Spesiale Verslag: Tata Ekonomie Rit

2,100km met net 120 liter se voggies – is dit moontlik?

2,100km met net 120 liter brand-stof… Dis die uitdaging wat Tata gestel het vir ’n oorland-rit ‘n paar weke gelede vanaf net duskant Beitbrug tot digby die suidelikste punt van Afrika, Kaap Agulhas. Dis soortgelyk aan die teerpad-afstand vanaf Ruacana na Swakop (700km), dan daarvandaan oor Windhoek en Keetmanshoop na Lüderitz (1,200km), en weer terug na Keetmans…

‘n Vinnige berekening wys ’n gemiddelde brandstofverbruik van ten minste 17.5km per liter, oftewel 5.71 liter per 100 km, sou nodig wees om dié afstand – afgelê in drie bene met ingerekende brandstofstoppe – met hierdie beperkte petrolvoorraad te haal.

Ons rygoed vir die rit?

’n Versameling Tata Bolt-sedans en luikrûe, almal aangedryf deur die Indiese vervaardiger se nuwe Revotron petrol-turboenjins van 1.2 liter; goed genoeg vir 66kW se krag en 140Nm wring-woema.

Die konvooi Bolts het vir ons in Messina gewag, en nadat digby Beitbrug volgemaak is, is die 44L tenks van die vyf deelnemende spanne (wel, eintlik vier, want een het uit Tata-handelaarpersoneel bestaan) se motors verseël.

My rymaat was Wynter Murdoch, redakteur van Automobil en ’n besparingsrit-kenner, en behalwe die Tata-span sou ons teen drie ander media-spanne meeding.

Met sy luukse XT-afwerking, wat ook ’n ritrekenaar, lugversorging, Harman Kardon-klankstelsel en elektries-beheerde ruite insluit, het ons kobaltblou Bolt-sedan die eerste been van 502km – al langs die N1 af tot in Pretoria, en daarna tot net anderkant Johannesburg – heel kort gemaak.

Op die snelweg-roete het ons blou Bolt ’n stewige 22.3km per liter (4.09 l/100 km) aangeteken en net 27.94 liter petrol gebruik; en dis tóé dat ons (dis nou ek en Wynter) besluit het ons gaan probeer om die afstand met minder as 100 liter se brandstof af te lê.

‘n Hele twintig liter minder as die oorspronklike uitdaging… Die volgende been tot in Bloemfontein, en dan daarvandaan tot op Drie Susters – dit is ’n afstand van presies 486.2km – was nie so maklik nie.

Lang bulte, reën en nat paaie (met die gepaardgaande groter pad-weerstand) vanweë onseisoenale donderstorms het ons verbruik tot 4.25 liter/100km gekortwiek. Tog, ons was nou al net-net oor die halfpadmerk, en met 51.67 liter se petrol reeds gebruik was die 100 liter-doelwit steeds moontlik.

Die reënweer het voortgeduur, en hoewel dit heerlik was om te sien hoe die Karoo die water opsuig, het dit ry-omstandighede bemoeilik. Vanaf Beaufort-Wes het die roete ook al hoe meer begin kronkel, en verskeie berg-passe het egalige bestuurwerk en momentum-hou verder uitgedaag.

Op Ladysmith, die laaste ingooislag na ’n bykomende 758.8km, het die Bolt reeds 80.87 liter gebruik, vir ’n gemiddelde van 24.4km/liter, of 4.35 l/100 km, oor die afstand. Met nog sowat 20 liter oor, was dit duidelik ons kon die einpdunt haal sonder om weer petrol in te gooi, want in Struisbaai, kort voor Kaap Agulhas, het die Bolt net ’n verdere 11,99 liter benodig om die tenk vol te maak…

Dit het beteken ons het 2,080km met net 92,86 liter afgelê, heelwat minder as Tata se aanvanklike uitdaging van 120 liter, asook ons selfopgelegde 100 liter-merk. Die Bolt se gemiddelde verbruik oor die afstand was dus ’n skrale 4,44 liter/100 km.

Dit het natuurlik ook gewys dat dit afstandgewys moontlik was om Kaapstad (op die N1 oor Beaufort-Wes) vanaf Beitbrug met minder as 120 liter te haal.

Hoewel ons nie ons gemiddelde snelheid deurentyd kon meet nie (die Bolt het nie so ’n ritrekenaar-funksie nie) en geen tyd-afsnypunt vir die verskillende bene in die uitdaging gestel is nie, was dit deurentyd net onder 80km/h. Ons verbruik was dalk die beste van almal, maar meer belangrik is dat al die spanne die 2,100km-roete gerieflik met minder as 120 liter kon voltooi.

Drie spanne het dit met minder as 100 liter vermag (92, 96 en 98 liter onderskeidelik), en die ander twee spanne het dit met 111 en 115 liter reggekry.

Bygesê, ons wen-verbruik was te danke aan heelwat besparings-rytegnieke, en moet dus nie as ’n realistiese riglyn of maatstaf beskou word nie.

Wat dit egter wél uitwys, is dat enige nuwe Tata Bolt-eienaar wat verstandig en bestendig bestuur, en ’n gemiddelde snelheid van sowat 95 tot 100km/h handhaaf (normaal oor so ’n afstand), dit met minder as 120 liter sal kan doen…

[ Ed: Die skrywer, Ferdi de Vos, is nie net ‘n slim bestuurder nie, maar ook die 2016 Suid-Afrikaanse motor-joernalis van die jaar. Geluk, Ferdi! ]

Leave a Comment