Hyundai se Grand i10 vervang die Getz
Hyundai het onlangs sy nuweling, die Hyundai Grand i10, by die indrukwekkende Waterkloof wynkelder en restaurant, wat op ‘n heuwel soos ‘n glaskasteel oor die Hottentots-Holland vallei en Valsbaai troon, bekend gestel. Die naam Grand i10 vir hierdie nuweling in die Hyundai stal kan misleidend vir die oningeligte wees omdat dit maklik gesien kan word as ‘n opgegradeerde variant van die bestaande i10 model.
Maar feit is inderdaad dat die Grand i10 eintlik as plaasvervanger vir die Getz deur Hyundai op die mark geplaas is. Dit bring onmiddellik ‘n paar vrae na vore, naamlik, hoekom ‘n bewese handelsnaam soos Getz, wat sedert 2003 met soveel sukses hier bemark is, vervang word? Hoekom dan nie miskien ‘n modelnaam wat êrens tussen die bestaande i10 en i20 inpas kies nie? Vrae in hierdie verband het die antwoord van Stanley Anderson, verkoopsbestuurder van Hyundai SA, ontlok dat dit die besluit was van die maatskappy in Indië, waar die i10 vervaardig word. Reg of verkeerd, is die indruk indirek egter gelaat dat die verkoopsbestuurspan in SA ook die beproefde Getz as handelsnaam sou verkies.
Die Hyundai Grand i10 kom te staan teen gedugte mededingers soos die Ford Figo, Toyota Etios en Volkswagen se Polo waarvan daar juis in middel Junie ‘n opgegradeerde model van laasgenoemde bekend gestel word. Voorwaar gedugte en gerekende rolspelers in hierdie marksegment en alhoewel die Grand i10 se intreeprys so ‘n kerfie of wat bokant die genoemde modelle s’n is, kompenseer die Grand i10 met moderne kenmerke wat opsioneel ekstra by sy mededingers is.
Die Grand i10 reeks word in Suid-Afrika in drie modelle aangebied, naamlik die 1.25 Motion en die 1,25 Fluid, beide met ‘n vyfgang handratkas en 1.25 Fluid met ‘n vierspoed outomatiese ratkas. Aandrywing vir die Grand i10 is in die vorm van ‘n 1.25 liter petrol enjin wat 64 kW teen 6000 rpm lewer met ‘n maksimum wringkrag van 120 Nm wat by 4000 rpm beskikbaar is. Hyundai maak aanspraak op brandstofverbruik van 5.9 liter/100km by die handratmodel en 6.9 liter/1000 km vir die outomatiese model.
Die Grand i10, wat op 3765mm slegs 180mm langer as die gewone i10 is, spog met 256 liter bagasieruimte wat tot 1 202 liter vermeerder wanneer die agterste sitplekke platgeslaan word.
Die duidelike en aantreklike vloeilyne wat deesdae so kenmerkend van Hyundai se passasiersmotors is, is ook duidelik te sien in die ontwerp van die Grand i10. Vir die eerste keer word die i10 modelle nou in Europa ontwerp en volgens Thomas Bürckle, hoofontwerper van die Hyundai Motor Europe’s Technical Centre in Rüsselheim, Duitsland, is die ontwerp van die Grand i10 juis daarop gemik om ‘n dinamiese beeld van krag en stabiliteit na vore te bring. Die seshoekige sierrooster voor is nou alreeds deel van die Hyundai DNA en vorm ‘n band met die Grand i10 se groter boeties in die Hyundai stal.
Die Grand i10 is beskikbaar in agt verskillende kleure waarby die kleur van die deurhandvatsels en kantspieëls geïntegreer is. Die binneruim bied ‘n keuse van grys materiaal met oranje insetsels, grys leer met rooi insetsels of dan die gestandaardiseerde grys materiaal met grys insetsels. Die kleurkeuses word ook op die voorpaneel gebruik.
Bluetooth konneksie, sleutellose toegang en elektries verhitte syspieëls wat kan invou is standaard kenmerke by die twee Fluid modelle terwyl al die modelle met USB en musiekkontakpunte, lugreëling en sentrale sluitbeheer toegerus is. Daarby is al drie modelle voorsien van misligte, ‘n volle grootte spaarwiel, 14dm allooi wiele, hoogte verstelling van die bestuurder se sitplek en ‘n multi-funksionele stuurwiel. Die bestuurder se veiligheidsgordel se hoogte kan op skouerhoogte ook verstel word. Veiligheidsgewys is daar twee lugkussings voor en is die Grand i10 ook voorsien van ABS remme.
Hyundai het met die bekendstelling van sy nuwe Grand i10, as plaasvervanger vir die uiters gewilde Getz, bewys dat hy nie terugdeins vir die uitdaging van veranderinge en verbeteringe om ‘n bestaande model te vervang nie. Met die bekendstelling van die Grand i110 was dit veral die geval toe ‘n uiters gewilde handelsnaam soos Getz vervang is en bly daar maar die effense vraagteken by die gewone verbruiker hang oor die wenslikheid van so ‘n stap. Maar daar kan ook geen twyfel wees nie dat Hyundai sy huiswerk in hierdie verband deeglik gedoen het en dat die Grand i10 gaan voortbou op die suksesverhaal en gewildheid van Hyundai se wye reeks van bestaande modelle in Suid-Afrika.
Dit is miskien die moeite werd om weer by die naaste handelaar in te loer as daar vergelykings tussen motors in hierdie baie gewilde grootte gemaak moet word. En natuurlik ook by die mededingers!
Pryse vir die verskillende modelle is as volg: Hyunadai Grand i10 1.25 Motion handratkas: N$139 900, die Hyundai Grand i10 Fluid handratkas: N$149 900 en die Hyundai Grand i10 1.25 Fluid outomaties teen N$159 900. Hierby is ingesluit ‘n vyfjaar waarborg met padbystand terwyl ‘n diensplan opsioneel is.