Bekendstelling: Nuwe Toyota Verso [2013]

‘n Vars en vriendelike nuwe vuurwa

Toyota se Verso, die superstasiewa in die Corolla-reeks, het so pas ‘n nuwe baadjie aangetrek, en ook ‘n paar ander dinge wat nie so opsigtelik is nie. Stasiewaens het hier by ons hulle gewildheid lankal verloor; die enkeles wat nog op die mark beskikbaar is, is eerder gekamoefleerde Duitse blitssedans wat regtig nie pakplek het nie.

Namibiers (en Suid-Afrikaners) verkies bruikbare pakplek, of sitplek vir sewe met ‘n Ventertjie aangehaak om al die bagasie van die amper halwe rugbyspannetjie te vervoer.

Dit is hier waar die nuwe Verso hom tuisvoel en indruk maak met sy nuwe stilering, in die woorde van Kerry Roodt van Toyota se Bemarkingskommunikasie: “Die 2013-Verso, wat op die veelsydigheid, praktiese gebruik en ruimte van die bestaande model voortbou, lewer nog meer styl, dinamisme en gemak in die reeks. Die nuweling volg Toyota se nuwe ontwerprigting met ’n duidelike gesinsidentiteit, ’n verbeterde binneruim sowel as opgekikkerde rydinamika met minder geraas en ’n sagter rit. Die magswoord is ‘veelsydigheid’ en ‘stylvol’ – presies dit waarna baie mense op soek is wanneer hulle die koelkop-aankoop van ’n nuwe gesinsvoertuig in die huidige klimaat oorweeg.”

Overgeset synde: Daar is nuwe kurwes aan die voorkant waar die neus en rooster die nuwe Toyota gesig beklemtoon word met ‘n bo- en onderrooster vir enjinverkoeling; die ligeenhede voor en agter is nuut en daar word van LED beligting gebruik gemaak. Boonop laat die nuwe kurwes ook die motor breër en langer lyk en is die oorkoepelende beeld ‘n positiewe een van styl en kwaliteit wat deur die subtiele gebruik van chroom, beklemtoon word. Van praktiese belang is die feit dat die motor nou nog meer vaartbelyn is en dat die lugweerstand met 10% afgeneem het; dit lei natuurlik na nog suiniger brandstofverbruik.

Ook aan die binnekant is daar ‘n nuwe instrumentepaneel met sagte, oranje beligting wat vir intensiteit verstelbaar is deur die gebruik van ‘n reostaat, ‘n nuwe rekenaarskerm om talle funksies aan te dui. Die kontras van die instumente is ook vergroot om makliker sigbaar te wees. Hierdie is praktiese veranderinge wat ook die indruk van verhoogde kwaliteit-standaarde weerspieël.

Al het die Verso nie ‘n stompneus nie, vergelyk hy baie goed met die duurste van hierdie tipe voertuie wat hoofsaaklik op die luukse mark gerig is. Noem hom ‘n Corolla met baie, baie plek en gerief. En prakties: die agterste twee sitplekke verdwyn in ‘n plat vloer as hulle nie gebruik word nie en laat ‘n laaispasie van 440 liter. Selfs al word die agtersitplekke benut laat dit nog steeds 155 liter vir bagasie. Boonop is die beenruimte tussen die eerste en tweede rye sitplekke groot genoeg om ‘n paar knewels die langpad te laat geniet sonder om beenkrampe te kry. ‘n Verdere handigheid is die gebruik van vliegtuigtipe tafeltjies agter die sitplekke.

Toyota laat aan die koper ‘n keuse van drie enjins; 1,6 en 1,8 liter petrolenjins en die vermaarde 2-liter turbodiesel D-4D. Die 1,6-Valvematic wat 97 kW ontwikkel is aan ’n 6-gang-handratkas gekoppel en spog met ’n brandstofverbruiksyfer van 6,8 l/100km in die gekombineerde siklus en hy versnel van 0-100 km/h-kerf binne 11,7 sekondes. Die 1,8 Valvematic skop 108 kW uit en is beskikbaar met die 6-gang-handratkas of ‘n palwissel-ratkas (CVT). Die amptelike verbruiksyfers vir die handrat- en CVT-weergawes is 7 l/100km en 7,1 l/100km onderskeidelik. Versnelling van 0-100 km/h is 10,4 sekondes vir die handrat en 11,1 sekondes vir dié met die CVT-ratkas.

Die 2,0 liter D-4D-diesel, my persoonlike keuse, is gekoppel aan die 6-gang-handratkas en ontwikkel 91 kW teen ‘n rustige 3 600 r/min terwyl 310 Nm wringkrag vanaf 1 600 tot 2 400 rpm beskikbaar is. Brandstofverbruik van so laag as 5,5 l/100 km kan in die gekombineerde siklus verwag word terwyl hy die 0-100 km/h naelloop in 10,1 sekondes aflê. Netjies!

Maar hoe maak hy op die pad? Die Verso is vas op sy voete, het ‘n goeie grondvryheid vir ons wonderlike en unieke grondpaaie en die rit is besonder gemaklik weens die gebruik van bande met genoeg rubber tussen die velling en die pad. Slaggate, waarvan daar baie op die pad was, was netjies uitgestryk sonder slag of stoot. Miskien moet méér vervaardigers ons pad-realiteite takel soos Toyota dit doen.

Daar is drie variasies van die Verso; die S, SX en TX, almal met verskillende grade van toerusting met die S as die intreemodel met sy 16”-staalvellings wat hom uiterlik van die ander onderskei. Die top  TX-model het leerbedekking met dubbele stikwerk vir die sitplekstutte om by dié van die armleunings te pas. Die vlagskip-modelle het ook slimkaart-toegang en ’n drukknop-aansitter.

Vanselfsprekend is al die nuutste elektroniese veiligheidseienskappe standaardtoerusting. Op die TX weergawe is ook praktiese hulpmiddels soos ‘n trukamera en raakskerm plus reënsensors om rygemak ‘n stappie verder te voer.

Die bagasieruim het ook ‘n versteekte bergruimte onder die agterste deel, wat ideaal is om klein en waardevolle items buite sig te bêre. Die inhoudsvermoë daarvan wissel na gelang van die gebruik van vyf of sewe sitplekke. Die bagasiebedekking kan ook in hierdie ruimte geberg word wanneer dit nie gebruik word nie. En soos enige goeie veeldoelvoertuig betaam, bied die nuwe Verso ’n magdom bergruimtes regdeur die kajuit, wat ’n dubbele paneelkissie insluit. Die boonste van die twee kan verkoel word en is groot genoeg om ’n bottel van 1,5 liter te verkoel, terwyl die groter onderste paneelkissie ’n inhoudsmate van 8,2 liter het.

Geraas en vibrasie na die kajuit van die Verso is verbeter en die D-4D dieselenjin is nou ook stiller danksy minder ontbrandingsgeraas en nuwe klankdemping.

Maar wat kos hierdie nuwe Verso? Pryse begin by N$261 900 vir die 1,6 S intreemodel, N$284 300 vir die 1,6 SX  en die 1.8 TX met sy 6-gang-handratkas kos N$314 200. Die outomatiese 1,8 TX verkoop teen N$326 100 met die vlagskip 2.0D TX 6-gang-handratkas wat jou N$329 900 uit die sak gaan jaag.

Die nuwe Verso word deur ’n waarborg van drie jaar of 100 000km gedek en kom met ’n diensplan van vyf jaar of 90 000km. Maar die grootste bonus is Toyota se ongeëwenaarde reputasie vir deeglikheid en betroubaarheid!

Leave a Comment