Die “wow” faktor
Honda het nog altyd ‘n sekere bekoring met my en met talle ander persone, wat ek ken, gehad. Soos my einste kollega. Ek het groot geword met Honda’s in my gesin en elk van my ouers se Honda’s het iets uniek gehad; iets wat die vervaardiger laat uitstaan het bo ander.
In die middel 90’s het my pa die toé Ballade model met optip ligte gehad. Dit het ietwat gevoel of ons in ‘n Lamborghini Countach rondry. Daarna het my ouers vele ander modelle gehad, met die laaste model, die 2005 Civic, wat op dieselfde manier uitgestaan het. Bekostigbaar, dog prakties en redelik luuks, het dit terselfdetyd iets anders gebring.
Mercedes-Benz, met hul huidige panoramiese “ultra-wye” informasie paneel, kan maar net probeer kers vashou met die 2005 Civic, wat destyds die mark voorgeloop het met hul enorme gedigitaliseerde spoed-meter.
Net so, kan my kollega lang stories oor sy dae in Brittanje, met sy Accord en Type-R, praat. Ons het ook dit in gemeen dat van ons ouer familie lede steeds met Jazz modelle rondrits.
Honda het dit reg gekry om die “wow” faktor in te bring vir alle generasies. Dit het iets ‘anders’ gebied, terwyl dit terselfdetyd ‘n praktiese, luukse, dog sportiewe kant gehad het.
Die laaste keer, wat ek hierdie ‘wow’ faktor aangevoel het was met die bekendstelling van die Civic Type-R op die Dezzi renbaan in Kwazulu-Natal.
Nie net het dit gereed gelyk vir aksie nie, maar was dit uitmuntende pret vir ‘n voorwiel aangedrewe sedan. Hierdie selfde gevoel is gedeel met ‘n Honda-liefhebber vriend, kort daarna tydens ons week lange toets met die Type-R.
Sien dat ek hier al meer in die verlede tyd skryf?
Wel, terwyl ek in angs wag om die nuwe opgedateerde Civic Type R te toets, kan ek nie help om ietwat nostalgies te voel oor die Japanese handelsnaam nie. Wanneer daar vandag in lof oor ‘n Honda gepraat word, is dit eintlik maar net die Type-R, wat in ‘n gesprek opkom. Terwyl Honda nog altyd gereken word vir hul betroubaarheid, is daar nie veel ander hoogtepunte in die huidige model reeks nie.
Die nuwe Ballade en WR-V
My onlangse toets met beide die Ballade en die WR-V is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Dit is uitstekende voertuie in eie reg, maar mis egter daardie onmiddelike aanvraag. Nie meer is dit ‘n voertuig reeks wat jy moet hê nie, maar eerder een wat oorweeg word wanneer prys en algehele produk kwaliteit die hoof kwessies is.
Beide die huidige Ballade en WR-V voel of hulle eintlik maar net probeer byhou met die huidige mark aanvrae, in plaas daarvan om die mark te lei en ander vervaardigers dalk teen die mure uit te dryf met hul ikoniese ontwerpe.
Terwyl Honda destyds die voortou geneem het met binneruimse digitalisering, sukkel die Ballade en WR-V om met Apple CarPlay of Android Auto of selfs Bluetooth te koppel.
Terselfdetyd kort beide informasie sisteme ‘n goeie opdatering en ‘n beter afwerking, wat nie die bestuurder sal verblind wanneer sonlig daarop reflekteer nie.
Die Ballade het ‘n nie-turbo aangedrewe 1.5 liter enjin, wat 89kW en 145Nm verskaf. Die CVT ratkas, anders as in die WR-V, simuleer beter rat wisselinge en kan ook met pedale agter die stuur hanteer word.
Die algehele rit kwaliteit is ferm en eintlik heel gemaklik; veel meer as in baie nuwe klein SUV’s. Terselfdetyd is die stuur aksie ook direk en onmiddelik.
Terwyl die Ballade ‘n goeie kompiteerder in die sedan segment is, veral wanneer veiligheid (6 lugsakke en ABS met EBD) ingereken word, kan daar nie noodwendig dieselfde van die WR-V gesê word nie. Met die huidige klein-SUV mark, wat tans so kompiterend is, bied die WR-V nie noodwendig die beste pakket nie.
In vergelyking met die kompetisie, staan die WR-V laer van die grond af (177mm) en bied dit effe minder krag vanaf die 1.2 liter petrol enjin, wat 66kW en 110Nm verskaf. Die CVT ratkas is ook nie juis musiek vir die ore nie en die brandstof verbruik is ook bo die 7 liter per 100km merk.
Die Elegance model (duurder opsie) kry wel ‘n 7 duim raakskerm met Bluetooth en slimfoon konneksie, waar die goedkoper Comfort model net Bluetooth kry. Waar die Comfort en Elegance met sowat R30 000 verskil, kan ‘n soortgelyke SUV met dieselfde funksies as die Elegance, teen net oor die R10 000 meer aangekoop word as die Comfort. Dus is die Elegance redelik hoog geprys in vergelyking met die kompetisie.
Waar die WR-V egter wel uitstaan, is die magdom been- en stoor-spasie. Met 363 liter as standaard, kan die ruim na 881 liter vermeerder word wanneer die agterste sitplekke platgeslaan word. In vergelyking met die nuwe Suzuki Vitara Brezza / Toyota Urban Cruiser, Nissan Magnite, Volkswagen T-Cross en Ford EcoSport, wen die WR-V. Nes die Ballade, kom die WR-V ook met 6 lugsakke en ABS met EBD.
Dus is die WR-V nie aan die onderpunt van die klein-SUV voedingsketting nie.
Ek sal in ‘n oogwink die huidige Ballade koop, eerder as vele ander nuwe klein SUV’s. Persoonlik hanteer dit vir my veel beter, voel dit meer prakties en is dit beter op brandstof ekonomie. Die vraag is egter of enige van die Honda’s tans my onmiddelike eerste keuse sal wees?
Geprys tussen R 336 500 en R396 000 (vir ons RS model) sowel as R289 900 en R319 900 vir ons WR-V model, is beide modelle redelik aanvaarbaar geprys, maar sal dit sterk kompetisie vind in die mark. Gelukkig sal ‘n 5-jaar / 200 000km waarborg en ‘n 4-jaar / 60 000km diensplan dalk help om die besluit makliker te maak.
‘n Lig aan die einde van die tonnel?
Honda het onlangs spioen-foto’s gedeel van die nuwe 2022 Civic, wat bekend gestel gaan word. Terwyl die Ballade en WR-V my ietwat laat kopkrap, lok hierdie foto’s van die nuwe Civic my onmiddelik.
Gaan Honda weer die voortou neem met hierdie sedan?
Laat ons maar net hoop dat die onlangse opwinding rondom klein SUV’s bedaar en die nuwe Civic die glanslig steel.
Ongelukkig, in kontras met minder as ‘n dekade voorheen, moet ek egter, vir nou, elders gaan soek. Iewers waar ek die “wow” faktor kan vind.