Reik na verdere hoogtes
Volkswagen se Polo Vivo het in 2012 die prestasie behaal om as topverkoper van passasiersmotors in Suider-Afrika aangewys te word. Nie minder nie as 34 873 van hierdie gewilde model uit die Volkswagen stal, wat in Uitenhage vervaardig word, is gedurende 2012 verkoop.
Nou het die maatskappy die reeks nog verder uitgebrei met die bekendstelling van die Polo Vivo Maxx wat in ‘n luikrugmodel beskikbaar gestel word.
Die feit dat die Maxx, in vergelyking met die ander Polo Vivo model, se grondhoogte vermeerder is vanaf 115 tot 141 mm, verleen aan die nuwe model dan miskien ook die gepaste naam van Polo Vivo Maxx. Maar daar is ook heelwat ander veranderinge aan die buitekant sowel as die binnekant van die Maxx aangebring wat hom van die gewone Vivo onderskei. Behalwe die verhoogde suspensie spog hierdie jongste lid van die Polo familie ook met 17 dm allooiwiele, buitespieëls met afwerking in dieselfde kleur as die bakwerk, dubbele uitlaatpype en aluminium dakreëlings. Swart plastiek afwerking om die rande van die buffers en die wielboë voltooi die buite afwerking.
Die binneruim van die Maxx toon ook uitstaande en verskeie sportiewe kenmerke in vergelyking met die gewone Polo Vivo. Die voetpedale spog met aluminium insetsels, ‘n middelkonsole in titanium verf, elektries beheerde vensters voor, ‘n drie-speek stuurwiel in leer met chroom insetsels en grys stikwerk, radio/CD/MP3/Bluetooth funksies en vloermatte wat ook met grys stiksels afgewerk is .
Die Polo Vivo Maxx word aangedryf deur ‘n 1.6 liter enjin wat 77 kW by 5 250 rpm en 155 Nm by 3500 rpm lewer wat in kombinasie met ‘n vyf spoed handratkas funksioneer. Versnelling van die Maxx vanaf 0-60 neem 10.5 sekondes en die maksimum spoed wat behaal kan word is 187 km/h. Die Maxx het ‘n 45 liter brandstofkapasiteit en Volkswagen maak aanspraak op ‘n gemiddelde petrolverbruik van 5,6 liter/100 km in die gemengde siklus.
Standaard veiligheidskenmerke sluit in lugsakke voor vir die bestuurder en passasier, ABS-remme met elektroniese remverspreiding sowel as ‘n alarm en sentrale sluitbeheer.
Tot op hierdie punt is die bostaande statistieke omtrent die belangrikste en mees uitstaande kenmerke wat mens oor die Polo Maxx kan en wil sê. En miskien klink dit na ietwat van ‘n negatiewe standpunt. Want die Maxx is veronderstel om in sy ouer boetie se spore te volg en die verkoopsyfers van die eenhede wat van die vervoerband in Uitenhage rol nog verder die hoogte te laat inskiet. Ondanks die sportiewe kenmerke soos die metaal voetpedale, in leer afgewerkte stuurwiel en ratkierie asook die dubbel uitlaatpype is die Maxx se werkverrigting miskien nie wat mens van sy voorkoms sou verwag nie.
Soos duidelik gesien kan word aan bogenoemde syfers en statistieke is die Maxx ‘n doodgewone alledaagse gebruiksmotor en is daar geen twyfel dat Volkswagen se ingenieurs nooit in gedagte gehad het om die Maxx op ‘n resiesbaan te laat kompeteer nie. Met ‘n relatief aansienlike verhoging in grondhoogte sou mens eerder verwag dat dit gedoen is met die oog op die skokkende voorkoms van slaggate op sommige paaie eerder as om padhouvermoë te verbeter. En tog verskaf die Maxx, ten spyte daarvan, ‘n verbasende stewigheid en soepelheid in sy padgedrag.
Daarby moet die potensiële koper ook nie in die slaggat trap wat so baie ouers in so baie kinders se koppe probeer inhamer nie, iets soos: “moenie jou deur voorkoms laat mislei nie….” Of iets dan in dier voege. Die Maxx is beslis vir die eerste koper bedoel of miskien selfs vir die eerste opgradering wat iets vir die oog soek, maar nie ‘n motor wat hom in sy jeugdige voortvarendheid letterlik van die pad af in die sloot sal laat beland nie.
Daarvoor sal nie net die Maxx se veiligheidskenmerke sorg nie, maar ook die feit dat die Maxx se kraglewering van so ‘n aard is dat hy hom nie sal laat aanjaag deur ‘n jongeling, of wie ook al, wat sy krag mag oorskat nie. En daarmee kan ouers wat vir seun (of dogter) ‘n eerste kar oorweeg, gerus slaap – die Polo Vivo se bewese betroubaarheid is daar, die Maxx volg in sy ouer boetie se spore met die basiese dinge wat benodig word en niks meer nie, maar juis daarin lê die Maxx se sterk punt. Doodgewoon, sonder elektroniese foefies, maar betroubaar en bekostigbaar.
En jy kan op plaaspaaie met hoë middelmannetjies ry! Voeg daarby ‘n uitstekende klankstelsel, gemaklike bestuursposisie met baie beenspasie vir daaglikse ritte en ‘n ruim bagasiebak en die tafel is gedek vir nog rekordverkoopsyfers.
Die kleinhandelprys van die Polo Vivo Maxx is N$164 300 wat BTW asook die belasting op uitlaatgasse insluit. Hierby word ingesluit ‘n waarborg van 120 000 km of 3 jaar, ‘n ses jaar waarborg teen roes asook ‘n opsionele diens – en onderhoud plan. Diensintervalle is elke 15 000 km.