In ‘n nuwe Klas van sy eie?
Mercedes-Benz het so pas sy nuwe E-Klas-reeks bekend gestel. Hiermee stel die oudste motorvervaardiger in die wêreld weereens nuwe standaarde vir sy mededingers in die klas vir luukse, verrigtingmotors.
Dit geld veral vir die nuwe tegniese ontwikkeling waar, volgens die vervaardiger, doeltreffendheid en intelligente stelsels die bótoon voer sonder dat Mercedes se tradisionele emosionele waardes ondermyn word. Overgeset synde: Mense wat die driepuntige ster assosieer met ou-wêreldse waardes van kwaliteit en veiligheid eerste, mag dit steeds doen maar met die wete dat hulle ook aanspraak kan maak op sportiwiteit, nuwe denke en bakvorms wat hulle op die oog-af, op die voorpunt plaas.
Op die oog af is die nuwe voorkoms evolusionêr eerder as revolusionêr. Die klassieke bakvorm is nou net meer modern as die vorige om tred te hou met wat die mode-wêreld dikteer. Dit sluit ook in die binne-ontwerp van die nuwe Mercedes waar die kajuit steeds dié standaard stel van gerief en kwaliteit wat selfs so-iets nietigs soos ‘n klassieke analoog horlosie insluit; die gevoel van doeltreffendheid gekoppel met werklike styl. Verder bied die nuwe Mercedes ook die moontlikheid vir die koper om die “tradisonele” rooster op die Elegance, óf nuwe, meer sportiewe rooster van die Avantgarde, te kies.
Die werklike deurbraak in die nuwe E-Klas is die aanwesigheid van tegnologie wat vanaf die top S-Klas oorgedra is en wat as “intelligente” bestuurstelsels beskou kan word. Hierdie stelsels sluit onder andere in die hoofligte wat permanent aan kan wees en vanself self sal domp as aankomende verkeer bespeur word. Hierdie eienskap van die ligte, en ook ander eienskappe wat die strale na die linkerkant van die pad herlei om nagblindheid te voorkom, moet gesien en ervaar word om te glo! LED-tegnologie word ook hier ingespan en ‘n ten volle LED-gebaseerde stelsel is ook beskikbaar.
Net so skouspelagtig is die laanbeheer van die E-Klas; sodra daar uit die normale baan beweeg word, of ander voertuie in die bestuurder se blindekol verskyn, word die bestuurder ook gewaarsku. Indien alle motors oor hierdie eienskappe beskik, behoort tromp-op botsings iets van die verlede te wees. Op die gevorderde E-Klas modelle is daar ook die nuwe stereo veeldoelige kamera-herkenningstelsel wat waarsku teen voetgangers wat te naby aan die pad is, of wat ‘n pad oorsteek, en wat die motor outomaties sal laat rem! So ook die kamera wat agtertoe kyk en die bestuurder waarsku teen ‘n botsing van agter en wat dan ook outomaties aksie neem om ongelukke te voorkom. Die ou gesegde van voorkoming is beter as genesing, is hier van toepassing by die E-Klas waar “intelligente rekenaars” en elektronika oorneem as die bestuurder nie self die mas kan opkom nie, of as hy pro-aktief behoort op te tree en dit nie doen nie.
Soos te verwagte, is al die elektroniese beheerstelsels wat bestuursfoute regstel, natuurlik ook almal aanwesig, so ook dié selsels wat ongelukke wat moontlik kan plaasvind, antisipeer en die motor voorberei asof ‘n botsing onafwendbaar is. Daarvan gepraat, indien die E-reeks se ankers ernstig uitgegooi word, gaan die waarskuwingsligte outomaties aan om motors agter te waarsku.
Die hart van die nuwe E-reeks is natuurlik die reeks uitstaande enjins wat aan die een kant ingestel is om minimum uitlaatgasse in die omgewing te laat ontsnap en aan die ander kant maksimum verrigting toe te laat. Die gebruik van die eco-stelsel wat die enjin by verkeersligte laat afskakel, is een van die kenmerke. Boonop is die belangrikste toevoeging die nuwe hibriede E-Klas wat gebruik maak van die nuwe dieselenjin wat gekoppel word aan ‘n elektriese eenheid. Die E 300 BlueTEC HYBRID is toegerus met ‘n viersilinder dieselenjin wat 150 kW beskikbaar stel en ondersteun word deur ‘n 20 kW elektriese motor wat hierdie luukse motor in staat stel om so min as 4,1 l/100 km te verbruik en slegs 110 g/km vrystel. Dit maak hom die “skoonste” van al die middelklas luukse motors op die mark.
Ander enjins, wat saam met die 7-gang outomatiese ratkas beskikbaar is, sluit in die E200 met ‘n enjin wat 135 kW ontwikkel en 300 Nm vrystel, die E300 2,2 liter hibriede diesel met ‘n gesamentlike diesel/elektriese aandrywing met 170 kW en 590 Nm en die 5,5 liter V8 E63 AMG met ‘n aardskuddende 430 kW en 800 Nm! Verrigting vir 0-100 km/h wissel tussen 7,9 sekondes vir die E200 tot 4,9 sekondes vir die E500! Brandstofekonomie vir die warm E500 word as minder as 9 l/100 km aangegee. Maar vir die eienaar van só ‘n wa sal dit groot selfdissipline kos om hierdie syfer te behaal.
Om hierdie krag veilig te benut is al die moontlike elektroniese stelsels natuurlik ingebou om die bestuurder op die pad te hou. Boonop is al die V8 modelle, wat begin by die E350, toegerus met lugvering om die balans tussen die wiele en aste en die bakwerk onder beheer te hou.
Dit wat die sedans betref; die coupé en cabriolet modelle is terselfdertyd bekend gestel, maar hulle verdien ‘n aparte verslag!
Indien motorpryse in die algemeen in ag geneem word, is die E-reeks hoegenaamd nie onbekostigbaar nie, veral as die talle veiligheidseienskappe en intelligente elektroniese stelsels in ag geneem word nie. Die suikerpil wat die aankoopprys nog soeter maak is die dekking wat die koper geniet met die PremiumDrive 6-jaar of 100 000 km onderhoudsplan waartoe die koper nie geldelik hoef by te dra nie. Weelde met gemoedsrus!
Die pryse van die sedans is soos volg:
E 200 N$541 000
E 250 N$565 000
E 250 CDI N$573 000
E 300 BlueTEC HYBRID N$634 000
E 350 BlueTEC N$716 000
E 400 N$736 000
E 500 N$928 604