Geskiedenis: Unimog

Mercedes-Benz het toevallig die legendariese Unimog begin bou…

Dit was die grensoorlog wat die Unimog, of sommer net “Mog” in troepetaal, ‘n plaaslike legende gemaak het. Op 7 Oktober 2016 het Mercedes-Benz wêreldwyd die sewentigste verjaardag van hierdie baie unieke nutsvoertuig gevier en talle pers-verklarings uitgereik om die Mog se ontwikkeling en sy geskiedenis bekend te stel.

Wat nie in die vrystelling verskyn het nie, was dat die Unimog eintlik toevallig in die Mercedes-Benz stal beland het, al was die ontwerpers voormalige Benz-werknemers.



Die firma Erhard en Seuns het in 1946 die eerste keer ‘n prototipe van hierdie nuwe meerdoelige landbouvoertuig gebou en die naam UNIMOG daaraan toegeken: “UNIversele MOtor Gereedskap” (Gerät).

Die eerste Unimog prototipe was met ‘n 1,7 liter Mercedes-Benz petrolenjin toegerus omdat die beloofde nuwe dieselenjin nog nie beskikbaar was nie.

Daar was sprake om ‘n Hanomag dieselenjin te gebruik maar die afstand na Swabenland, waar die eerste Unimog die lig gesien het, was net te groot en Mercedes-Benz in Stuttgart was gerieflik net om die draai.

Gedurende die jaar 1947 het daar verdere ontwikkeling van die Mog plaasgevind en is die nuwe diesel-enjin van Mercedes ingespan.

Ter wille van ekonomiese redes het Erhard met die landboufirma Boehringer verenig. Die volgende jaar is die firma se produksielyn na Göppingen verlê.

Dit was in hierdie tyd dat die land-boufirma ‘n logo vir die Unimog ontwerp het; ‘n stier- of oskop om die landboukarater en stoerheid van die spesiale nutsvoertuig te simboliseer!
Tussen die jare 1948 en 1950 is 600 Unimogs in Göppingen gebou en verkoop.

Dit was ‘n prestasie, as die kontant-arme bevolking net na die einde van die oorlog in ag geneem word. Die Unimog se verkoopprys, wat ook kragaftakkers voor en agter ingesluit het, was 13,800 Mark (ongeveer £1,035).

‘n Splinter-nuwe Mercedes-Benz 179D se verkoopsprys in 1949 was 9,200 Mark (of omgereken, rofweg £690). Die Unimog, met die oskop op die neus, het spoedig in naburige lande soos Switserland ook ‘n reputasie ontwikkel as ‘n voertuig wat berge kon klim en kon versit, en die produksiefasiliteite moes uitgebrei word.

Erhard en Boehringer het egter nie oor genoeg kapitaal beskik om hulle produksiekapasiteit uit te brei nie en was gewillig om hulle belang aan Mercedes-Benz oor te dra.

In Oktober 1950 het Mercedes-Benz die talle patente verbonde aan die Unimog oorgekoop en beheer by die gebroeders Erhard en Boehringer oorgeneem.

Die montering van Unimogs is na Mercedes se vragmotor-fabriek by Gaggenau verskuif en op 3 Junie 1951 is die eerste Unimog met die driepuntige ster aan ‘n kliënt afgelewer.

Die oskop het egter nog vir ‘n jaar of wat lank op die neus van die Unimog gepronk.

Op die Mercedes-Benz uitstalling by die Kaapse Van Riebeeckfees in 1952 was hierdie simbool van stoerheid nog prominent sigbaar en het dit die driepuntige logo oorheers.

Stertjie: In 1959 het Mercedes-Benz in Suid-Afrika die Unimog as ‘n militêre voertuig aan die destydse Suid-Afrikaanse Leër gedemonstreer in die hoop dat daar moontlik bestellings mag volg. Dit was egter die tyd wat Ford, en later General Motors, hierdie soort voertuie aan die regering van die dag verskaf het.

(Ook die Swede het in hierdie tydperk hulle Volvo Laplander aan die owerheid aan die regering probeer verkwansel).

In 1968 het ek op Malawi toe ‘n kleurskyfie van ‘n paar soldate by hulle splinternuwe Unimogs in Mosambiek geneem en dit vir publikasie aan die redakteur van die Mercedes-Benz tydskrif “In aller Welt” gestuur.



Ek het egter ‘n beleefde antwoord gekry dat hulle nie die militêre aanwending van die Unimog wou propageer nie.

Die politieke implikasies van Portugese soldate op hulle Unimog in ‘n voormalige Afrika-kolonie, in ‘n tydskrif wat wêreldwyd gelees word, het eers baie later by my ingesink!

Leave a Comment