Oud maar nog nie koud nie!
In die laat vyftigerjare en vroeë sestigs was daar seker een motor wat almal se verbeelding aangegryp het; die DKW. As dit nie vir sy uitstekende vertonings op die renbaan en in tydrenne was nie, was dit ten minste die half outydse bakvorm en dan daardie “put, put, put” klank van die tweeslagenjin as hy luier.
Op Uniondale was dit ‘n Engelsman-onderwyser, Mnr Hewson, wat die eerste geelgroen DKW met ‘n wit kap in 1958 gekoop het; die sogenaamde Sonderklasse (Spesiale Klas). Ds Kotze het kort daarna gevolg met ‘n vaalgrys stasiewa.
Maar daar was ook ‘n swart voor-oorlogse 1936 DKW wat aan Kempie behoort het en wat hy aan my wou afstaan. Die enigste rede hoekom ek nie die aanbod aanvaar het nie, was omdat die enjin in honderde stukke was, dat ek nog ‘n skoolseun sonder ‘n bestuurslisensie was en my pa nie die motor op die werf sou duld nie. Agterna is ek bitter jammer ek het nie maar die aanbod aanvaar nie!
Die eerste van die tweeslag, twee-silinder-enjin DKW’s uit Zschopau in die Ooste van Duitsland, is vanaf Julie in 1933, kort na Hitler se bewinds-oorname, deur Haak’s Garage in Pretoria en Johannesburg bemark.
Waarskynlik was alle voertuie swart – tensy ek iets gemis het. Met skaarste aan staal, en waarskynlik ook om gewig te spaar, het hulle ‘n houtraam gehad wat met ‘n kunsstof oorgetrek was. Enkele modelle met staal bakwerk, asook ‘n sport-cabriolet, bakkie en afleweringswa, is ook plaaslik bemark.
Saam met die Adler, wat nogal baie op die DKW getrek het, het hierdie twee fabrikante op groot skaal in Suid-Afrika verkoop. Niemand minder as dr DF Malan het in die dertigerjare in ‘n brief gemeld dat veral Afrikaners graag Duitse motors koop! En hy het beslis DKW’s in gedagte gehad.
Miskien het hierdie voorliefde vir Duitse masjinerie in die Anglo-Boere-oorlog begin met die Afrikaners se bewondering vir hulle akkurate en betroubare Mausergewere. Wie weet?
Kort op die hakke van die DKW het die duurder modelle van die Auto Union groep gevolg; die baie duurder Audi, Horch en Wanderer modelle. Dit is die samesmelting van die vier maatskappye wat aan Audi vandag sy vier ineengevlegde ringe as logo verskaf het. Teen hulle hoë pryse het hulle egter nooit gewild geword nie en het die meeste Suid-Afrikaners wat geld gehad het, in Fords en Chevs belê. Onder die kleiner motors het die DKW egter koning gekraai.
In 1934 het die tradisioneel General Motors agentskap, Williams Hunt, die DKW, wat toe teen £245 verkoop was, in die Deutsch-Afrikaner as “der deutsche Volkswagen” (volksmotor) geadverteer, lank voordat daar sprake van ‘n Volkswagen-handelsnaam was. (Miskien kan Williams Hunt vir die motorreus nog hof toe neem vir die steel van intellektuele eiendom?)
Ook in 1934 het die Suid-Afrikaanse regering ‘n handelsooreenkoms met die Duitsers aangegaan waarvolgens feitlik die hele plaaslike wolproduksie aan Duitsland gelewer is en hulle in ruil motors, lokomotiewe en vliegtuie op spesiale terme van Duitsland kry.
Dit verklaar die Junkers vliegtuie en Henschell lokomotiewe wat tot diep in die veertigerjare die staatmakers was van die Departement van Vervoer. Die wol-vir-motors ooreenkoms het tot prysverlagings van al die Duitse produkte gelei en is die DKW se prys tot £197-10 sjielings verlaag.
Die prys het tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog dieselfde gebly.
Met zero-inflasie in die prys van “Das Kleine Wunder,” het die DKW van die mees bekostigbare motors op die plaaslike mark gebly. En hy kon kringe om die Britse Austins en Morrisse hardloop!
‘n Stukkie na-oorlogse geskiedenis van DKW is interessant… dit was op die nippertjie dat produksie van die gewilde Oos-Duitser in 1949 in Suid-Afrika voortgesit sou word nadat die legendariese baron von Oertzen al die partye bymekaar gekry het, maar op die ou einde deur administratiewe rompslomp gepootjie is.
Kort hierna het produksie van die drie-silinder DKW, wat eintlik reeds in 1940 as prototipe die lig gesien het, in Duitsland (Ingolstadt en later in Düsseldorf ) hervat.
Die eerste na-oorlogse, “moderne” DKW is deur ‘n Sweedse diplomaat in die vroeë vyftigerjare na Suid-Afrika gebring. Eers in 1954 is plaaslike agente aangestel en is die DKW-Auto Union-reeks deur Mercedes-Benz agente versprei.
Ongelukkig het die handelsnaam in die vroeg-sestigerjare verdwyn nadat Volkswagen die Auto Union/DKW afdeling oorgeneem het.
Saam met die DKW sedanmotors, was daar ook die kombi-tipe bussies en bakkies en die 4×4 Jeep-tipe voertuig, die DKW Munga, plaaslik bemark.
Klaarblyklik het die DKW invoerders daarop staatgemaak dat die Suid-Afrikaanse Leër, soos die pasgestigte Duitse Bundeswehr, die Munga as ‘n vervanging van Willys Jeeps en Land Rovers sou oorweeg.
Dit het natuurlik nie gebeur nie.
Ek het as kind die rye en rye olyfgroen DKW Jeeps in die Port Elizabeth-hawe sien staan. Hulle het in die plek van buitebande sulke houtblokkies om die vellings gehad en is met plaaslike / Suid-Afrikaanse bande toegerus as deel van die nuwe inhoudprogram van die destydse regering. Hoewel enige DKW nou beslis al ‘n versamelstuk is, is dit veral die voor-oorlogse modelle wat die snare roer.
Die skaars cabriolet van Hendrik Verwoerd van Pretoria, oom van die bekende motorjoernalis met dieselfde naam, is een van hierdie spesiale kleinode wat onlangs tot sy volle glorie herbou is. Mag hy nog lank loop en vreugde gee aan sy eienaar!
Puik, baie dankie ….
Uitstekend, baie dankie!