Bekendstelling: Isuzu se kraaknuwe KB’s

Enkeles, dubbeles en een-en-‘n halwes

Mededinging om ‘n beduidende aandeel in die mark vir bakkies in Suid-Afrika moet beslis van die taaiste in die wêreld wees.  Die land se ekonomie word veral deur primêre sektore gedryf waar die funksionaliteit van veral die 1-tonners onontbeerlik is en wat gevolglik ideale bemarkingsomstandighede skep.

Die markfokus vir bakkies het egter die laaste paar dekades ook verskuif na die kommersiële markte en met die verfyning van die voorkoms en binneruimtes is die bemarkingsprofiel na die passasiersmark uitgebrei.  En dit is juis hier waar swaargewigte soos Isuzu, Toyota, Mazda, Ford en Volkswagen mekaar die stryd aansê met ander Oosterse vervaardigers uit China wat ook hard en duidelik in die koor begin saamsing.

Isuzu het sedert die bekendstelling van sy 2.0 liter petrolmodel in Suid-Afrika in 1972 sy kleim in die Suid-Afrikaanse mark duidelik afgesteek en later veral bekend geword vir die betroubaarheid van sy dieselbakkies.  Opgradering van dieselbakkies van ander mededingers in die mark, soos veral met die Amarok en die Ford Ranger onlangs, was oor die laaste paar maande aan die orde van die dag en dié van die res is enige dag te wagte.

Daarom het General Motors Suid-Afrika ook nie op hulle laat wag nie en met die nuwe uitgebreide sesde generasie KB-reeks helaas elke segment van die bakkiemark met uitstekende modelle beset. Die reeks is in elke opsig indrukwekkend van voorkoms, afwerking, kraglewering, gerief en algemene funksionaliteit wat verwag kan word van ‘n kwaliteit voertuig wat nie net op die landbou- en kommersiële mark gerig is nie, maar ook op die passasiersmark.  In hierdie opsig gaan Isuzu beslis vir Toyota waardige teenstand bied in die mededinging om die posisie as leier in die bakkiemark.  Daarby loer Ford se nuwe Ranger met honger oë oor Isuzu se skouer vir ‘n tweede plek!

Die nuwe KB-reeks se ontwerpingenieurs het uitmuntend daarin geslaag om nie net die vooraansig met ‘n nuutontwerpte sierrooster en buffer ‘n meer uitdagende voorkoms te gee nie, maar het dit ook gekombineer met ‘n meer vaartbelynde ontwerp.  Hierdie aspek, saam met ‘n herontwerpte dak, dra by tot laer lugweerstand wat aan die 3.0 liter D-TEC enjin die beste brandstofverbruik in sy klas gee. Die nuwe Isuzu KB is ook groter en langer wat wyer, ergonomiese deurtoegang tot die binneruim tot gevolg het.  Verder is die fors voorkoms van die nuwe Isuzu harmonieus gekombineer met ‘n sportiewe voorkoms wat hom ewe tuis laat lyk in ‘n ruwe veld- sowel as stedelike omgewing.

Verbeteringe in die binneruim van die nuwe Isuzu toon veral drie opvallende kenmerke.  Eerstens vergelyk die luukse rygerief en absoluut lae wind- en enjingeraas van die KB se Dubbelkajuit goed met dié van ‘n luukse passasiersmotor.  Tweedens maak die kontroles en instrumente se logiese en goed beplande plasing en posisionering dit maklik vir die bestuurder om lesings met een oogopslag waar te neem en is kontoles binne maklike bereik.  Derdens is die binneruim mildelik toegerus met veelvuldige kleiner stoorkompartemente vir kleiner artikels wat maar altyd hulle weg na binne vind en maklike bereikbaar moet wees.  En natuurlik beteken die nuwe Isuzu se groter afmetings ook meer ruimte en gerief aan insittendes, veral in die dubbelkajuit modelle.

Sewentig jaar en 23 miljoen enjins later kan Isuzu sekerlik aanspraak maak op die absolute betroubaarheid en duursaamheid van veral sy dieselenjins.  Die 3.0 liter D-TEQ en 2.5 liter dieselenjin opsies lewer dus nie net gemoedsrus nie maar ook opwindende vooruitsigte met die verbeterde 3.0 liter wat nou 130 kW en 380 Nm wringkrag lewer.  Nuwe vyfspoed outomatiese ratkaste is nou ook beskikbaar vir die LX modelle waar die bestuurder ook selektief met die ratte kan omgaan vir meer bestuurplesier en buigbaarheid in die voertuig se funksionaliteit wat weer beter brandstofverbruik tot gevolg het.  Die 2.5 liter petrolenjin het homself oor die jare heen bewys en is nou met verdere verfyning instaat om 112 kW kraguitset te lewer.  ‘n Toename in kraglewering, ‘n langer wielbasis en verbeterde voorsuspensie dra nie net alleen by tot beter padhantering nie, maar maak ook van die nuwe Isuzu ‘n klasleier wat betref sleep- en drakragvermoë.

Wat aktiewe en passiewe veiligheidsmaatreëls betref kan die nuwe Isuzu met enige moderne passasiersmotor saamgesels.  In die LX Dubbelkajuitmodelle is daar nou ses lugkussings vir beskerming ingebou terwyl remkrag met die mees moderne elektroniese tegnologie ondersteun word.  Die verbeterde nuwe onderstelontwerp, waarna verwys is, dra nie net by tot beter hantering nie, maar lewer ook ‘n bydrae tot passiewe veiligheid met die maksimum absorbering van energie tydens die impak van ‘n botsing

In samewerking met die moedermaatskappy, General Motors, is Isuzu besig met ‘n totale aanslag op nie net die Suid-Afrikaanse mark nie, maar ook die groter Afrika mark.  Dit is dan ook geen wonder nie dat die reeks uit nie minder as 21 verskillende modelle bestaan nie om haas elke moontlike gaping in die mark te vul.  Ruimte ontbreek om pryse vir die volledige reeks te gee en is dit voldoende om te noem dat die intreeprys in die enkelkajuit dieselreeks N$229 300 is, vir die verlengde kajuit model is dit N$290 000 en in die dubbelkajuitmodel vir dieselenjins is dit N$363 200.  Die intreepryse vir die petrolmodelle is N$218 900 (enkelkajuit) en N$309 100 (dubbelkajuit)

Isuzu rugsteun sy modelle met ‘n vyfjaar/120 000 km waarborg/padbystand en ‘n vyfjaar/90 000 km diensplan terwyl die diensintervalle 15 000 km is.

Leave a Comment