Die Picanto sien nou kans vir meer
Kia se Picanto het nog nooit regtig koppe laat draai nie, behalwe met die onlangse bekendstelling van die X-Line reeks, wat nie net die Picanto meer modern laat lyk nie, maar ook die aandag trek van kopers wat na die oorbruggings-mark kyk.
Die Picanto mag nie baie groot wees nie. In werklikheid het dit net 255 liter se stoorspasie en word gedryf deur ‘n 1.2 liter enjin. Nie dan veel van ‘n goeie begin vir hierdie R237 995 (5-jaar waarborg en 2-jaar / 30 000km diensplan) sakpak voertuig nie.
Kom ons kyk eers ‘n bietjie verder na wat die Picanto X-Line inhou voordat daar ‘gesnuf’ word na die volgende voertuig.
Natuurlik sal ‘n 1.2 liter enjin nie die naelloop rekord oorwin nie, maar met 61kW en 122Nm en ‘n algehele lae gewig (962kg), rits hierdie vier silinder maklik tot by die nasionale spoedgrens. Die voordeel van so ‘n kleien enjin en lae gewig is natuurlik dat die brandstof-verbruik selde hoog sal wees.
Beide in die stad en op die oop pad is die X-Line goed gevestig, dit word nie afgeskrik deur die Wes-Kaapse Suidooster nie, en lewer ‘n algehele brandstof-verbruik net bo 5 liter per 100km. Ons het ook die 5-spoed handrat geniet, wat egalig en maklik was om te beheer.
Dis ook nie moeilik om die X-Line te onderskei van die ander Picanto nie. Met treffende LED voor- en agterligte, 15-duim wiele, swart en silwer buffer-afwerkings en ‘n verhoogte ryvlak-hoogte van 5mm, lyk die X-Line modelle veel meer gereed vir die “meer uitdagende” paaie.
Binne word leer op die sitplekke en stuurwiel gevind, terwyl ‘n 8-duim raakskerm (met ‘n trurat kamera), Apple CarPlay en Android Auto, sowel as ‘n USB punt en stembeheer dit aansienlik “jonk” laat voel. Verder het die voertuig 4 elektriese vensters, lugversorging, Bluetooth koppeling en trurat sensors. Ons toets-eenheid het selfs met ‘n opsionele sondak gekom.
Algeheel is die Picanto X-Line dalk nie die grootste in die segment nie, maar is dit voel meer gemaklik en pret om mee te bestuur as die kompetisie. Die X-Line model voel ook meer werd vir die prys wat betaal word; in ag genome van die kompetisie.
Dit is ‘n prettige voertuig om in die stad mee rond te rits en, sou die grondpaaie aanloklik wees oor die naweke, sou die X-Line nie skroom om met twee of selfs drie persone die langpad aan te durf nie.