TATA: Wat u nie geweet het nie!
Tata is reeds ‘n dekade of twee of meer ‘n vertroude naam in Namibië. Eers deur ingevoerde vragmotors uit Indië en later die bekendstelling van ‘n reeks bakkies en motors in suidelike Afrika. Die eerst Tata-bakkies wat hier vanaf die vloer gekoop kon word, was die Telcoline. Die naam van hierdie voertuig vertel eintlik die geskiedenis van die motormaatskappy.
Die Tata-familie in Indië het hulle naam vroeg in die 20ste eeu in Indië gemaak met staalaanlegte onder hierdie bekende familienaam. Maar net na die afloop van die Tweede Wêreldoorlog het hulle begin om stoomlokomotiewe vir die Indiese spoorweë te bou onder die naam TELCO, ‘n akroniem vir Tata Engineering and Locomotive Company.
Met die produksie goed op dreef het die Tata-familie kans gesien vir nog nuwe ondernemings en het die eerste groot dieselenjinfabriek vroeg in 1954 in Indië tot stand gekom. Daimler-Benz was ná die verwoeste Duitse ekonomie in 1945 angstig om nuwe beleggings te doen indien hulle gunstige voorwaardes in ander lande kon kry. Die antwoord was ‘n samewerkingsooreenkoms met Tata en het die Mercedes-Benz-enjinfabriek in Indië onstaan.
Swaar vragmotors is deur Tata onder lisensie vervaardig en is kort daarna deur inheems-ontwerpte busse gevolg. Wat merkwaardig is, is die feit dat hierdie busse as Mercedes-Benz Tata voertuie bekend gestaan het en só ‘n bus selfs op die voorblad van die maandelikse, internasionale Mercedes-Benz tydskrif in 1958 verskyn het!
Die direkte samewerkingsoorkeenkoms met Daimler-Benz het in die laat sestigerjare verval maar daar was later steeds uiterlike ooreenkomste met van die ouer tipe Mercedes-Benz ligte vragmotors.
In 1998 het Tata sy eerste inheemse motor op die Indiese mark geplaas, die Indica. Hierdie motor het later ook op die plaaslike mark verskyn, kort op die hakke van die Telco-bakkie.
Nuwe modelle het van tyd tot tyd hulle verskyning plaaslik by ons gemaak en die nuutste sedan is die Tata Bolt, ‘n motor wat aan al die vereistes van ons gesofistikeerde motormark voldoen. Ook die bakkie-reeks is uitgebrei en met meer moderne tegnologie toegerus.
Tata Motors het wêreldwyd aanlegte waar beide motors en vragmotors vervaardig word en is internasionaal ‘n gerekende maatskappy. Die maatskappy se waarde het ook gestyg met die oorname van verskeie maatskappye wat tot die “prestige” groep behoort, naamlik Jaguar en Land Rover in 2008. Dit is juis onder die beheer van Tata wat daar nuwe lewe in die produkte van die voormalige Britse maatskappye geblaas is!
Behalwe vir die ekonomiese sukses van die Tata-groep, is een van die belangrikste eienskappe van hierdie maatskappy die groot skenkings wat hulle jaarliks aan liefdadigheids- en menslike ontwikkelingsprogramme bestee. ‘n Groot internasionale onderneming met ‘n ewe groot hart!