Padtoets: 2009 Mercedes-Benz S350

Die vlieënde mat

As dit by groot weelde-motors kom, het mens vandag ‘n groot keuse van uitstekende produkte. Langs die gewone Duitse keuses staan ook ‘n verskeidenheid van Britse, Japannese en Italiaanse motors met blink sierroosters en ongelooflike beenruimte.

Miskien is dit my Duitse herkoms, of die feit dat een van die groot Benze al dekades die gunsteling voertuig van rykes en bekendes is, maar ek het altyd van ‘n Mercedes-Benz S-Klas gehou. Daar is beslis alternatiewes wat op een of ander vlak beter is, maar niks sê “Ek het te veel kleingeld” beter as ‘n eienaar van ‘n “S”.

Die “S” is onlangs ‘n bietjie opgekikker, en my toetsvoertuig was ‘n silwer S350 met swart leerbekleedsel. Die S-Klas se elegante lyne lyk modern maar daar is tog ‘n tikkie van konserwatief daarin; die grootste verbeterings is egter sy ligte, buffers en uitlaatpype. Op hierdie S350 was ook hoogs-aantreklike, opsionele 19-duim wiele.

Parkeer die S-Klas langs ‘n ander voertuig en jy sal vinnig oplet dat die Benz ‘n gróót masjien is. ‘n C-Klas lyk soos ‘n kort-asafstand voertuig teenoor die S350, sies tog, en ‘n A-Klas lyk soos ‘n speelgoedkarretjie. Binne in die S-Klas vind mens hope spasie en perfekte afwerking, en selfs as jou lengte naby twee meter kom, sal die S-Klas genoeg plek vir jou kop en bene hê.

Ons toetsmodel het ‘n indrukwekkende lys van opsionele ekstras ingesluit, wat sy prys na die verkeerde kant van ‘n ses-syfers gedruk het. ‘n Paar van hierdie ekstras was ‘n infra-rooi kamera wat snags vir jou ‘n beter beeld in die (digitale) spoedmeter gee, elektries-verstelbare en aktiewe multi-kontoer sitplekke met verhitting en verkoeling (en 4 masseer-funksies vor!), DVD en televisie (met afstandbeheer) vir die agterste passassiers, en ‘n yskas tussen die agterste sitplekke. Nee, ek jok nie!

Die meer “normale” toerusting van ‘n S350 sluit natuurlik in sluitweer-remme met remhulp, stabiliteits- en wieltolbeheer, ‘n versameling van lugsakke, kragstuur met multi-funksie stuurwiel, stemherkenning, volle digitale klimaatbeheer (voor en agter), sentraalsluiting met sleutellose toegang en selfsluitende deure, ‘n elektries-beheerde kattebak deksel, en ‘n paar dosyn ander items wat mens deur die rekenaarstelsel kan beheer.

Maar wag, daar’s nog meer! Die gebruikersvriendelike rekenaar wat deur ‘n silwer draaiknop beheer word sal jou ook toegang gee tot ‘n Harmon/Kardon Logic 7 klankstelsel, 6 CD/DVD-speler, navigasie, volle (Bluetooth) selfoonbeheer, en i-pod of ander musiekspelers. Die beeldskerm is die nuwe “twin view” generasie, wat bestuurder en passassier ‘n verskillende beeld kan vertoon.

Nog meer indrukwekkend is die nuwe veiligheidstelsels van die groot Benz, soos intelligente (en draaiene) dubbel-Xenonhoof, tru-kamera, radar afstandbeheer en botsingherkenning met alarm, baan-hou assistent, blindekol waarskuwing, intelligente ratkas wat by jou bestuur aanpas, en ‘n hoogs-gevorderde veringopset genoem “Airmatic” wat ook ‘n Sport-modus het.

Daar’s ook ‘n knoppie wat die voertuig ‘n paar milimeter oplig, miskien as meneer miljoenêr sy wildsplaas wil besoek en die Range Rover by sy eks-vrou is? Wat ook al die geval mag wees, die S350 se rit is so uiters gemaklik en voorspelbaar dat ‘n rowwe stofpad in die Karoo soos ‘n snelweg sal laat voel.

Die enigste negatiewe kommentaar is dat mens ‘n bietjie vervreemd voel as jy ‘n S-Klas bestuur, omdat hy nie baie terugvoering deur die stuur aan die bestuurder gee nie. Draai die ligte stuur en hy reageer onmiddelik met amper geen kantel nie. Jaag oor ‘n spoedbult en jy voel slegs ‘n ligte stamp. Sit die Xenons of LED dag-ligte aan en almal skiet uit jou pad uit. Hierdie is nie meer ‘n voertuig nie, dis ‘n vlieënde mat!

Die 200 kw (275pk) 3.5-liter V6 petrolenjin sukkel ‘n bietjie om die amper drie-ton Benz te versnel, maar selfs by hoë toere (of snelhede) doen hy sy werk saggies en met grasie. Die 7G-Tronic sewespoed outokas het ‘n sportmodus en kan ook deur spane vanaf die stuurwiel beheer word. Dit was somtyds ‘n goeie idee, weerens omdat die V6 se 350Nm met die groot Benz swaar gekry het.

Ek het g’n benul hoe vinnig hy 100km/h sal bereik nie; S-Klas eienaars stel nie regtig belang nie. Hy sal wel 250km/h haal en maklik teen 120 km/h (of meer) na ‘n belangrike vergadering in Constantia toe sweef, maar as jy van verrigting hou sal die S-Klas modelle met ‘n V12 en/of AMG plakker meer passend wees.

Self sou ek die 388 pk S500 verkies, omdat ek dink die S-Klas het niks minder as ‘n vee-agt verdien nie. Die S350 se effens alkoholiese brandstofverbruik het ook vertel van die hardwerkende V6 enjin, maar as jy (of jou chauffeur) tussen die verkeersligte nie te haastig is nie, sal die Mercedes-Benz S350 vanaf N$950 000 jou nie teleurstel nie.

Die S350 het natuurlik ‘n 6 jaar of 120 000 km diensplan en ‘n 2 jaar onbeperkte kilometer waarborg. O ja, nog ‘n opmerking! Die S-Klas se handleiding is nie in die paneelkissie nie. Hy’s te groot, en geniet sy eie plekkie in die kattebak van die voertuig!

Leave a Comment