Bekendstelling: Volkswagen Bussies

David Kramer se Kombi opgekikker

Volkswagen het onlangs twee van hulle meer semi-handelsvoertuie meer gesinsvriendelik gemaak met ‘n paar veranderings aan ratkaste, enjins en afwerking.

Kombi met DSG ratkas:

Daar is vier modelle in die Volkswagen T5 bussie-reeks. Die luukse Caravelle en die California Beach het die sterk 132kW BiTurbo 2 liter dieselenjin (van die Amarok). Hulle pryse wissel tussen N$644 400 en N$695 400. Daar is ook die nuwe Kombi- en die Transporter-reeks, wat die dubbelkajuit bakkie insluit.

Nou het Volkswagen Suid-Afrika nog van hulle T5 Kombi’s met ‘n DSG-ratkas toegerus. Hierdie ratkas wat voorheen net in die lang-as Comfortline beskikbaar was, is nou ook in die kort-as Trendline en Comfortline afwerkingsvlakke te kry.

Nuut in die kombi is Volkswagen se DSG ratkas met 7 ratte wat goed met die Kombi harmonieer en hom nolg gemakliker laat bestuur. Natuurlik is ‘n groot voertuig soos die Kombi  nie so maklik om in klein spasies in die stad te parkeer nie, maar met die outomatiese ratkas is stedelike verkeer nou makliker. Op die oop pad was die Kombi nog altyd gerieflik met sy lang wielbasis en op grondpaaie hanteer hy verbasend goed. Met die outomatiese oorskakeling, is dit nog beter.

Die padhouvermoë is goed aa gevolg van Volkswagen se goeie veerstelsel, maar daar moet onthou word dat dit ‘n bussie is met ‘n redelik hoë swaartepunt, en is dus nie gemaak om soos ‘n lae sedan om skerp draaie te vlieg nie. Die krag van die turbo-diesel enjins is meer as voldoende met hulle goeie wringkrag teen lae omwentelings.

Die Kombi gebruik Volkswagen se 2 liter dieselenjiin wat 103kW en 340Nm ontwikkel. Saam met Volkswagen se 7-spoed DSG ratkas gee dit aan die Kombi ekskra gemak en goeie brandstofverbruik. Die 7de rat funksioneer eintlik as ‘n snelrat vir lae brandstofverbruik op die lang pad. Volgens Volkswagen kan die Kombi tot so min as 8 l/100km verbruik.

Binne is die afwerking tipies Volkswagen – netjies met ‘n gevoel van kwaliteit en sonder blink insetsels. Sitplekke is gemaklik en die bestuurder en die ander insittendes, daar is plek vir agt, het hope spasie. Standaard toerusting in die Trendline model sluit ‘n CD/MP3 klankstelsel met agt luidsprekers in. Dit het ook voor- en agter lugreëling, sentrale sluiting en vir veiligheid is daar dubbelle lugsakkke en stabiliteitsbeheer (ESP). Ook standard is ‘n vyf jaar of 60 000 km diensplan.

Volkswagen se T5 bussies, in al sy weergawes, bly nog steeds ‘n goeie alternatief vir ‘n familie-SNV waar met meer spasie nodig is; die méér krag maak die DSG ratkas werklik bruikbaar.

Pryse vir die nuwe Kombis, met DSG, wissel tussen N$447 900 vir die 2.0 TDI en N$519 000 vir die Comfortline.

Die Cross Caddy

Volkswagen se Caddy is oorspronklik as ‘n paneelwa ontwikkel  vir die kommersiële mark met net twee voorste sitplekke. Daarna het die Caddy nog sitplekke en vensters agter bygekry om ‘n passasiersvoertuig te word. Nou het Volkswagen die Cross Caddy bekend gestel en kan gesien word as ‘n alternatief tot die duurder gesinsbussies op die mark. Die Cross Caddy is beskikbaar met slegs tipe een enjin, ‘n baie gewillige 2 liter diesel wat 81kW en 250Nm ontwikkel. So ook die vyf-spoed handratkas. Die kombinasie van aandrywing gee aan die Cross Caddy ‘n verbruiksyfer van slegs 5,3l/100km volgens Volkswagen SA.

Die Cross Caddy is bedoel vir die avontuurlike gesin wat baie spasie benodig vir uitstappies en vakansies met al hul bagasie en kamptoerusting. Die Cross Caddy het nie minder nie as ses deure vir maklik toegang om alles te laai. Behalwe die gewone voordeure is daar twee skuifdeure vir die agterste insittendes en dan twee oopswaai deure heel agter wat individueel oopgemaak kan word. Die Cross Caddy kan ook met sewe sitplekke bestel word.

Omdat die Cross Caddy begin het as ‘n paneelwa  kan sy voorkoms vir sommige voornemende kopers te veel na ‘n kommersiële voertuig lyk, maar Volkswagen het hom opgekikker met 17 duim sportiewe allooiwiele en beskermende swart plastiekstroke rondom die wielboë. Om die Cross Caddy meer  robuust  te laat lyk is daar skermplate van silwer plastiek  voor onder die neus en agter en asook silwerkleurige dakreëlings. Daar is ook verskeie kleure om van te kies, onder andere helder kleure soos Viper Green en Honey Orange. Die kantruite is donker getint om die voertuig koeler te maak.

Binne is die Cross Caddy goed toegerus met die tipiese elektroniese geriewe soos klank kontroles op die stuurkolom en stuurwiel, sentrale sluiting, Bluetooth en ‘n radio/CD stelsel en voorste sitplekke wat verhit kan word. Die ligte en ruitveërs kan outomaties verstel word. Daar is heelwat stoorruimtes, altesaam 24 rakkies vir los dinge soos koeldrankbottels en allerlei wat vroueharte gaan bly maak! Die sitplekke gee goeie ondersteuning en het ‘n twee-kleur afwerking om dinge ‘n bietjie oop te vrolik.

Die Cross Caddy ry soos ‘n normale gesinsmotor op die pad en met die breë lae profiel bande (205/50R17) saam met ‘n stewige veerstelsel gee dit hom goeie padhouvermoëns. Die lae profiel van die bande maak egter nie van hom ‘n ideale grondpadvreter nie.

Vir veiligheid is daar voor-, kant- en kop lugsakke en asook IsoFix kindersitplek ankers.

Die Cross Caddy word verkoop met ‘n drie jaar of 120 000 km waarborg. Diens- en onderhoudsplanne is opsioneel en die diensintervalle is elke 15000km.

 

 

Leave a Comment