gery het en waaroor ons besonder opgewonde was. Die res van die reeks goedkoper variasies word geleidelik bemark en vir dié waar elke pennie tel, is dit die moeite werd om so ‘n bietjie te wag voordat ‘n handelaar met groot verwagting besoek word.

Aan die binnekant is daar nou ‘n 8” raakskerm wat ook navigasie insluit – benewens die radio en vermaaklikheidstelsel – soos die radio-kombinasies deesdae bekendstaan. Noem maar die moontlikhede van USB en “Bloutand” en ander nuwighede en hulle is daar. Natuurlik is al die nuutste veiligheidstoerusting daar met spesiale staalversterkings en elektroniese toepassings daarby.

Die stilering van die Elantra is nog steeds topklas, ‘n mens sukkel nie met ‘n goeie ontwerp nie en maak nie heel wat nie stukkend is nie. Dit is dus na die enjins waarna ‘n mens by die nuwe vuurwaens moet kyk. Daar is nie minder as drie weergawes wat onder die enjinkap aangetref word.

Die wegtrekmodel, die Elantra Executive, is toegerus met ‘n 1 591 cc enjin wat 94 kW teen   6 300 rpm ontwikkel is beskikbaar met ‘n sesgang handrat of outomatiese ratkas. Dan volg die nuwe 1 991 cc wat 115 kW teen 6 200 toere per minuut ontwikkel en 195 Nm teen 4 500 omwentelinge bekikbaar maak. Hierdie model is net met ‘n sesgang-outomatiese ratkas beskibaar.

Die werklike nuwe en indrukwekkende knaap is die 1 591 cc turbo-aangedrewe model in die Elite weergawe. Hierdie eenheid is die een wat dinge laat gebeur met sy 150 kW wat teen maksimum enjinspoed van 6 000 omwentelinge ontwikkel word en 265 Nm tussen 1 500 en 4 500 rewolusies vrystel. Hierdie warm enjin is ook net met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar.

Vir dié wat self die ratte wil wissel is die goeie nuus natuurlik dat daar spane aan die stuurwiel is om self te besluit watter rat die beste vir dáárdie draai die beste gaan deug. Met sewe verskillende ratte is dit egter moeilik om ‘n keuse te maak. En vir die wat nog twyfel oor die outomatiese ratkas het is dit die moeite werk om te weet dat dit eintlik baie moeilik is om op die ratkas se intelligente optrede te verbeter. Aldus die kenners.

Waar die bestuurder van hierdie topmodel wél ‘n keuse het is die kies van die soort verrigting wat hy (of sy) wil hê: Normaal, Eco of Sport. Deur die druk van ‘n knoppie kan die modus gekies word, afhangende van die gemoed en bui van die bestuurder!

Volgens die vervaardiger kan ‘n suinige brandstofverbruik van tussen 6,5 tot 6,9 liter/100 km vir die handrat en outo-weergawes in die Executive-reeks verwag word, ongeveer 8,3 vir die Elite en 7,9 liter/100 km vir die Sport. Maar alles is natuurlik relatief, om Einstein aan te haal!

Hyundai het nie verrigtingsyfers op die pad voorsien nie maar ons kommentaar is bondig: jy wil nie noodwendig vinniger ry nie en ook nie vinniger versnel nie.

Wat kos hierdie plesierige Elantra Sport? Die handelaar sal die sleutels oorhandig as N$399 900 by die bank inbetaal is. Hou jy van die voorkoms eerder as verrigting is daar die keuse van die Executive handrat teen N$299 900 en N$314 900 vir die outomatiese model. Die 2-liter outo jaag jou N$349 900 uit die sak.

As teenprestasie vir die kapitale uitleg kry jy ‘n diensplan van 5-jaar of 90 000 km en algemene waarborg vir 5 jaar of 150 000 km.

Diensintervalle is 15 000 km vir al die modelle maar die Sport kry sy eerste diens op 5 000 km.

Leave a Comment