Padtoets: 2009 Volvo XC60 AWD 3.0T

Die slim Swede

As ‘n mens van veilige gesinsmotors praat sal dit nie lank vat voordat iemand die handelsmerk Volvo noem nie. Dié vervaardiger geniet ‘n trotse geskiedenis propvol motors wat goeie kwaliteit met veiligheid en verrigting gekombineer het.

Nie alle Volvo produkte kon as opwindend of modern beskryf word, maar onlangs het die Swede ‘n paar nuwe modelle bekendgestel wat beslis hierdie persepsie sal verander. Nes klankstelsels en meubels van die koue Skandinawiese land word die hele nuwe Volvo-reeks met ‘n versameling van hoogsmoderne stilering en fantastiese tegnologie in die vertoonlokale uitgestal.

Die XC60 is geen uitsondering nie en wys die opwindende rigting wat sy vervaardiger nou volg. Boonop is hy een van die nuwe generasie van kleiner sportnuutsvoertuie wat beslis nie bang is nie vir sand- of veld-ry nie, maar jou minder skuldig sal laat voel as jy hom hoofsaaklik net in die dorp gebruik; en ook by die vulstasie.

Vir jonger motorentoesiaste wek die naam Volvo gedagtes aan vyf-silinder enjins; ook van vuurwarm turbo-aangejaagde verrigting. Dus moes ek ‘n groot glimglag wegsteek toe die sleutel van die XC60 3.0T aan my oorhandig is met die waarskuwing dat daar ses silinders en ‘n turbo onder sy enjinkap sit.

Die nuwe resep van kragbronne bou is ook in Duitse vervaardigers se boeke, en kombineer seepgladde verrigting met asemrowende wringkrag en beter brandstofverbruik; dit is as jy soos ‘n respekvolle volwasse ry. Sit voet neer en die XC60 sal sy 210kW (286pk) en 400Nm deur ‘n 6-spoed outomatiese ratkas jaag om jou in 7.5 sekondes tot 100km/h te laat versnel, en die naald uiteindelik by 210km/h laat draai.

Ek het sy topsnelheid nie getoets nie slegs omdat dit hoogs onwettig is. En as jy gedurig voet neer sit, sal hierdie XC60 nie minder nie as 17 liter 95 loodvry per 100km in baie opwindende verrigting (en klanke) verander. Die meer aanvaarbare syfer van 8.5 L/100km op die langpad beteken dat jy ‘n gemiddeld van omtrent 12 l/100km kan verwag.

Mens sal XC60 se effens dors maniere op stedelike paaie vinnig vergewe, weens die goeie verrigting wat jou by enige toere in die vreemde sitplek druk. Die ratte kan ook per hand geskakel word, maar ek het vinnig agtergekom dat die outomatiese ratkas dit baie beter kan doen as ek. Hy weet presies waneer die enjin se krag ontvou word, en wissel sy ratte baie gladder as jy hom uitlos. dit gee jou ook tyd om ontspanne in die XC60 se binneruim rond te kyk, wat meer soos ‘n cocktail bar as ‘n motor s’n lyk. Dele van die vreemd gevormde sitplekke en groot oppervlakke van die deure is in hierdie motor baie, baie geel, wat ‘n sterk kontras tot die swart leer in die res van die motor is.

Die middel van die konsole is vinger-dun en sweef met ligte houtwerk en silwer aksente onder toe. Op pad na die ratskakelaar sal jy kontroles en knoppies vir die 6-CD/mp3 premium klankstelsel, klimaatbeheer, en ten minste ‘n halwe dosyn veiligheidstelsels vind.

Hier beland ons nou by die belangrikste deel van die artikel, die XC60 se hoogs indrukwekkende veiligheidstoerusting. Glo my, as jy van Star Trek hou, sal jy geen ander motor wil besit nie! Hou jy van Radar-geleide spoedbeheer? Druk ‘n paar knoppies op die stuurwiel terwyl jy Kaap toe ry, en die Volvo sal by die motor voor jou se spoed aanpas. Jy kan die afstand ook verstel, maar die kortste stelling laat nog steeds genoeg spasie vir ‘n GTi, ‘n dubbelkajuit bakkie van Gobabis, en twee minibus taxi’s.

Selfs as jy die spoedbeheer nie gebruik nie, sal die XC60 jou met rooi liggies in die windskerm waarsku dat jy te naby aan die voertuig voor jou kom. Hy begin sy liggies flikker en maak ‘n geraas as dinge baie benoud raak, maar gelukkig kan jy die sisteem ook afskakel. Op ‘n alledaagse N2 roete werk toe sou die liggies en geraas nooit ophou nie!

Dan is daar nog die nuutste sisteem, genoem City Safety. Hy gebruik óók die XC60 se Radar en sal brieke trap as hy onder 30km/h ‘n potensieële botsing raaksien. Nes die topsnelheid het ek hierdie stelsel nie getoets nie, hoofsaaklik omdat ek tans nie
N$515 000 in my sak het nie.

Ons senior joernalis kon wel hierdie sisteem op die XC60 se bekendstelling toets, en vertel hoe die voertuig werklik vir ‘n (ietwat sagter) voertuig raakgesien en ankers gegooi het. Die XC60 kan jou waarsku as daar ‘n voertuig in jou spieëls se blinde hoek sit, en skree jou wakker as jy sonder flikkerlig oor wit (of geel) lyne ry.

Ek hoef julle seker nie te vertel nie dat hy die “normaale” toerusting soos ABS remme, wieltolbeheer, lugsakke, (uitstekende) aktiewe Xenon hoofligte, sentraalsluiting (met inteligente sleutel), en hope meer toerustig het? Dit maak die Volvo XC60 maklik een van mees indrukwekkende voertuie wat ek onlangs getoets het.


Image Gallery

Leave a Comment