Bekendstelling: Hyundai i30

Stel nuwe standaarde in sy klas

Die stof het nog nie behoorlik gaan lê, en die roes is nog nie behoorlik afgeslaap ná die fenomenale ontvangs en prestasies van Hyundai se nuwe Elantra nie, of die i30 verskyn op die rakke om nog enige moontlike gapings in Hyundai se arsenaal van puik en aantreklike motors in die kompakte segment te vul.

Met absolute waarde vir geld wat baie ruimte en sakke vol gemak en luukshede bied het die i30 as’t ware die toneel binnegebars om sy mededingers die stryd aan te sê.  Ergonomie is die wagwoord wanneer die by die i30 se LCD-beligte instrumente, ondersteunende sitplekke, baie beenruimte en elegante binneafwerking kom en vergelyk dit uiters goed met enige mededinger in die C-klas segment.

Daarby word die i30 gedra deur ‘n uiters soepel onderstel wat enige ongelyke en ruwe oppervlak met briljante grasie hanteer.  Dit kan natuurlik beteken dat ‘n effense bakrol in draaie ondervind kan word maar nooit so dat dit steurend is nie as gevolg van goeie en hegte bandgreep.  Passiewe veiligheid by die i30 is ook tot nuwe hoogtes gevoer met die dubbel voor-, kant- en passasierslugsakke en tesame met die krummelsones en versterkte A-pilare beantwoord die i30 aan die strengste veiligheidstandaarde moontlik. ABS-remme met elektroniese remverspreiding sowel as ‘n elektroniese stabiliseringsprogram kan natuurlik vanselfsprekend van ‘n motor van hierdie gehalte verwag word.

Soos met die Elantra het Hyundai se ontwerpsentrum in Rüsselsheim, Duitsland, ook gesorg dat die i-reeks nie ‘n tree hoef terug te staan vir sy mededingers wat betref estetiese voorkoms nie.  Met sy bekendstelling in 2011 op die Frankfurtse Motorskou was daar by die maatskappy geen twyfel nie dat die i30 sou voortbou op die sukses van die oorspronklike model wat betref ontwerp, kwaliteit, werksverrigting en betroubaarheid.  Sedert die bekendstelling van die reeks in 2007 is meer as 360 000 eenhede van hierdie gedugte motor verkoop – die hoogste verkoopsyfer vir ‘n individuele Hyundai model en wat die i30 in die sesde plek in die C-segment plaas.

In Suidelike Afrika sal die i30-reeks voorlopig bestaan uit die 1.6 GLS en die 1.8 GLS, beide met petrolenjins.  Kraguitsette wissel van 95 kW en 157 Nm vir die 1.6 liter viersilinder enjin tot 110 kW en 178 Nm by die 1.8 liter.  Daarby het kopers die keuse tussen ‘n sesgang handratwisseling of ‘n outomatiese ratkas-model by die 1.6 waar laasgenoemde ook na handwisseling oorgeskakel kan word, terwyl die 1.8 model met ‘n sesspoed handratkas toegerus is.  Moderne tegnologie verseker ‘n optimum balans tussen brandstofverbruik en kraglewering van 6,8 liter/100km vir die 1.6-model en ‘n uiters gunstige 6,5 liter/100 km vir die 1.8-model.

Om sy man te kan staan in kompetisie met gedugte kompeteerders in sy klas moet die i30 uit die aard van die saak ook wat luukse rygemak betref,  hoë standaarde handhaaf wat die motor dan ook inderdaad doen soos in die geval van die res van die Hyundai reeks.  So byvoorbeeld, kan daar deur middel van ‘n maklike verstelling agter die stuurwiel van Hyundai se Flex Steer opsies gebruik gemaak word waardeur daar tussen drie vlakke van stuurbystand gebruik gemaak kan word  naamlik Comfort, Normal en Sport.  Keuses sal berus by die bestuurstoestande om die rit so aangenaam moontlik te maak.  Daarby sal ‘n aanboord rekenaarstelsel die bestuurder op hoogte hou van onder andere gemiddelde brandstofverbruik, gemiddelde spoed, afstand wat gery kan word voor hervulling, tyd van bestuur en die afstand wat alreeds afgelê is.

Dubbelsone klimaatkontrole sal vir alle insittendes ‘n gemaklike omgewing verseker terwyl die bestuurder deur middel van kontroles op die stuurwiel die klankstelselsel, togspoed en die Bluetooth fasiliteit kan beheer.  Die 1.8 model spog verder met leerbekleedsel wat standaard toerusting is terwyl die aluminium rem-, koppelaar- en petrolpedaal ‘n sportiewe voorkoms aan die binnekant verleen.  Beide modelle spog met ‘n uitstekende klankstelsel, Bluetooth verbinding na ‘n selfoon en kontaksokke vir Aux, iPod en USB musiek.  Ook ‘n MP3 musiekformaat kan aan die musiekstelsel gekoppel word.

Nog ‘n standaard en funksionele kenmerk is die buitespieëls wat elektronies na binne vou en wat ook op ‘n koue oggend verwarm kan word vir ‘n beter sig na agter.  Misligte voor en agter help vir beter sigbaarheid in die nag onder mistige omstandighede.  Twee 12-volt kragpunte is op die middelkonsole sowel as in die bagasieruim aangebring.  Die i30 is beide in lengte en breedte vergroot wat algehele bagasieruim met 10% vergroot in vergelyking met die vorige model.

Die waarborg van 5 jaar/150 000 km, die diensplan van 5 jaar/90 000 km en die 5 jaar/150 000 padbystandsplan van Huyundai voeg ekstra waarde by tot hierdie puik motor en gaan beslis help bydra om die i30 tot die hoogtes te dra waarvoor die voertuig mik en sekerlik bestem is.

Pryse, BTW ingesluit vir die verskillende modelle is as volg;

1.6 handrat: N$229 900
1.6 outomaties: N$243 900
1.8 net in handratmodel: N$249 900

1 thought on “Bekendstelling: Hyundai i30”

Leave a Comment