Padtoets: 2009 Renault Koleos

Vakansietyd in Franse flair!

Renault se nuutste televisie reklames vertel ons dat mense al vir jare hul betroubare Franse motors vir avontuur en vier-by-vier doeleindes gebruik het, wat die nuwe vier-wiel aangedrewe Renault nogal ‘n belangrike voertuig maak.

Die nuwe Koleos trek nie by vertoonlokale uit om hardebaard 4×4’s en bakkies bang te maak nie, maar eerder om stedelike eienaars ‘n sin vir avontuur te bied. Die SUV, of sportsnutsvoertuig, kry maar negatiewe opmerkings in vandag se ekologiese tye omdat hy meestal swaar op brandstof is en diweks niks meer as ‘n teerpad sal sien nie.

Met dié potensiële klante in gedagte het Renault die Koleos goeie grondvryheid gegee en hom met skakelbare vierwielaandrewing toegerus. Sy buffers en onderkant wek gemoedsrus dat hierde sagte 4×4 maklik die veld sal verower of ‘n berg uitklim.

Die Koleos vind himself in ‘n uitdagende mark-segment waar name soos die Toyota RAV4 en Land-Rover Freelander al vir hom wag. Sy veelsydige binneruim, ligte stuur en pedale beteken dat hy goed sal inpas by sy nuwe eienaars en hul jong families. Maar net vir ekstra gemoedsrus; die Koleos is eintlik ‘n Nissan X-Trail met ‘n modieuse Franse bak.

Die stilering van sy bakwerk is erg Frans maar en ek kon nie aan sy ronde agterkant gewoond raak nie. Maar die voor- en agter-ligte laat hom modern lyk, met groot wiele en silwer aksente wat hom daai “ja, jy kan met my grondpad ry” instelling gee.

Renault se nuutste speelding sal beslis meer voorstedelike paaie verower, en hy voltooi dié opdrag met gemak. Sy veringstelsel is effens sag ingestel, wat beteken dat Koleos die slaggate sal ignoreer en en liewers spoedbulte wil vermy. Hy hou ook nie baie van vinnige draaie nie, maar die positiewe kant is dat Koleos ‘n uiters gemaklike gesinsmotor is.

Nee jong, as jy by die verkeersligte resies wil speel, is dit die verkeerde motor. Sy 2.5 liter 16-klep in-lyn 4-silinder petrol enjin gee jou 126kW (171pk) en 226Nm om mee te speel, maar sy verrigting bly aan die normale kant van dinge.

Nog beter (en meer plesierig) is die enjin se kragontwikkeling, wat toon dat hy aan die nuwe verstelbare klep-meganisme groep behoort. Omdat dit ‘n ietwat gróót 4-silinder petrol is, sal jy meer as genoeg wringkrag of trekkrag by enige toere vind. Die Koleos het geen problem met lae toere nie en sal speel-speel in vyfde of sesde rat by 1000rpm versnel.

Sit die handige ratskakelaar ‘n paar nommers terug en die enjin wys sy ander kant; dié wat hou van hoë toere en seepgladde versnelling. Die oorskakel van lae enjinspoed tot toerebeperker is uitstekend glad, klink nie te sleg nie, en dit voel asof die enjin nog hoër kan draai as hy in sy 6 500 rpm-beperker vasloop.

Dit maak die Koleos nog steeds nie ‘n sportmotor nie, maar gee die word “sport” in sportnutsvoertuig ‘n plesierige indruk. As jy nie te dikwels voet neer sit nie sal die Renault ook spaarsaam op brandstof wees met ‘n gemiddelde verbruik van 10 l/100km of beter.

Sy beste kant wys die Koleos in sy veelsydige binneruim, waar mens die sitplekke op talle maniere kan verander, hope inkopies kan wegsteek, of maklik ‘n paar kinders met sporttoerusting inpas. Slaan een of twee sitplekke plat en Pa kan oorboord gaan in die houtafdeling van die hardeware winkel.

Die agterste deur vou in twee dele oop wat jou (nes ‘n Range Rover) met sy onderste deel ‘n klein sitbank bied om kleinboet se rugby wedstryd te geniet. Die kattebak het ook ‘n verstelbare deksel en onder sy vloer wag daar ‘n volle spaarwiel vir jou.

Die bestuurder en voorste passasier sal gemaklike “meubels” en hope toerusting as standaardtoerusting vind. Kragstuur, spoedbeheer, elektriese vensters en spieëls, sentraalsluitstelsel, radio met mp3 CD speler en AUX-bus, en lugversorging is net ‘n paar van die Koleos se gerieflikhede.

Op die stuurwiel sal mens ook ekstra bedienknoppies vir die klankstelsel vind wat tussen modusse skakel, die stasie / liedjie verander, of volume verander. Dié “gereedskap” het vinnig ‘n gunsteling by my geword omdat die hoof-klankstel nie ‘n volume draaiknoppie het nie.

Veiligheid is ook hoog op die lys met talle lugsakke, hoogte-verstelbare hoofligte, sluitweer-remstelsel (ABS), wieltol- en stabiliteits-beheer. Soos al genoem is die stuur en pedale baie maklik om te beheer, en die remme het ‘n harde toets baie goed voltooi.

Is die Renault Koleos ‘n goeie vier-by-vier? Emm, ek’s nie te seker nie maar hy’s baie gemaklik op grondpaaie. Is hy net nóg ‘n klein SUV? Beslis, maar hy gee jou nog ‘n (goeie) keuse as jy in die mark is vir so ‘n motor. Haal N$320 000 uit jou sak en Renault sal jou ook ‘n 3 jaar 100 000km waarborg en 5 jaar 60 000km diensplan gee.


Image Gallery

Leave a Comment