Jaguar se welpie, die E-Pace
Na die sukses van die F-Pace is die aankoms van sy kleiner broer nie ‘n verrassing nie. Met die E-Pace het Jaguar ‘n ontwerp van ‘n sportmotor met die funksionaliteit van ‘n sportsnutsvoertuig (SUV) gekombineer. Volgens Jaguar is die E-Pace ontwerp om aanklank te vind by jonger mense met ‘n aktiewe leefstyl.
Die E-Pace is beskikbaar met Standaard, S, SE en HSE spesifikasies en twee bakwek-opsies, die E-Pace en die E-Pace R-Dynamic met ‘n keuse van drie diesel enjins wat D150, D240 en D240 genoem word en twee petrol enjins genaamd P250 en P300. Daar is ook ‘n sogenaamde “First Edition” Dit het die afwerking en toerusting van die top modelle met ‘n keuse van of ‘n petrol (P240) of ‘n diesel (D180). Dit is altesaam 38 opsies. Alle variante van die E-Pace in Suider-Afrika het vierwielaandrywing en ‘n outomatiese ratkas.
Binne is die E-Pace puik afgewerk. As jy in die voertuig klim is die kwaliteit opvallend. Duursame material soos leersitplekke en leer bedekte voorpaneel en stuurwiel met netjiese omstiksels wat luuksheid weerspieël word oral gebruik. Die binneruim lyk en voel net so goed soos enige ander voertuig in hierdie segment. Die konsole in die middel met ‘n handvatsel aan passasier se kant en die hefboom vir die ratte en die 12,3 duim skerm val dadelik op.
Die bestuurder sit soort van in sy eie ruimte met alle funksies, knoppies en die groot raakskerm byderhand. Daar is vyf USB poorte vir elektroniese toestelle, waarvan drie vir die agterste passasiers. Die raakskerm is standard dwarsdeur die hele reeks met satelietnavigasie van die S model en hoër. Daar is baie ruimte vir vier volwassenes. Die bagasiebak is ‘n ruim 577 liter.
Daar is drie weergawes van die Ingenium twee liter diesel enjins om van te kies. Die kraglewering wissel tussen 110kW en 177kW met die wringkrag tussen 380Nm en 500Nm. Daar is ook twee weergawes van die twee liter petrol enjin. Hier is die kraglewering van 183kW en 221kW onderskeidelik. Al hierdie enjins is gekoppel aan ‘n 9-spoed outomatiese ratkas (ZF) wat die wringkrag goed versprei sodat die enjin se optimum wringkrag heeltyd benut word. Oorskakeling is seepglad.
Die E-Pace voldoen aan alle wêreld veiligheidstandaarde en oortref dit self. Dit is toegerus met ‘n rits veiligheidstoerusting, wat tegelykertyd gemoedsrus en gemak bied. Behalwe die standaard veiligheidtoerusting wat die meeste modelle deesdae het, soos ses lugsakke, ABS stabiliteitsbeheer, ens is daar ‘n paar ekstras wat min ander voertuie het. Daar is die blindekol waarskuwing op die buitespieëltjie as ‘n ander voertuig skuins agter jou ry en jy wil van baan verwissel of uit ‘n parkeerplek uit kom. Die stuur van die E-pace “sien” die strepe tussen die lane van ‘n snelweg en as jy onbewus oorskuif reageer die stuur om die voertuig in die baan te hou – iets om aan gewoond te raak. Dan dan is daar ook ‘n sensor wat jou waarsku dat jy te na die voertuig voor jou is en sal die remme aktiveer as jy nie self rem nie. Voor is daar ‘n buite-lugsak om voetgangers te beskerm.
Die E-Pace probeer nie om ‘n sportiewe luikrug soort voertuig te wees nie – eerder ‘n luukse kompakte sportsnutsvoertuig maar met genoegsame krag en uitstekende hantering wanneer die behoefte daar is. Die E-Pace is redelik swaar en dus is die werkverrigting nie baie indrukwekkend nie en kan eerder as voldoende beskryf word.
Ons het die E-Pace op ‘n groot verskeidenheid van paaie getoets. In die woonbuurte van Johannesburg, in die druk verkeer van die stedelike gebied en snelweë en laastens buite die stad teen hoër snelhede en binne ‘n wildreservaat waar die maksimum snelheid slegs 40km/h is. Met sy gladde outomatiese ratkas en voldoende krag en stewige maar gemaklike en veilig rit is die E-Pace op al hierdie paaie tuis. Die toetsmotors het 20” bande gehad met ‘n lae profiel wat die rit ferm maak maar nie stamperig nie. Daar is die opsie om bande met ‘n hoër profiel te kies indien jy soms grondpaaie of ander swakker paaie gaan ry. Vir ‘n meer sportiewe voorkoms kan 21” wiele gekies word.
Op al hierdie paaie was die stewigheid van die bakwerk duidelik wat die puik bou gehalte van die E-pace bevestig. Hy word in Graz, Oostenryk gebou. Geen kraakgeluide of ratels nie en min geraas van die pad of enjins. Behalwe wanneer jy regtig haastig wil wegkom, is die geraasvlakke binne die kajuit baie laag.
Pryse wissel tussen R598500 en ‘n R892400 (S.A. pryse) en het ‘n waarborg, ‘n diensplan en ‘n onderhoudsplan, almal vir 5 jaar of 100 000km as standard.
Ek het die tydtjie met die E-Pace baie geniet. Hy is gemaklik en solied eerder as opwindend. Dit is ‘n mooi voertuig, vir my mooier as sy groter broer, die F-Pace. Hy is kompak genoeg om baie gemaklik in die verkeer en klein, kronkelstraatjies te bestuur. Die 9-spoed outomatiese ratkas werk goed saam met die diesel- of petrol enjin. Persoonlik sal ek die diesel verkies vanweë die groter wringkrag. Al die elektroniese hulp- en veiligheidstoerusting is handig en maklik om te benut. As hy met sy drie Duitse mededingers, Audi Q3, BMW X2 en Mercedes Benz GLA vergelyk word, dan is hy nie juis duurder nie. Later vanjaar sal nog ‘n mededinger, die Volvo XC40, op die Suid-Afrikaanse mark te koop wees.
Die nuwe E-Pace sal waarskynlik Jaguar se beste verkoper word.