Fris en Vars!
Hyundai is beslis die mees suksesvolle handelsnaam wat ons land in die laaste dekade of wat getref het. Hoewel hulle nie hulle jaarlikse verkoopsyfers bekend maak nie, kan daar aanvaar word dat hulle kort agter Volkswagen en Toyota lê.
Die rede vir die gewildheid van hierdie Koreaan is seker die feit dat hulle die mark betree het met relatief goedkoop voertuie maar sedertdien ‘n reputasie opgebou het as een van die betroubaarste voertuie op die mark.
Die Sonata, die vlagskip van die reeks, was aanvanklik ‘n groot motor wat met die Camry moes meeding. Ongelukkig was die ontwerp ietwat aan die ou kant hoewel die enjin en ratkas goed kon kompeteer met dié van sy hoof mededinger. Met die verdwyning van die Camry op ons mark, is die Sonata seker ‘n waardige opvolger vir hierdie legendariese motor wat in die VSA nog altyd koningkraai.
Met ‘n nuwe vloeiende bakvorm wat stilisties aangepas is rondom die ligte voor en agter, ekstra parkeersensors nou ook aan die voorkant en LED ligte wat by die hoofligte (Xenon) ingesluit word asook ‘n nuwe rooster voor. Binne is daar ook ‘n nuwe raakskerm om al die ekstra funksies makliker te laat werk. En natuurlik is al die nuwerwetse noodsaaklikhede soos ‘n Bluetooth skakel vir ‘n telefoon en iPod. Hierdie toebehore kan nou vanaf die stuurwiel beheer word en maak bestuur net soveel makliker en ook veiliger.
Die bestuurder se sitplek is ten volle elektries verstelbaar en die passasier s’n gedeeltelik omdat die hoogte nie verstelbaar is nie. Vir ‘n paar ekstra rand kon hulle dit ook maar vir hoogte verstelbaar gemaak het.
Die ruitveërs begin outomaties werk as die eerste reëndruppels val en ‘n ontwasemer skakel outomaties aan as te veel wasem bespeur word. Dit maak bestuur in ons koue en nat winters meer plesierig.
‘n Ekstra pluspunt is die super sondak wat ook aan die agterste passasiers die kans gun om in ‘n pas soos Seweweekspoort die kranse bokant jou kop te sien; volpunte hier!
Dit is egter onder die enjinkap waar die Sonata 2.4 GDI Elite se groot nuwigheid lê. Die nuwe viersilinder ontwikkel 148 kW teen 6 300 rpm en stel 250 Nm wringkrag teen 4 250 rpm beskikbaar. (Die vorige enjin het 131 kW ontwikkel). Hiermee skop die nuwe enjin nou 13% meer meer perde uit en is daar 10% meer wringkrag beskikbaar om die woonwa mee te sleep. Die skadelike uitlaatgasse het met die nuwe enjin onder die kap afgeneem vanaf 195 g/km tot 188 g/km en is die Sonata nou meer aanvaarbaar vir die groenes en lei SARS daaronder omdat hulle nou minder belasting kan in. Brandstofverbruik op die nuwe model is ook aansienlik beter as op sy voorganger en kan daar 7,9 liter per 100 km verwag word as die algemene siklus gevolg word. ‘n ECO simbool op die raakskerm wys ook die bestuurder hoe om méér ekonomies te ry en nie onnodig brandstof te vermors nie.
Terloops, GDI staan vir Gasoline Direct Injection, en nie soos ek en ander joernaliste gedink het dat daar ‘n super-diesel onder die enjinkap gewag het nie. Die Sonata is nie ‘n renperd nie maar vaar heel goed met ‘n versnelling van 0-100 km/h in 9 sekondes.
Die wakker enjin van die Sonata is gekoppel aan ‘n outomatiese sesgangratkas wat ook met die spane wat aan die stuurwiel aangebring is, beheer kan word om meer sportief teen bergpasse en om vinnge draaie te kan ry. Die vering van die Hyundai is in ooreenstemming met dié wat in duurder Europese motors gevind word met McPherson stutte voor en ‘n multiskakel agtervering waarin daar ruimskoots van aluminium gebruik gemaak word om die ongeveerde massa te verminder. Wiele is volgrootte 18 duim met ‘n spaarwiel wat dieselfde afmetings het.
Ander handige toevoegsels, behalwe die standaaard elektroniese hulpmiddels wat ry-veiligheid bevorder soos ABS en ESP, is die dubbele lugversorging van beide kante, sitplekverwarming en ook die remhulp wanneer daar teen ‘n steilte weggetrek word. Dit is ook goed om te weet dat die Sonata met ‘n 5/5 die botsingstoets van die Australiese weergawe van die Europese NCAP geslaag het.
Gaan Hyundai daarin slaag om sy merk te maak as ‘n mededinger vir die Duitse masjiene? Op grond van sy voorkoms, duursaamheid en betroubaarheid behoort hy dit te kan doen. Maar dit gaan maar lol om status-effek van die bekendes uit Beiere te klop. Maar wie weet? Daar is al talle van die mense wat altyd duur statussimbole gekoop het wat hulle na Huyndai gewend het!
En wat kos dit alles, en wat kom daarmee saam?
Die nuwe Sonata 2.4 GDI Elite verkoop teen R 379 900. Dit sluit in Hyundai se 5 jaar Triple Care Plan, ‘n 5 jaar / 150 000 km vervaardigerswaarborg; 5 jaar of 150 000 km Padhulp en ‘n diensplan wat kostes vir die eerste vyf jaar of 90 000 km dek. Diensintervalle is elke 15 000 km.