Bekendstelling: Toyota Land Cruiser Prado [2014]

2014 se nuwe Ontspannings- en Woestynwa

Met die skryf van hierdie artikel oor die nuwe Toyota Prado, is die plaaslik vervaardigde Hilux bakkies op die punt om die stryd in die Dakar tydren in Suid-Amerika aan te sê. Nodeloos om te sê, almal van ons hou duimvas vir die jaers en navigators wat ons in die verlede al soveel keer die kans gegee het om trots te voel!

Aanvang Desember het ons die kans gehad om in die Namib die nuwe 2014-model Prado te toets, juis dié gebied waar die Dakar bakkies hulle vuurdoop ondergaan het. Natuurlik was ons snelhede mak verby teenoor dié waarmee Giniel de Villiers en sy genote oor die duine gespring het!

Die nuwe Prado onderskei hom op die oog af baie duidelik van sy voorganger; die nuwe neus en rooster is bonkig en beklemtoon die brute krag wat onder die enjinkap weggesteek is; aan die ander kant is daar ook verfyning soos die nuwe hoofligte wat styl met krag kombineer. Verder is daar die nuwe 17” en 18” allooiwiele wat die voorkoms van die Prado nog meer indrukwekkend maak.

Aan die binnekant is daar verdere verfyning met ’n herontwerpte voorpaneel, en in sommige modelle, die baie praktiese toevoeging van ‘n blindekol-waarskuwingstelsel as ander motors in die onmiddelike nabyheid van jou voertuig is en ook banddruk monitering. So ook  “daglig ry” ligte voor. Natuurlik word leerbekleedsel reg deur die reeks gebruik.

Daar is nou meer elektronika beskikbaar om diegene wat nie hardebaard 4×4 ryers is nie, te help om die volle potensiaal uit hulle Prado te verkry. Hierdie eienskappe sluit in die beheerknop (geen ekstra hefbome meer nie) waarmee die regte modus ingestel word vir die tipe terrein waaroor gery word en die beheerstelsel om moontlike sleepwa-swaai bewegings onder beheer te bring.

Gewone skakelaars stel die bestuurder ook in staat om sommige elektroniese funksies met betrekking tot die remstelsel, wat saam werk met ABS, uit te skakel. Op die ou-einde is daar nog altyd situasies waar die ervare 4×4 bestuurders die terrein beter kan “lees” as die ten volle outomatiese beheerstelsels. Dit sal die nuwe eienaar van die Prado dus loon om eers die handboek goed deur te lees om hom werklik te bemagtig as die teerpaaie wegraak en hy die woeste en ongetemde rowwe plekke aandurf.

Onder die enjinkap is daar die deeglik beproefde V6-petrolenjin met vier bonokasse wat 202 kW teen 5 600 rpm en 381 Nm wringkrag teen 4 400 rpm vrystel. Volgens Toyota kan ‘n
brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is 11,5 liter per 100 km verwag word terwyl die CO2-lesing op 266g per kilometer te staan kom. Die drieliter-turbodiesel (my persoonlike keuse) ontwikkel 120 kW teen 3 400 rpm en stel 400 Nm tussen 1 600 en 2 800 rpm beskikbaar en kan daar in die gekombineerde siklus 8,5 liter/100 km verwag word met ’n CO2-lesing van 224 g/km. In die Namibwoestyn gaan hierdie syfers natuurlik heelwat hoër wees.

Die Prado se outomatiese A750F-Super-ECT-vyfgang-outomatiese ratkas gebruik ’n tikrat-funksie, of daar kan eenvoudig in die ‘D’-posisie gery word en die dinkwerk aan die rekenaar oorgelaat word.

Permantente vierwielaandrywing word gebruik en die krag na voor en agter deur ’n sluitbare Torsen-middelewenaar en deur laestrekratkas beheer. Die VX-weergawes het ’n bykomende ewenaarslot en ook kruipbeheer.

Die Prado gebruik ook Toyota se kinetiese dinamiese veerstelsel (KDSS) wat oorspronklik in Australië ontwikkel is. KDSS gee die Prado twee voordele wat voorheen teenstrydig was: lang wielbewegings vir uitdagende veldrytoestande (artikulasie), en beter rolbeheer en hantering op die teerpad. Dié stelsel verhoog aktiewe veiligheid, veldry-vermoë en padry-gemak en -vertroue.

Nog ‘n belangrike stuk toerusting is die VX-modelle se veelvoudige videokamera’s wat beelde van die terrein rondom die voertuig monitor en die “blinde kolle” op die monitor gooi. So ook lugvering agter wat die hoogte van die voertuig op ‘n konstante peil hou.

Van praktiese belang vir 4×4 veterane is die draaisirkel van 11,6 meter en ‘n invalshoek van (32°, vertrekhoek van 25° en oorbruggingshoek van 22°, dieselfde as in die vorige Prado’s. Die Prado het ook ‘n derde ry sitplekke met rugleunings wat kan kantel en nou ook méér voetruimte omdat die vloer laat sak is. Maar met sewe aan boord sal daar natuurlik ‘n sleepwa getrek moet word. Belangrik ook vir dié wat heel agter sit is die opgradering van die lugreëling tot klimaatbeheer.

Wat kos hierdie woestyn- en Afrika-langpad Cruiser, en ma se taxi met sy 7 sitplekke? Die “intreemodel” Prado TX 4.0 petrol gaan jou N$632 200 uit die sak jaag, en die
Prado TX diesel N$642 000. Die VX modelle kos N$728 200 vir die Prado petrol en N$732 400 vir die dieselweergawe.

In terme van wat jy kry, Toyota betroubaarheid en ondersteuning op afgeleë plekke, is hierdie Prado waarde vir geld. Verder kom hy met ’n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 km.

Leave a Comment