Beter as tevore
Die voortreflikheid, voorkoms, betroubaarheid en sommer alles wat mens van ‘n bakkie verwag is alles faktore wat daartoe bygedra het dat Isuzu se KB-reeks deur die jare ‘n reputasie opgebou het wat moeilik oortref sal word.
Die nuwe geslag KB-reeks is ook nie heeltemal nuwelinge nie aangesien hulle alreeds byna 2 jaar gelede bekendgestel is, maar die wyse waarop Isuzu verbeter het op die vorige modelle is miskien nie so algemeen bekend nie. Hierdie verberinge is dan ook spesifiek vir die Suid-Afrikaanse mark aangebring wat besondere en unieke eise stel aan voertuie in hierdie segment.
Die Isuzu-naam word al vir meer as 70 jaar aan dieseltegnologie gekoppel en die maatskappy is een van die grootste vervaardigers van dieselenjins. Dit is dus geen wonder nie dat die nuwe 3.0 liter D-TEQ enjin van die KB-300 seker die mees uitstaande verbetering van die nuwe reeks is en heel waarskynlik as rolmodel kan dien vir ander vervaardigers van dieselenjins. Die 120kW by 3,600rpm en die 360Nm wat tussen 1800-2800 deur die Isuzu KB-300 se D-TEQ enjin gelewer word, word op ‘n besonder stil en verfynde manier deur middel van ‘n 5-spoed ratkas na die agterwiele oorgedra. Die 100km/h merk word vanaf stilstand in ‘n skaflike 13 sekondes bereik en topspoed is 175 km/h wat indrukwekkend is vir ‘n dieselbakke van hierdie grootte. Bogenoemde is aansienlik beter as twee van die Isuzu KB-300 se vernaamste kompeteerders naamlik die Mitsubishi Triton en die Nissan Hardbody.
Die D-TEQ enjin se diesel word onder hoë druk in die ontbrandingstel ingespuit en is voorsien van ‘n uiters gevorderde turbo-aanjaer wat deur ‘n indrukwekkende luginlaat op die enjinkap afgekoel word. Die vervaardigers maak ook daarop aanspraak dat die enjin aansienlik stiller is en minder vibrasie veroorsaak as vorige soortgelyke enjins en dat skadelike gasuitlate ook baie minder is.
Behalwe die 3.0 liter LX model in die KB-reeks het Isuzu ook twee ander modelle opgradeer naamlik die LE model met ‘n 2.5 liter dieselenjin wat 85 (in vergelyking met 58kW by die ou model se enjin) kW by 3,600rpm en 280Nm by 1,800-2,200rpm lewer en ‘n petrolmodel wat toegerus is met ‘n 3.6 liter petrolenjin. In laasgenoemde geval word 157kW teen 5,300rpm en 313Nm by 3,200rpm gelewer.
Wat voorkoms en kenmerke betref bied die opgegradeerde KB-modelle ook heelwat meer as voorheen. ‘n Nuwe voorbuffer, nuwe sierrooster, ‘n enjinkap met die groot luginlaat, nuut ontwerpte groep ligte, ‘n sluitbare vragbak en ‘n herontwerpte agterbuffer met ‘n gerieflike trappie is maar enkele kenmerke van die nuwe LX en LE modelle.
Veranderinge aan die binneruimte is ook by die LX modelle aangebring. Dit sluit onder andere in byderwetse bekleedsel, silwerkleurige plasiek afwerking in die middel van die instrumentepaneel en meters wat brandstofverbruik asook buitetemperature aandui. Beide die stuurwiel en bestuurdersitplek kan verstel in hoogte terwyl lugreëling en ‘n radio/CD-speler standaartoerusting is. Vensters in die LX modelle asook die kantspieëls kan elektries beheer word en deurslotte sluit outomaties oop of toe as dit aan- of afgeskakel word. Die vierwielaandrywing van die KB-300 LX model, asook togsnelheid, kan deur middel van knoppies op die paneerbord beheer word. Opvallend is die feit dat die kontroles op die paneel van die deur aan die bestuurderskant nie saam met intstrumentepaneel belig word nie.
Standaard by die nuwe en verbeterde LE en LX modelle is ABS remme waarvan die remkrag elektronies eweredig na alle vier wiele versprei word asook twee lugsakke voor. Kantpanele is ook versterk om sodoende groter veiligheid en duursaamheid in geval van impak te verseker.
Al die nuwe en verbeterde modelle van Isuzu word gedek deur ‘n driejaar/100 000 km en ‘n vyfjaar/100,000km padbystandsplan terwyl die voertuig elke jaar of elke 15,000km gediens moet word.
Die prys van die KB-300 D-TEQ 4×4, wat in die geval die toetsvoertuig was is N$389,287 terwyl die KB met die V6 petrolenjin die eienaar N$331,648 uit die sak sal jaag.