Golf 7.5 GTD / GTi / R toer
Galimoto media is onlangs genooi na Volkswagen se laaste bekendstelling (prettige verkenning) vir 2017. Vanaf die O.R Tambo lughawe sou die uitgestrekte pad ons oor ‘n afstand van 900km neem deur dorpe soos Parys, Kroonstad, Bultfontein, Soutpan, Bloemfontein en Kroonvaal.
Die Verkenningstog
In spanne van 2 moes ons na spesifieke liggings reis. Hier moes ons take afhandel en punte verwerf om uiteindelik ‘n kans te staan vir om met ‘n prys weg te loop by die aand se prysuitdeling.
Ons eerste taak in Parys het van ons vereis om die ikoniese suspensiebrug te vind. Op hierdie spesifieke brug is dit ook ‘n ritueel om slotte aan die brug vas te maak en liefdesboodskappe daarop te skryf. Tussen die duisende slotte was dit ons doel om ‘n spesifieke slot te kry en ‘n foto te neem as bewys.
Die pad hierná het ‘n verdere 360km gestrek deur rowwe weer, gruwelike teerpaaie en selfs grondpaaie. Ons eerste taak in Parys was maar net die puntjie van die ysberg, siende dat nog vele uitdagende take voorgelê het. My kreatiewe spanmaat het natuurlik hierdie take ietwat moeiliker gemaak met haar kreatiewe benaderings, maar dit het darem aan ons ‘n prys die aand verseker.
Die voertuie
Volkswagen het vir hierdie rit ‘n reeks van hul nuwe 7.5 Golf’s saamgebring. In vorige artikels het ons reeds die GTD, GTi en die R getoets, maar vir nou sou hierdie rit ‘n totale verandering en uitdaging vir die voertuie wees. Volkswagen het een doel gehad, en dit was om te wys hoe prakties, gehard, brandstof ekonomies, en goed toegerus die nuwe Golf-reeks sal wees vir die langpad.
Golf GTD
Die GTD staan bekend as die Golf-reeks se top Turbo-diesel model. Met ‘n 2-liter Turbo aangedrewe diesel enjin en ‘n ses-spoed DSG ratkas, is die GTD veronderstel om 5.4 liter per 100km te gebruik. Merkwaardig genoeg het die GTD oor ‘n afstand van 360km afstand van besige stads verkeer en lang uitgestrekte hoofweë, ‘n brandstofverbruik van 5.6 liter / 100km opgelewer. Hierdie is ‘n uitstekende getal, inaggenome dat die 50-liter brandstoftenk ‘n afstand van net minder as 1000km sal kan doen.
In terme van spoed is die GTD dalk nie die vinnigste vanaf stilstand nie, maar hou die GTD baie goed by die R en GTi tussen die 80 – 120km/h merk. Hierdie is te danke aan die 350Nm, wat die enjin uitskop (presies dieselfde as die GTi). Alhoewel die GTD net 130kW uitskop, word dit verkoop met die ses-spoed DSG ratkas and is dit dus baie effektief, dog vining genoeg om lang vragmotors op die langpad verby te steek.
Kattebakspasie is nes die GTi, 380l groot en sal gemaklik ‘n 29” bergfiets kan inlaat indien die agtersitplekke platgeslaan word.
GTi
Die GTi het die tweede langste gedeelte van die toer gedek en met goeie rede. Ons is reeds baie bekend met die GTi en kon nie die kans laat verbygaan om net weer hiermee te ry nie. Die GTi is (nes die prys aandui) die perfekte middel tussen die GTD en die R. Vir ons lesers wat hulself weereens wil vergewis van ons vorige GTi artikels, gaan lees gerus die volgende:
– GTi week toets: https://www.namwheels.com/12930-2/
– GTi bekenstelling: https://www.namwheels.com/launched-vw-golf-gti/
Soos reeds genoem, neem die GTi soortgelyke dimensies as die GTD aan, maar is toegerus met ‘n 2.0l turbo-petrol 4 silinder enjin. Dus skop dit 169kW en 350Nm uit. Hierdie het ietwat van ‘n invloed op die petrol verbuik. Teen 6.9l/100km is dit steeds ‘n baie lae syfer, inaggenome dat die GTi nie altyd rustig bestuur is nie.
Meer kilowatt beteken egter meer spoed. Van stilstand tot 100km/h neem dus net 6.4 sekondes. Die GTi is egter soos ‘n verkleurmannetjie. Plaas die enjin in ‘Sport’ en die enjin verkaf een van die beste note wat ‘n vier sylinder kan verskaf. Terselfdertyd sal dit goed om knap draaie kan beheer en ‘n relatiewe gemaklike rit wees.
Skakel egter die funksies oor na “Eco” of “Comfort” en die hele dinamika van die GTi verander. Skielik is dit een van die rustigste voertuie en ‘n uiters gemaklike langpad vennoot.
Hierdie is juis waarom ons so lief is vir die GTi. Dit is een van die min voertuie op die mark wat so naby kom aan hierdie fyn lyn.
Die Golf R
Die sleutels van die R is aan ons gegee net op die regte stadium van ons langpadtog. Soos wat ons Kroonstad binnegery het, het die spierwit Cumulonimbus wolke skielik donker begin raak. Soos ons na Bultfontein begin ry het, het ‘n massiewe wolkbreuk sy verskyning gemaak.
Met die kamera en Gopro byderhand, het ons die geleentheid gekry om die vierwieltrek van die swaarder (100kg), dog vinniger R te toets. Perfek vir die skielike en oponhoudende seepglad pad.
Soortgelyk aan die grondpad (tussen Soutpan en Florisbad), wat ons later sou teëkom, het die traksie beheer die R geweldig goed op die pad gehou. Die rit kwaliteit was ietwat hard met tye, maar dit is te verwagte van ‘n klein luikrug met 19” wiele in nat weer.
Die R het ‘n harder enjin noot as die GTi, gepaard met ‘n goeie vibrasie soos die enjin aangeskakel word. Skakel dit egter oor na “eco” en “comfort” en die R sal ook gemaklik bedaar.
0-100 km/h word afgehandel in 4.6 sekondes en die 2.0l turbo-petrol sal 213kW en 380Nm uitskop. Die sewe-spoed ratkas sal ook heel gemaklik deur die ratte kan hardloop en ‘n goeie brandstofverbruik gee.
In terme van suspensie is die R ietwat harder geveer as die GTi en GTD, maar is dit steeds sag genoeg om nie die tandarts te verryk nie. Die R het ook 37-liter minder kattebak spasie en staan 9mm hoër van die grond af as die ander.
Die #GolfRoadTrip het net weereens aan ons bevestig waarom ons van die nuwe 7.5 Golf reeks hou. Vanaf die intree 1.0l Trendline tot met die relatief geprysde R, behou elke Golf uitstekende waarde vir geld. Vanaf kwaliteit binne die voertuig, ‘n reeks addisionele ektra’s, tot die algehele rit gemak is die Golf ‘n goeie spanmaat.
Die GTi en R mag dalk nie die brute wegspringkrag inhou waar jou tande tot in jou longe gestamp word nie, maar dit is ook nie ver daarvan af nie. Die GTi, GTD en R is elk vining op sy eie manier, maar waarvan ons meer hou is die effektiwiteit en praktiese gedeelte van die kar.
Huidiglik mag dit dalk moeilik wees om kers vas te hou by hierdie luikrug reeks.
*Elk van die Golf’s het ‘n 3-jaar/120 000km waarborg en ‘n 90 000km diensplan. Terwyl die GTD verkoop word vir R506 900, kan die GTi bekom word vir R545 900. Die R sal die duurste wees teen ‘n mark relevante, R657 000.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media
*RSA pryse, November 2017