Nuwe Suzuki Jimny vs. Grand Vitara

Beide die Suzuki Jimny en Grand Vitara is uitstekende voertuie, maar wat kies ek?

Een staan bekend as die “bergbok” / “klipspringer” en is geprys tussen R329 900 en R389 900, terwyl die ander meer bekend staan as Suzuki se kroon SUV; geprys tussen R347 900 en R542 900. Die vraag op meeste se tonge: “Siende dat die nuwe Suzuki Jimny 5-deur nou uit is, het Suzuki nie hulself in die voet geskiet en die Grand Vitara heeltemal irrelevant gemaak nie?”  

Beide die Jimny en Grand Vitara reekse word deur dieselfde 1.5L, 4-silinder aangedryf. Beide ontwikkel 77kW en 138Nm, terwyl beide ook in ’n GL óf GLX weergawe verkoop word. Verder word beide modelle ook met ‘n 4-spoed outomatiese, of 5-spoed handrat verkoop.  

Hierdie raak nog meer van ’n kopseer, siende dat beide ’n grondvlak hoogte van 210mm het. Die onderste tabel dui egter dat daar ’n redelike prysverskil tussen die normale Grand Vitara (GV verkorting as volg) en Jimny 5-deur modelle is.  

Grand Vitara 1.5 GL 5 MTR347 900
Grand Vitara 1.5 GL 4 ATR368 900
Grand Vitara GLX 5MTR407 900
Grand Vitara 1.5 GLX 4 ATR427 900
Jimny 5-door GL 5 MTR429 900
Jimny 5-door GLX 5 MTR479 900
Grand Vitara 1.5 GLX 6AT Hybrid AllGripR542 900

 Alle Jimnies kom standaard met Suzuki se ALLGrip sisteem, terwyl net die duurste GV hibriede model met hierdie sisteem kom, en dus meer 4×4 ekskursies kan aandurf. Dit is dus net meer regverdig om die twee hoogs geprysde Jimny- en GV modelle teen mekaar te vergelyk.  

In die verlede was die onderskeid redelik maklik. Waar die Jimny net drie deure en 89 liter se pakplek gehad het, het die GV weer tekort gekom in die veld, waar die Jimny koning kraai. Die onderskeid was nog altyd maklik in terme daarvan dat die GV ’n stedelike en langpad voertuig was, in vergelyking met die Jimny, wat net regtig in die veld kon ry.  

Beide modelle het egter ’n paradigma verskuiwing ondergaan en hierdie onderskeid verbreuk. In retrospek is die nuwe 5-deur Jimny veel meer gemaklik en hanteerbaar op die langpad (in vergelyking met die 3-deur), terwyl dit bykans dieselfde brandstof verbruik en 4×4 verrigtinge lewer as die korter 3-deur. Bykomend sien die 5-deur Jimny ook nog ’n opgradering in terme van tegnologiese aanpassings.  

In dieselfde asem, moet daar genoem word dat die nuwe GV AllGrip uitmuntend vaar in die veld, met die voertuig, wat selfs ’n berg (met 4 insittendes) uitgery het tydens die bekendstelling. Hoewel die hibriede sisteem ook baie klein is, help dit genoeg om brandstof te spaar. Gepaard met die nuwe 6-spoed outomatiese ratkas, is die topvlak GV meer gepas vir die langpad.  

Hoewel beide modelle nou nader aan mekaar is, dra beide nog hul eie identiteite. Hoewel beide modelle nou ietwat meer van die ander se terreine bekleë, is die GV inherent steeds ’n stedelike, of langpad voertuig, terwyl die Jimny nou veel meer gemaklik is op die langpad, maar steeds eintlik ‘n 4×4 voertuig is.  

Hier is ons bevindinge:

Die 6-spoed outomatiese ratkas in die GV hibriede model, maak ’n reuse verskil. Waar die Jimny se 4-spoed outomatiese ratkas teen 3500 opm (teen 120km/h) hardloop, is die GV veel stiller. Die GV is ook veel meer aërodinamies en kan gemakliker teen 120km/h bly, veral in hoë wind toestande.  

Die GV se 12Vhibriede sisteem maak geen verskil aan die krag lewering nie, maar help egter om die brandstof verbruik ietwat te verminder, veral in die stad. Die hibriede sisteem help die enjin en ratkas om meer egalig te wees en ’n algehele brandstof verbruik net bo 6.0 liter per 100km te lewer. In vergelyking met die Jimny se brandstof verbruik van 7.5 liter per 100km, sal die GV langer afstande kan doen, veral met ’n brandstof tenk, wat 5L (45 Liter in totaal) meer brandstof kan hou.  

Teen ongeveer 2600mm in lengte is beide voertuie se wielbasise amper identies, terwyl die GV die pakplek (met al die sitplekke opgeslaan) sowat 373L, terwyl die 5- deur Jimny net 229L kan neem.  

Die GV is ook veel luukser en gemakliker as die Jimny. Dit is duidelik dat die GV meer familie en langpad georienteër is, teenoor die Jimny, wat meer bedoel is vir die veld. Die GL se sitplekke (en deurhandvatsels / instrumentpaneel) is bekleë met leer, terwyl die die Jimny materiaal sitplekke het. Beide GLX modelle (van die GV en Jimny) het egter leer-bekleedte stuurwiele en 9-duim informasie sisteme (die GV het egter ook ‘n 360-grade kamera), gepaard met trurat kameras.  

Verder het die GV ook ’n draadlose foon laaistasie, ‘n 12V punt (voor), sowel as ’n usb punt, terwyl die Jimny net die laasgenoemde twee het. Die Jimny het egter nog ‘n 12V laaipunt in die kattepak vir kamp toeristing.  

Die GV het ook veel meer beenspasie in die tweede ry, gepaard met ’n USB-A en USB-C punt, sowel as ’n panoramiese sondak.

Tans lyk dit of die GV beslis die R43 000 meer werd is. Dis nou as die voertuig hoofsaaklik op die langpad gebruik gaan word en luukshede die hoof fokus is. Die skaal swaai egter na die ander kant sodra gewone 4×4 en veral sand, en modder oppervlaktes by die oorweging ingebring word. In terme van algehele gewig, is die Jimny sowat 100kg ligter as die GV.  

Die Jimny was, en is nog altyd ’n groot verrassing in die duine, en maak grootter 4×4 SUV eienaars vinnig stil. Dieselfde geld vir nat, modderige terreine  Hierdie is omdat die Jimny ’n soliede leertipe onderstel het. Hierdie laat toe dat die Jimny se wiele veel meer kan artikuleer, sowel as beter 4×4 hoeke kan aandurf as enige ander 4×4. Die nadeel hiervan is egter dat die GV se onderstel dus meer standvastig op die langpad voel. 

Hoewel beide voertuie die ALLGrip 4×4 sisteem (met 2H, 4H, en 4L), 210mm grondvlakhoogte, en tegnologie soos die “Hill descent control” byhet, vaar die Jimny veel beter in die sand, en veral in die modder.  

Soos reeds genoem is die GV nou veel meer gemaklik op die grondpad, te danke aan die ALLGrip sitseem en sou dit selfs ‘n 4×4 bergpas kon uitry as gevra word om die taak te doen. Die 5-deur in ruil kan nou ook gemakliker (veral in die wind) op langpaaie ry, terwyl 4×4 bergpasse maar net die begin van hierdie voertuig se verrigtinge behels.  

Die GV is gefokus op die pad, veral vir families, waar die Jimny eerder as ’n prettige 4×4 beskou word vir ekskursies.  

Soos voorheen bly die vraag steeds: Verkies jy hoofsaaklik gemak op die langpad, of is klipperigheid, modder, of selfs sandduine die eind doel van die voertuig?

1 thought on “Nuwe Suzuki Jimny vs. Grand Vitara”

Leave a Comment