Mahindra Pik Up nou met outomatiese ratte

Dit nadat dit in 2018 omvattende toetse op van Suid-Afrika se ergste padtoestande deurgaan het, is Suid-Afrika heel gepas die eerste land waar die nuwe opgeknapte Mahindra Pik Up met outomatiese ratte bekend gestel is.



Volgens Mahindra Suid-Afrika was daar ‘n groot aanvraag vir ‘n outomatiese weergawe in die bakkie reeks.  Die nuwe reeks bakkies word die S11 genoem en is ‘n opknapping van die bestaande S10. ‘n Hele paar luukshede en hulpmiddels is ook bygevoeg.

Binne is ‘n raakskerm met ‘n Bluetooth funksie, verskeie vermaak en ander inligting, navigasie, en ‘n trukamera in volkleur. Die S11 het ook outomatiese klimaatbeheer en beheer-knoppies by die stuurwiel vir selfoon en spoedbeheer. Vir nog rygerief en veiligheid is daar twee lugsakke, vastrapbeheer, afdraadbeheer, elektriese vensters en die deure sluit outomaties nadat jy wegetrek het.

Spasie vir die insittendes voor is lekker baie maar nie so ruim agter nie alhoewel darem nie beknop nie en kinders sal baie gemaklik daar kan sit.

Die swart afwerking binne is netjies en gee ‘n gevoel van duursaamheid.

Die spesiale model, die Karoo is laat in 2018 bekend gestel om saam te val met die opening van die plaaslike aanleg in Durban en was sedertdien redelik gewild. Dit het Mahindra aangespoor om ‘n spesiale Karoo S11 by te voeg met selfs meer bykomstighede.

Hierdie splintenuwe model, die S11 Karoo outomaties, het kenmerkende tekens aan die kante en ‘n stewige bosbreker en ander stawe en by alle S11 weergawes is die laaibak met rubber bedek. Van  voor is daar ‘n nuwe prominente sierrooster, buffer en hoofligte met groter verchroomde luginlate.

Die naam Scorpio verval nou en die bakkie reeks word nou almal die Pik Up genoem. Die volle dubbelkajuit reeks is dan die S6, die S10 en die nuwe meer luukse S11 met verskillende afwerkingsvlakke.

Die Karoo weergawes vorm die top van die reeks.

Die rit is aan die harde kant maar dit is wel wat jy van ‘n bakkie kan verwag. Dit was veral sigbaar op die grondpaaie maar daarvoor kan jy die bande effe afblaas. Die Pik Up het egter heeltyd baie stewig gevoel. Ons het oor die Breedtsnek pas – Magalies omgewing – gery waar die oppervlakte onlangs baie sleg verspoel het. Ek het slegs die 4×2 weergawe oor die pas bestuur. Ons moes baie stadig oor die ontblote rotse kruip en noukeurig die regte spoor kies.

Wat baie gehelp het was die meganiese agterste ewenaarslot wat vanself inskop wanneer meer vastrap nodig is. In geheel het die Pik Up my verbaas hoe maklik hy die baie ruwe terrein baasgeraak het. Wat ook gehelp het is die goeie grondvryhoogte van 210mm Die klankdemping is baie  verbeter en die enjin is skaars hoorbaar binne die kajuit.

Binne die kajuit was daar niks wat geraas of gekraak het nie.

As dit met ander bakkies op die S A mark vergelyk word is dit nog steeds goedkoper as die goedkoopste Toyota Hilux 2,4 outomaties teen R553,900 en R490,100 van die Ford Ranger 2,2 4×4 outomaties. Die krag van die 2,2 liter diesel, 103kW en 320Nm is wel minder as hierdie diesel bakkies, (Hilux: 110kW en 400Nm, Ranger: 118kW en 385Nm).

Op die pad en veral op rowwe grondpaaie is die krag van die Pik Up egter heeltemal voldoende. Op teerpaaie en in die stad is die Pik Up baie gemaklik en die ses-spoed outomatiese ratkas werk goed saam met die diesel enjin en is nie swaar op brandstof nie.

‘n Gemiddelde verbruik van 8,1l/100km word deur Mahindra aangegee.

Die Pik Up was nog altyd ‘n bakkie wat die werk kon doen maar met die outomatiese ratkas beweeg hy nou na die vlak van ‘n  leefstyl voertuig waarmee jy elke dag kan saamleef – ook in die stedelike areas waar jy met hom werk toe kan ry of naweke en vakansies saam met die gesin. Hy is billik geprys, het genoeg toerusting en bestuur gemaklik – veral te danke aan die outomatiese ratte.

Die dubbelkajuit reeks se prys begin by R312,499 terwyl die vlagskip model, die 4×4 Pik Up Karoo 4×4 outomaties R429,999 kos.

Daar is ‘n vier jaar / 120,000km waarborg wat gratis padbystand insluit asook ‘n vyf jaar / 100,000km diensplan.

Leave a Comment